The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 9 No 3 - Junie 1993

(incorporating Museum Review)

'N OORSIG VAN DIE MILITÊRE FORTIFIKASIES VAN PRETORIA (1880-1902)

deur A Meyer & Anton C van Vollenhoven

Abstract
Little is known about the military fortifications of Pretoria. Archaeological research on the sites of these fortfications is therefore necessary. First, however it was necessary to obtain the background history of the British fortifications of the two Anglo-Boer wars, and the Boer forts of the Second Anglo-Boer War. This article is an overview of the most important facts that were uncovered during this research.

Opsomming
Inligting oor die militêre fortifikasies van Pretoria is beperk. Daarom is dit nodig dat argeologiese navorsing op die terreine van die fortifikasies gedoen word. Alvorens dit kon plaasvind moes die agtergrondsgeskiedenis van die Britse fortifikasies uit die twee Anglo-Boereoorloë, sowel as van die vier Boereforte van die Tweede Anglo-Boereoorlog, nagevors word. Hierdie artikel is slegs 'n oorsig van die belangrikste feite wat tydens navorsing in die verband aan die lig gekom het.

Inleiding
Inligting oor die militêre fortifikasies van die twee Anglo-Boereoorloë rondom Pretoria is baie beperk. Dit is veral waar wat die fortifikasies van die Tweede Anglo-Boereoorlog aanbetref. Dit is slegs die werk van Ploeger en Botha(1) wat van redelike groot omvang is. Hierdie werk lê egter klem op Fort Klapperkop, sodat weinig aandag aan ander fortifikasies gegee word, trouens, dit gee slegs 'n kort oorsig van die ander drie Boereforte. Geen ander werk handel oor die Britse fortifikasies uit die oorlog nie. Ander literatuur wat oor die Tweede Anglo-Boereoorlog handel, meld slegs die fortifikasies of sluit dit geheel en al uit. Die rede hiervoor is die oënskynlik onbelangrike rol wat die fortifikasies tydens die oorlog vervul het.

Werke wat oor die Eerste Anglo-Boereoorlog handel, het meer inligting oor die tydgenootlike fortifikasies gehad. Dit is veral werke van Lady Bellairs, J E H Grobler en J Nixon(2) wat inligting hieroor beskik. Baie inligting het egter steeds kortgekom.

Inligting is ook in koerante en tydskrifte, sowel as ongepubliseerde brokkies inligting uit verskeie oorde, opgespoor. Hierdie inligting was dikwels weinig meer as die reeds bekende feite. Waardevolle inligting is van foto's, kaarte en argivale dokumente verkry. Tog moet dit genoem word dat argivale inligting oor die fortifikasies van Pretoria baie beperk is.

Doelstelling
Die doel van die studie was om 'n opname van die histories-argeologiese militêre fortifikasies binne die munisipale grense van Pretoria te maak. Die rede waarom daar slegs binne die munisipale grense van die stad gewerk word, is omdat hierdie fortifikasies direk tot die verdediging van Pretoria bygedra het. Ander fortifikasies naby Pretoria was deel van die blokhuislinies en het'n ander oogmerk gehad.

Voorts is daar besondere aandag aan Fort Daspoortrand binne hierdie konteks gegee omdat dit so 'n unieke argitektoniese struktuur is.

Metode
Alle inligting in brosjures, kaarte, planne, argivale dokumente, artikels, boeke, foto's, opinies ensovoorts wat opgespoor kon word, is bestudeer om die geskiedenis van Pretoria se fortifikasies so volledig en objektief moontlik te rekonstruëer. Terreine is besoek om die toestand van die oorblyfsels van die fortifikasies vas te stel en om die moontlikheid vir verdere studie te ondersoek. By Fort Daspoortrand is daar opgrawings gedoen ten einde te help met die opstel van 'n grondplan van dié fort.


Photo 1

Die indrukwekkende ingang van Fort Daspoortrand
(Foto: F T Dreyer)


Fortifikasies van die Eerste Anglo-Boereoorlog
Op 12 April 1877 is die Zuid-Afrikaansche Republiek deur Brittanje geannekseer.(3) Dit sou egter tot Desember 1880 duur voordat oorlog sou uitbreek.(4) 'n Aantal dorpe, waaronder Pretoria, is deur Boeremagte beleër.(5) Hierdie beleg sou eers na die vredesluiting, naamlik op 28 Maart 1881 opgehef word.(6) Die aangehaalde bronne kan vir meer inligting oor die aanloop en verloop van die oorlog geraadpleeg word.

