The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 9 No 3 - Junie 1993

(incorporating Museum Review)

DIE SLUIPOORLOG IN SUID-AFRIKA EN CHINA

deur C de Jong

In die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902), het na die tydperk van die gereëlde oorlog van 'pitched battles' die ongereëlde oorlog, ook 'guerilla' en sluipoorlog genoem, gevolg. Die sluipoorlog is gekenmerk deur verrassingsaanvalle op klein skaal, gevolg deur terugtrekkende bewegings van die aanvallers om hulle ongrypbaar te maak. Die doel is om die besettende vyand nit te put en te demoraliseer, totdat by pad gee. Die Britse leerleiding het op die guerilla van die Boere gereageer met maatreëis wat standaardoptrede teen sluipoorlog geword het. Die eerste maatreël is die oprigting van lang draadheinings met op gereëlde afstande blokhuise om die gevegsgebied af te paal en deur dryfjagte die sluipvegters teen die heinings vas te keer en te vernietig. Die tweede maatreël is die verwydering van die inheemse bevolking wat van hulp aan die sluipvegters verdink word, die byeenbring van hulle in bewaakte dorpe of kampe, konsentrasiekampe genoem, en die vernietiging van huise, skure, gereedskap, oeste en vee om die gebruik daarvan deur sluipvegters te belet.

Die konsentrasiekampe is geen uitvinding van opperbevelhebber Kitchener nie, hulle is reeds toegepas deur die Spaanse generaal Weyler in sy stryd teen guerillastryders op Kuba in 1894-98. Hy het sukses daarmee behaal totdat die Verenigde State in 1898 Kuba van die Spanjaarde afgeneem het.

Die afpaling van die gevegsgebied met draadheinings en blokhuise is slegs doeltreffend indien die sluipvegters pantservoertuie wat heinings kan platry, en kanonne wat blokhuise en treine kan platskiet, ontbeer. Die Boere het in die sluipoorlog geen pantserkarre en kanonne gehad nie. Die Britse maatreëls is volledig of gedeeltelik ook in ander lande toegepas, onder meer in China teen die kommuniste, op grotere skaal as in Suid-Afrika. Die maatreëls het 'n beslissende wending in die stryd van die Kuomintang-regering onder Chiang Kai-shek teen die kommuniste onder Mao Tse-tung gebring. Die stryd word in vier tydperke verdeel:

1. Die stryd in Suidoos-China in dele van die provinsies Hunan, Kiangsi en Fukien, 1928-1934. 2. Die Lang Mars van die kommunistiese stryders onder leiding van Mao van Suidoos-China na Noord-wes-China, 18 Oktober 1934 tot Oktober 1935. 3. Die stryd van 'n onwillige bondgenootskap van die Kuomintang en die Chinese kommuniste teen die Japanese invallers, 1937-45. 4. Die hervatte stryd tussen die Kuomintang en die kommuniste na die aftog van die Japanners in 1945, wat met die verdrywing van die Kuomintang en Chiang Kai-shek uit China na Taiwan, 1945-49 eindig.

In 1926 het die kommuniste onder Mao 'n stewige bolwerk in Suidoos-China gevestig. Haswell beskryf die gebied soos volg: 'Militarily this is difficult country. Ridge after ridge of densely forested hills, slashed by deep gorges, watered by mountain torrents, rise mistily to lofty plateaux and peaks often hidden by banks of fog and cloud. All movement, by narrow tracks and terrifying rope or chain bridges slung from one cliff to another, is hazardous...'(1)

In hierdie gebied het Mao begin om die kommunistiese volksleër of milisie te organiseer en om uitvalle te onderneem. Sy handboek was die werk van die militêre deskundige Sun Tzu uit die 4de eeu voor Christus, Die kuns van die oorlog. Mao het die beginsels van die sluipoorlog van Sun Tzu geleer en self ook 'n werk daaroor geskryf. Haswell haal 'n paar beginsels van Sun Tzu aan: 'Attack cities only when there is no alternative' (p 179); '. . . all warfare must be based on deception and, when capable, feign incapacity; when active, inactivity. When near, make it appear that you are far away; when far away, that you are near.'(2) Inderdaad het Mao geleer dat aanvalle deur sy volksleër op stede verliesryke mislukkings was. Haswell se beskrywing van die landskap in Suidoos-China en van Sun Tzu se beginsels wek by ons bekende herinneringe aan die sluipoorlog in Suid-Afrika in 1900-02 op.