Pretoria gedurende die beleg
Op 21 Desember 1880 is krygswet in die hoofstad afgekondig. Die dorp is ontruim en alle inwoners is in die militêre kampe gehuisves.(7) Soldate het hulle hutte hiervoor ontruim en moes in tente bly.(8)

Voedsel is gerantsoeneer en water is met waterkarre aangery. Water is met die Apiesrivier aangelê en 'n put is in die klooster gesink.(9) Die tronk en klooster is ingerig om mense te akkommodeer. Pretoria is op 'n beleg van drie maande voorberei, 'n berekening wat deur kolonel Bellairs, die bevelvoerder van die Britse magte in Transvaal, gemaak is. Genoeg proviand en ander benodigdhede is vir hierdie tydperk opgeberg.(10)

Alle wapens, buskruit en ammunisie is na die sentrale magasyn geneem. (11) Skanse is in die dorp opgerig, loopgrawe is op kerkplein uitgesteek en strate is versper. (12) Teen 21 Desember 1880 was die voorbereidings op 'n beleg voltooi en word dit as die dag gesien waarop die beleg begin het.

'n Klokreël is aanvanklik ingestel, hoewel dit later verslap is sodat winkels en skole vir kort tye daagliks kon open. Die belangrikste aktiwiteit tydens die beleg was om wagdiens te verrig. 'n Aantal fortifikasies is ook opgerig.(13) Die Boere het die dorp met sowat 800-1 000 man beleër.(14) Daar was agt Boerelaers rondom die stad, waarvan die belangrikste by Doornkloof (Irene), Zwartkopje, Elandsfontein en Wonderboompoort was.(15) Skermutselings het van tyd tot tyd plaasgevind. Noemenswaardige gevegte was die op 6 Januarie 1881 by Zwartkopje,(16) op l7 Januarie oos van Pretoria (17), by Elandsfontein op 18 Januarie(18) en by Rooihuiskraal op 12 Februarie.(19)

Hoewel vrede reeds op 21 Maart 1881 gesluit is, het berig hieroor Pretoria eers op 28 Maart bereik. Die beleg van Pretoria is na 98 dae beëindig.(20)


Photo 2

Pretoria tydens die beleg (1880-1881)
(Foto: L Bellairs
The Transvaal War 1880-1881, p 1)


Fortifikasies tydens die beleg van Pretoria

Die militêre kamp
Die militêre kamp is versterk om as hooffortifikasie te dien. Dit was geleë waar die huidige verdedigingshoofkwartier is en het bestaan uit 'n aantal hutte, wat deur middel van mure, slote en skanse verbind was. Draadheinings en -versperrings is ook opgerig. Tente is opgeslaan en 'n kruitmagasyn is as uitkykpos ingerig.(21)

Die grofgeskut waaroor die Britte beskik het, was 'n verouderde mitrallieuse, vier klein vierponder Kruppkanonne en 'n drieponder Whitworth, wat vroeër aan die ZAR behoort het.(22) Britse kanonne was twee nege-ponders, 'n seweponder en 'n seinkanon.(23)

Die tronklaer
Die tronkgebou, wat oos van die huidige munt gelee was, is met versperrings en sandsakke in 'n vesting omskep.(24) 'n Muur is rondom die tronk gebou en 'n sandsakskuiling is op die dak gebou.(25) 'n Bastion is aan die suidoostekant opgerig en 'n vierponder Kruppkanon is hierop geplaas. Die tronklaer is deur die Transvaal Artillery Corps beman.(26)

Die Convent Redoubt
Die klooster was geleë waar die munt vandag is. Die mure is van skietgate voorsien en die Transvaal Artillery Corps het dit beman. Die spasie tussen die Convent Redoubt en die tronk is as 'n kamp ingerig.(28)

Fort Royal
Fort Royal was die grootste fortifikasie in Pretoria gedurende die beleg. Bouwerk daaraan het op 4 Desember 1880 begin en dit is op 18 Desember voltooi. Dit was min of meer op die suidwestelike hoek van die huidige Paul Kruger en Jacob Maréstrate gelee.(29)

Dit het bestaan uit grondmure met sandsakke bo-op en 'n diep sloot rondom. 'n Vierponder Kruppkanon is in die fort geplaas en die 94ste Regiment onder aanvoering van kaptein Campbell is hier gestasioneer. Die doel van die fort was om die suidelike toegang tot die stad te bewaak.(30)

Fort Commeline
Hierdie klein, ruwe klipfort is in Desember 1880 op Magasynheuwel, suid van die militêre kamp, gebou.(31) Van hier af was daar 'n goeie uitsig oor die omliggende gebied en kon die Boere verhoed word om die bergreeks, suid van Pretoria, te beset.(32) Die fort is met grond en sandsakke versterk en 'n vierponder Kruppkanon is vir artillerieverdediging daar geplaas. Vyf-en-twintig man van die Royal Scots Fusiliers het die fort beman.(33)

'n Taklaer en draadversperrings is rondom die fort opgerig ten einde dit verder te versterk. Fakkels en strikke is gestel om naderende vyande te verras. Die fort is ook as seinstasie gebruik.(34) Proviand vir drie weke is aan die soldate uitgereik. Die naam van die fort is afkomstig van luitenant Charles Ernest Commeline, die ingenieur wat aan die hoof van die span wat die forte bebou het, gestaan het.(35)

Vandag is daar net ruines op Magasynheuwel oor. Omdat daar ook tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog hier 'n fort gebou is, is dit nie moontlik om op die oog af te bepaal of daar nog oorblyfsels van Fort Commeline bestaan nie.(36) Dit sal moontlik deur middel van argeologiese opgrawings bepaal kan word.

Fort Tullichewan
Fort Tullichewan is in Desember 1880 op Salvokop gebou en was ook 'n ruwe klipfort wat met grond en sandsakke versterk is.(37) 'n Taklaer, draadversperrings, fakkels en strikke het die verdediging van die fort voltooi.(38) Dit het 'n goeie uitsig oor die omgewing gebied en het daarom ook as seinstasie gedien. Die primêre taak was om die Apiesrivier, wat water aan die militêre kamp verskaf het, te beskerm.(39)

'n Vierponder Kruppkanon is hier geplaas en vyf-en-twintig man van die Royal Scots Fusiliers het die fort beman. Elke man is met proviand vir drie weke uitgereik.(40) Die fort is na die Skotse kasteel van die skoonvader van luitenant-generaal Gildea, die bevelvoerder van Pretoria se garnisoen, vernoem.(41) Op 17 Januarie 1881 word vuur vanuit Fort Tullichewan op Boere wat vee probeer buit, gelewer.(42)


Photo 3

Die ruïne van Fort Tullichewan
(Foto: F T Dreyer)


B Thomson het 'n grondplan van die fort geteken. Die plan verskil van die oorspronklike plan wat in die Britse argief gevind is.(43) 'n Argeologiese ondersoek van die oorblyfsels van die fort is nodig sodat lig op die teenstrydigheid gewerp kan word.

Blokhuise
'n Aantal blokhuise is ook tydens die beleg van Pretoria opgerig. 'n Blokhuis wat twee-en-dertig man kon huisves is by die militêre kamp opgerig. Dit het as die South Poort Blockhouse bekend gestaan.(44) Daar is ook sprake van 'n buitepos op Klapperkop maar geen verdere inligting is hieroor bekend nie.

'n Blokhuis vir 120 man is aan die noordwestekant van die militêre kamp opgerig. Ook hieroor bestaan daar geen verdere inligting nie.(45) By die Eloff-deurgrawing, bokant die Hoërskool Langenhoven, is daar ook 'n blokhuis opgerig.(46) Dit is die enigste blokhuis uit die Eerste Anglo-Boereoorlog waarvan die fondasies nog bestaan. Hierdie oorblyfsels kan ook argeologies ondersoek word ten einde meer daaroor vas te stel.