Die Kuomintang is deur die kommuniste se optrede opgeskrik, en het in 1930-34 vyf veldtogte teen hulle in Suidoos-China onderneem. Eers die vyfde was suksesvol, veral te danke aan die bekwame militêr Chiang Kai-shek. 'Chiang Kai-shek had adopted a policy of encirclement and suppression, literally walling them in, physically, with a system of thousands of mutually-supporting blockhouses and hundreds of miles of trenches; on the same principles, but far greater scale, as the British operations in South Africa. Any communist attempt to force a way out of the "encirclement" was broken up by aircraft, artillery and the cross-fire from the blockhouses.'(2)

Haswell berig niks oor konsentrasie van die nie-stedelike bevolking in bewaakte dorpe of konsentrasiekampe, soos elders, onder meer deur die Britte in Suid-Afrika toegepas is, nie. Ek vermoed dat dit buite die mag van die teenstanders van die kommuniste in China geval het om die bevolking weg te voer, te huisves en in kampe te onderhou. Die alternatief was om die bevolking uit te roei. Dit is in 1937-45 deur die Japanners gedoen soos ons hieronder sal berig. Haswell het ook die Anglo-Boere oorlog deeglik bestudeer. Die kommuniste in Suidoos-China het netsomin as die Boere pantserkarre en geskut gehad om hulle teen draadheinings en blokhuise te verweer nie. Die Britte het tydens die gereëlde oorlog in Suid-Afrika lugballons vir verkenning gebruik, maar nie tydens die sluipoorlog nie. Chiang Kai-shek het in die teensluipoorlog 'n veel doeltreffender lugwapen gebruik: die vliegtuig, wat die guerillastryders kon opspoor, beskiet en bombardeer.

In Oktober 1934 was daar vir die gebroke en gedesorganiseerde volksleër van Mao Tse-Tung nog slegs een pad oop: die vlug na die weste. Sy vlug herinner my aan die trek van die Boerekommando's na die Kaapkolonie toe die stryd in die republieke vir hulle baie moeilik geword het.

Mao het die oorblyfsel van sy volksleer versamel en op 18 Oktober 1934 die epiese Lang Mars van Suidoos-China na Noordwes-China, buite bereik van Kuomintang, begin. Dit was 'n trek van 9 600 km oor 'n tydperk van 12 maande. Oor die eerste 1 000 km is hulle deur troepe van Chiang Kai-shek agtervolg. Dit was 'n mars vol ontberinge en gevare met besondere deursettingsvermoe volbring. Dit was 'n grotere prestasie as die indrukwekkende terugtog van die 10 000 Grieke in 402-400 vC, wat boeiend deur Xenophon beskryf is. Van die 100 000 manskappe met afhanklikes met wie Mao uit Suidoos-China vertrek het, het slegs 20 000 in die bergland van Shensi in Noordwes-China aangekom: 80 000 het onderweg agtergebly en/of omgekom.

Na die Lang Mars het die kommuniste hulle in Shensi herstel, gereorganiseer en hul invloed deur propaganda en aksie aansienlik uitgebrei. Hulle het daar 'n ander vyand ontmoet, die Japanners wat vanaf 1934 groot dele van China verower het. Kommuniste en Kuomintang het bondgenote teen die Japanners geword, maar hul optrede teen die Japanners in 1935-1945 was minder aktief as wat voorgekom het. Vermoedelik het die onwillige bondgenote hul kragte vir die hervatting van die stryd teen mekaar na die verwagte aftog van die Japanners gespaar.

Aangespoor deur die Kuomintang het die kommuniste in die somer van 1940 op beskeie skaal vanuit Shensi sluipoorlog teen die Japanners in Noord-China geopen. Die reaksie van die Japanners was buitegewoon fel en het Mao se sluipoorlog grotendeels beëindig. 'The Japanese General Tada Hadao, commanding the North China Area Army, had taken up anti-guerilla operations more or less from the point where Chiang Kai-shek had left them when the communists started off on the Long March. General Tada's "cage policy" was merely a very effective extension of Chiang's encirclement and suppression.'(4) Mao het in 1940 'n veldtog van drie maande teen die Japanners gevoer en sukses behaal, die kommuniste het groot verliese gely en hul offensief nie herhaal nie. Die burgeroorlog in China 1928-49, bied interessante stof vir vergelyking met die Tweede Anglo-Boereoorlog aan.

Verwysings

1. Jock Haswell, The Citizen Army (Peter Davies, Londen, 1973), p 175.

2. Haswell, The Citizen Army, P 180. Hy begin sy hoofstuk oor die kommunistiese volksleër in China, 'The East is red', op p 164 met 'n nugtere aanhaling uit Sun Tzu: 'The joy of battle lies in a full belly and prospects of reward rather than any other incentive.' Die Chinese het nooit die behae in oorlog geskep wat Japanners en Europeërs gedoen het nie.

3. Haswell, The Citizen Army, p 180. Hy bespreek die Tweede Anglo-Boereoorlog op pp 121-42. Hy wei nie uit oor die samestelling van die Kuomintangleer nie, maar ek lei af dat daarin meer opgeleide beroepsoffisiere was as in die volksleër van Mao en dat dit in mindere mate 'n volksleër was.

4. Haswell, The Citizen Army, p 187.

Return to Journal Index OR Society's Home page


South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org