Photo 4

Fondasie van die blokhuis by die Eloff-deurgrawing
(Foto: F T Dreyer)


Fortifikasies van die Tweede Anglo-Boereoorlog

Boereforte
Die belangrikste rede wat aanleiding gegee het tot die bou van forte deur die regering van die ZAR was die Jameson-inval van 1895/6.(47) Hoewel die invallers met gemak gestuit is, was onrus aan die toeneem onder die Uitlanders aan die Rand.(48) Daar was ook planne om Pretoria te verower.(49) Spioenasiekaarte van die stad is in die trommel van 'n Britse spioen gevind.(50)

'n Verdegigingsplan vir Pretoria is deur 'n voormalige Franse artillerie-offisier, Leon Grunberg, opgestel. Dit is op 24 Maart 1896 deur die Uitvoerende Raad goedgekeur.(51) Agt strategiese punte rondom die stad moes gefortifiseer word deur middel van gepantserde draaibare koepeltorings, wat van geskut voorsien moes word. Die plekke wat hiervoor uitgesonder is, is Schanskop, Kwaggaspoort, Daspoortrand, Magaliesberg-wes, Wonderboompoort, Derdepoort, Strubenkop en Klapperkop.(52) Die koepeltorings is onaanvaarbaar gevind, en die plan van twee Duitse ingenieurs, Otto Albert Adolph von Dewitz en Heinrich C Werner om forte te bou, is aanvaar.(53) Vanweë 'n geldtekort is slegs vier forte voltooi.

Fort Schanskop
Hierdie fort is teen 'n koste van 47 500 Britse Pond deur Von Dewitz en Werner opgerig.(55) Dit is in April 1897 voltooi en was toegerus met elektriese bedrading en soekligte. 'n Telefoon is ook geïnstalleer. Water is vanuit die Fonteinedal na die fort gepomp.(56)


Photo 5

Fort Schanskop tydens die Britse besetting daarvan
(Foto: TAB Foto 385)


Die garnisoen van die fort het aanvanklik uit 'n offisier en 30 man bestaan, maar dit is algaande verminder totdat daar op 5 Junie 1900, die dag toe die Britse magte Pretoria ingeneem het, slegs een man in die fort oor was.(57) Fort Schanskop was bewapen met 37 mm Maxim-Nordenfeldt snelmurkanonne, Martini-Henry handmaxims en 'n 75 mm Creusotkanon (Long Tom).(58) Die wapens is ook geleidelik verwyder totdat die fort totaal onbewapen was.

Fort Wonderboompoort
Fort Wonderboompoort is in September 1897 teen 'n koste van 49 000 Briste Pond(70) deur Von Dewitz en Werner voltooi.(59) 'n Telefoon en elektrisiteit is hier geïnstalleer. Water is vanuit die Apiesrivier na die fort toe gepomp.(60)


Photo 6

Fort Wonderboompoort vandag
(Foto: F T Dreyer)


Op 23 Oktober 1899 was daar agttien man in die fort gestasioneer. Die bemanning is geleidelik onttrek, totdat die fort op 5 Junie 1900 deur slegs een persoon beman is.(61) Wapens wat in die fort geplaas is, was 'n 75 mm Creusotkanon (Long Tom), 'n 37 mm Maxim-Nordenfeldt en 'n Martin-Henry handmaxim.(62) Ook dié is stelselmatig verwyder.

Fort Klapperkop
Die maatskappy van Von Dewitt en Werner het hierdie fort teen 'n koste van 50 000 Britse Pond opgerig. Dit is in Januarie 1898 voltooi.(63) 'n Telefoon en elektrisiteit is in die fort geïstalleer. Water is vanuit die Fonteinedal na die fort gepomp.(64) 'n Grag is rondom Fort Klapperkop gegrawe ten einde dit te beveilig. Dit is van 'n valbrug voorsien om verkeer oor die grag moontlik te maak.(63) Die grag, wat die unieke eienskap van Fort Klapperkop is, het nooit water gehou nie.


Photo 7

Fort Klapperkop tydens die Britse besetting daarvan
(Foto: T E Versameling)


Die garnisoen van die fort het aanvanklik 30 man getel, maar dit is ook geleidelik verminder, soos die geval met die ander forte was.(66) Die fort is met 'n 75 mm Creusotkanon (Long Tom), 'n 37 mm Maxim-Nordenfeldt, Martini-Henry handmaxims en 'n 65 mm Kruppbergkanon bewapen. Ook hierdie fort is stelselmatig ontwapen.(67)

Fort Daspoortrand
Anders as die ander drie forte, is hierdie fort deur Leon Grunberg en Sam Leon opgerig.(68) Dit is om hierdie rede dat Fort Daspoortrand 'n ander planform vertoon. Waar die drie Duitse forte van die vyfhoekige versterkingstipe is, is die Franse fort seskantig.(69) Dit is ook groter as die ander forte. Die fort is in November 1898 teen 'n koste van 46 500 Britse Pond voltooi.(70)

Elektriese beligting en 'n telefoon is daar geïnstalleer. Die fort het ook sy eie waterpompstasie gehad.(71) Fort Daspoortrand is met 'n 75 mm Creusotkanon (Long Tom) en twee 37 mm Maxim-Nordenfeldtkanonne bewapen. Die bemanning van die fort het vyf-en-twintig getel.(72) Teen 5 Junie 1900 was die fort onbewapen en was daar slegs een persoon by die fort gestasioneer.(73)

Die val van Pretoria
Uit die voorafgaande is dit reeds duidelik dat die forte ontwapen is voordat die Britse magte Pretoria ingeneem het. Die grofgeskut en staatsartilleriste van die forte is in die veld benodig en daarom uit die forte onttrek.(74)

Fort Klapperkop en Fort Schanskop is sedert 3 Junie 1900 deur die Britse magte met liddiet bestook, maar die vuur is nie beantwoord nie. Pretoria is sonder slag of stoot op 5 Junie 1900 beset.(75) Die forte het dus geen effektiewe rol in die verdediging van die hoofstad vervul nie. Britse troepe het die vier forte beset en bewapen. (76)

Ander fortifikasies is nou deur die Britte opgerig, ten einde Pretoria te beskerm. Die vier Boereforte het deel van hierdie plan uitgemaak.(77)

Die lotgevalle van die boereforte
Na die oorlog is Fort Klapperkop en Fort Schanskop vir militêre doeleindes behou, maar dit is verwaarloos.(78) Op 8 Julie 1938 is heide tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.(79) Fort Klapperkop is in 1966 gerestoureer en in 'n militêre museum omskep, terwyl dieselfde in 1978 met Fort Schanskop gebeur het.(80)

In Januarie 1905 was daar planne om Fort Wonderboompoort en Fort Daspoortrand in gevangenisse te omskep. Hiervan het niks gekom nie.(81) Beide die forte se dakke is vernietig. Daar word bespiegel dat generaal J C Smuts tydens die Tweede Wêreldoorlog 'n opdrag in die verband uitgereik het.(82) Dit kon nie bevestig word nie.

Fort Wonderboompoort is in 1954 aan die Stadsraad van Pretoria oorgedra. Dit is tydens 1986 opgeruim en in 1987 tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.(83) 'n Aansoek tot die verklaring van Fort Daspoortrand tot ' n nasionale gedenkwaardigheid is reeds in 1988 ingedien, maar dit het nog nie plaasgevind nie. Die grond waarop die fort staan, behoort aan die Staat. 'n Grondplan van die fort is in 1990 as deel van 'n verhandeling oor die forte geteken. 'n Aantal toetsopgrawings is ook daar gedoen.(84)

Britse Fortifikasies
Op 11 Oktober 1899 breek die Tweede Anglo-Boereoorlog uit.(85) Pretoria word op 5 Junie 1900 deur Britse magte beset.(86) Vanaf Junie 1900 is daar met die oprig van blokhuise op strategiese plekke regoor Suid-Afrika begin.(87) Verskillende tipes blokhuise van 'n verskeidenheid boumateriale en groottes is opgerig; bo en behalwe hierdie blokhuislinies is 'n aantal blokhuise naby Pretoria opgerig, met die spesifieke doel om die stad te beskerm. Slegs fortifikasies wat 'n direkte deel van die verdediging van Pretoria uitgemaak het, is in hierdie studie ingesluit. Historiese inligting oor hierdie Britse fortifikasies is uiters beperk.

Die Cable Hill Redoubt


Photo 8

Oorblyfsels van die Cable Hill Redoubt
(Foto: A C van Vollenhoven)


Cable Hill is die tweede koppie wes van Wonderboompoort. Dit is die hoogste punt op daardie gedeelte van die Magaliesberg. Die redoubt is toe ook as seinpos gebruik. Dit is met ruwe klippe gebou en die huidige oorblyfsels op die terrein is in so 'n mate beskadig dat dit moeilik is om op die oog af te bepaal presies hoe die fortifikasie daar uitgesien het.(89) Argeologiese opgrawings kan hierdie probleem oorkom.

Die Johnston Redoubt
Hierdie fortifikasie is op die Meintjieskopbergreeks, op die grond van die huidige staatspresidentswoning, Libertas, geleë. Die doel daarvan was om die oostelike toegang tot Pretoria te help bewaak. Dit verkeer tans in 'n redelik goeie toestand.(90)


Photo 9

Die Johnston Redoubt
(Foto: F T Dreyer)


Die Eastern Redoubt
Die Eastern Redoubt is op Strubenkop opgerig. Dit was 'n redelik groot fortifikasie met minstens twee skiettorings en moes die oostelike toegang tot Pretoria bewaak.(91) Dit is die grootste fortifikasie wat deur die Britte in Pretoria gebou is. Dit is van klip gebou en het 'n sinkdak gehad. Gedeeltes van die mure was ook van sink, met skietgate daarin.(92)


Photo 10

Die enigste sigbare oorblyfsels van die Eastern Redoubt
(Foto: F T Dreyer)


Die struktuur van die redoubt is tot so 'n mate vernietig dat daar vandag slegs 'n enkele klipmuurtjie staan.(93) Die fortifikasie was egter in 1963 nog in 'n redelik goeie toestand.(94) Daarom is dit moontlik dat argeologiese opgrawings dele hiervan kan blootlê.

Die Vesting Redoubt
Hierdie blokhuis staan in Voortrekkerhoogte in Johannes Kochstraat. Dit is op die hoogste punt oos van die militêre gebied opgerig. Dit is 'n agtkantige sinkstruktuur met 'n sinkdak. Dit het 'n dubbele sinkmuur wat met klippe opgevul is. Die raamwerk daarvan is van hout. Die blokhuis is in 1983 tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.(95)


Photo 11

Die Vesting blokhuis
(Foto: A C van Vollenhoven)


Die Magazine Redoubt
Die Magazine Redoubt is op Magasynheuwel, in die omgewing waar Fort Commeline (1880-1881) gestaan het, opgerig. Dit is met die bou van 'n wateropgaardam beskadig. Klipmure en ander oorblyfsels is steeds sigbaar.(96) Hierdie oorblyfsels kan deur middel van argeologiese opgrawings ondersoek word ten einde meer daaroor vas te stel.


Photo 12

Murasies op Magasynheuwel waar Fort Commeline (1880-1881) en die Magazine Redoubt (1900-1902) opgerig was
(Foto: A C van Vollenhoven)


Die Quagga Redoubt
Op die rand wes van Kwaggapoort, het die Britte 'n groot fortifikasie gebou. Die doel daarvan was om die suid-westelike toegang tot Pretoria te bewaak. Die grootte daarvan dui daarop dat 'n groot troepemag hier gehuisves is. Tydens die latere oprigting van 'n waterreservoir is groot dele daarvan vernietig. Oorblyfsels van 'n blokhuis en van kraalvormige mure is steeds sigbaar. Dit wil dus voorkom asof perde of ander vee hier aangehou is.(97) Hierdie moontlikheid kan deur middel van argeologiese opgrawings getoets word.


Photo 13

Oorblyfsels by Kwaggapoort
(Foto: F T Dreyer)


Die Wesfort blokhuis(98)


Photo 14

Murasie van die Wesfort blokhuis
(Foto: F T Dreyer)


Hierdie blokhuis is op die Daspoortrand, oos van Fort Daspoortrand opgerig. Dit is 'n ronde klipstruktuur en het waarskynlik 'n sinkdak gehad. Die ingang daarvan is versteek en dit is deur middel van 'n klippaadjie met die fort verbind.(99) Argeologiese opgrawings behoort interessante gegewens oor die verband tussen die fort en die blokhuis aan die lig te bring.

Die Klapperkop blokhuis
Aan die oostekant van Klapperkop kom daar 'n reghoekige struktuur met twee vertrekke voor. Dit is van klip gebou en moes waarskynlik die pad na Fort Klapperkop toe bewaak.(100) Argeologiese opgrawings kan ook meer lig op die doel hiervan werp.


Photo 15

Ruïne van die Klapperkop blokhuis
(Foto: A C van Vollenhoven)


Ander Britse fortifikasies
Die Howitzer Redoubt is op die koppie agter die huidige Pretoria Boys High School opgerig om die spoorlyn te beskerm. Wes van Kwaggapoort is 'n blokhuis opgerig om die spoorlyn wat daar deurloop te beskerm. Wonderboompoort is deur 'n blokhuis tussen die poort en Cable Hill bewaak. Die Johannesburg Road Redoubt is op die koppie waar Yskor se hoofkwartier vandag staan, gebou. Dit moes die Johannesburgpad bewaak. Die Daspoort is deur die River Redoubt wat daar opgerig is, bewaak. Dit is naby die huidige PPC sementfabriek. Daar was ook 'n blokhuis waar die Uniegebou vandag staan.(101)

'n Blokhuis is in Hillcrest, in die omgewing van Haroldstraat (vroeër bekend as Old Fort Road), gebou. Haroldstraat is tussen Lynnwood- en Duxburyweg, oos van die Universiteit van Pretoria, geleë.(102) Op Muckleneukheuwel is 'n klipblokhuis gebou. Dit was geleë waar Unisa vandag is.(103)

Al die blokhuise in hierdie laaste groep is reeds totaal vernietig.

Samevatting
Die fortifikasies van Pretoria kan in vyf klasse ingedeel word, naamlik:
a. fortifikasies wat vernietig is;
b. fondasies van fortifikasies;
c. murasies van fortifikasies;
d. fortifikasies wat feitlik ongeskonde is en
e. gerestoureerde fortifikasies.

Die ligging daarvan word aangedui op die aangehegde kaart.

Photo 16

Noodwendig kan daar geen argeologiese navorsing oor die eerste groep gedoen word nie. Dokumentere inligting hieroor mag moontlik in die Public Record Office in Londen beskikbaar wees.

Argeologiese navorsing kan by al die ander fortifikasies onderneem word, selfs by die wat reeds gerestoureer is. Daar is nog nooit na strukture in en om die groter forte, wat daarmee verband gehou het, gekyk nie. Waarskynlik is daar nie meer dokumentêre inligting in Suid-Afrika oor enige van die fortifikasies, as dit wat in hierdie studie gebruik is, beskikbaar nie.

Die meeste van die fortifikasies in die tweede groep verkeer in 'n baie swak toestand en solank as wat daar nie behoorlik beheer hieroor uitgeoefen word nie, is dit beter dat dit net so gelaat word. Opgrawings behoort eers plaas te vind as dit seker is dat vandale nie daarna die strukture verder gaan beskadig, soos wat die geval met Fort Wonderboompoort was, nie.

Die enigste vier fortifikasies wat behoorlike beskerming geniet, is die vier in die laaste twee groepe. Die Johnston Redoubt en Vesting blokhuis behoort opgeknap te word, omdat die tande van die tyd dit al agteruit laat gaan het. Die twee Boereforte is ook nie tot 'n spesifieke tydperk gerestoureer nie. Dit kan, na verdere navorsing in die verband, reggestel word.

Daar is legio geleenthede vir veral argeologiese navorsing oor die fortifikasies van Pretoria. Slegs na die voltooiing daarvan sal 'n volledige rekonstruksie van die militêre fortifikasies van Pretoria moontlik wees.

Voetnotas

Bronne
Andrews, T E-versameling: Johannesburg in beroering (1895-1896), Militaria 3(5), 1972 Dae vol spanning in 1895-1896; Die Jameson-inval. Pretoria bedreig, Militaria 3(5), 1972 Die reaksie op die Jameson-inval. Die bou van die Fort te Johannesburg, Militaria 3(5), 1972 Duitse Amptelike Korrespondensie in verband met die Verdediging en Fortebou in die Zuid-Afrikaansche Republiek Britse Blokhuise en -Blokhuislinies in Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog. The Evolution of the Blockhouse system in South Africa
Barnard, C: Semelsoldate bewaak Fort Klapperkop, Die Huisgenoot (1968.04.19)
Behrens, H PH: The Wonderboompoort Fort Fauna en Flora. (g.d.)
Bellairs, L: The Transvaal War 1880-1881 (Faksimilee herdruk)
De Wet, CR: Die Stryd tussen Boer en Brit (vert.JJ Human)
Du Toit Spies, F J: Pretoria in 1880-1881, Pretoriana (80) 1980.11.16
Du Toit Spies, F J: Forte en Verskansings om Pretoria, Pretoriana (16 en 17) 1955.07-1955.09
Du Toit Spies, F J: Bladsye uit die militêre Geskiedenis van Pretoria, in S P Engelbrecht (red.) ea. Pretoria (1855-1955) Geskiedenis van die stad Pretoria
Fort Schanskop militêre museum (brosjure, 1978)
Fort Wynard-versameling: The story of the Pretoria forts. An attempt to Elucidate some mysterious points, The Navy and Army illustrated, 1901.12.28
Grobler, J E H: Die Eerste Vryheidsoorlog 1880-1881, 'n Militêr-historiese benadering (Ongepubliseerde D.Phil. proefskrif, U.P.)
Grobler, J E H: Die beleëring van Britse garnisoene, in F A van Jaarsveld (red.) ca., Die Eerste Vryheidsoorlog. Van Verset en Geweld tot Skikking deur Onderhandeling
Grobler, J E H en Bakkes, C M: Gewelddadige verset teen Britse oorheersing, 1880-1881, in F A van Jaarsveld, (red.) ea., Die Eerste Vryheidsoorlog. Van Verset en Geweld tot Skikking deur Onderhandeling
Grutter, H en van Zyl, D J: The Story of South Africa
Heydenrych, D H: Die Boererepublieke, 1852-1881, in T Cameron en S B Spies (reds.), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld
Holzhausen, R H J: Die ou forte om Pretoria, Kommando (1956.03)
Konyn, P: Holding the Fort. Another effort to save a bit of old Pretoria, Pretoria News, 1974.02.13
Nixon, J: The Complete story of the Transvaal. From the Great Trek to the Convention of London
Pakenham, T: The Boere-oorlog (vert. L Rousseau)
Pakenham, T: Die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, in T Cameron en S B Spies (reds.), Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika in Woord en Beeld
Panagos, D-versameling: West Fort
Panagos, D-versameling: East Fort
Ploeger,J: The Franse militêre ingenieurs L Grunberg en S Leon
Ploeger,J en Botha, H J: Die fortifikasie van Pretoria. Fort Klapperkop gister en vandag
Preller, G S: Ons militêre tradisie, in G S Preller Historiese opstelle
Pretorius, F: 1899-1902 Die Anglo-Boereoorlog
Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, Pretoria: Fort Tullichewan,
Salvokop, Pretoria (pamflet 1980.11.18)
Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, Pretoria: Terrein van Fort Royal, Paul Krugerstraat, Pretoria (pamflet, 1981.03.18)
Restourasiekomitee vir Fort Wonderboompoort, Stadsraad van Pretoria nuusbrief 15(3), 1988.04
Rex, H M: Ligging van Fort Royal, 1880-1881, Pretoriana (81)1981.07
SAW argief: 92, 1749: Fort Klapperkop gister en vandag (brosjure, 1966)
SAW argief, Pretoria: 25: Fort Klapperkop (brosjure, g.d.)
Selby, F: The Boer War A Study in Cowardice and Courage
Scheepers-Strydom, CJ: Spieelbeeld. Oorlog 1899-1902, in P W Grobbelaar (red.), Die Afrikaner en sy Kultuur II
Scott, L: Boereweerstand teen gedwonge Britse bestuur in Transvaal, 1877-1880, in F A van Jaarsveld (red.), ea., Die Eerste Vryheidsoorlog.
Van Verset en Geweld tot Skikking deur Onderhandeling, 1877-1884

TAB, kaart 2/88; Pretoria and Environment, Mines Department - Geological survey of the Transvaal, 1904-1905
TAB, CR 6339/97:1897, pp 7-24
TAB, CR 6339/99: p 34
TAB, 55 6562, R 10020/97: Carlblom - Waarnemende Kommandant Staatsartillerie, 1897.06.24
TAB, CS 829:1900
Thomson, B: The Forts of Pretoria - our vanishing history, Lantern 1989.05
Van der Merwe, J: Niggling mystery of the forts, Pretoria News (1985.10.12)
Van Jaarsveld, F A: Van van Rieheeck tot P W Botha. 'n Inleiding tot die Geskiedenis van die RSA
Van Zyl, A: Fort Daspoortrand, D. Panagos-versameling
Warwick, Pen Spies, SB (reds.): The South African War The Angle-Boer War 1899-1902
Wood, R: Historical forts round city, Pretoria News (1960.10.22)

Return to Journal Index OR Society's Home page


South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org