The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal - Vol 8 No 5

DIE NORTHERN BORDER POLICE
1868-1873

deur Dr Maritz Broodryk

Stigtingsagtergrond

As uitvloeisel van die proses van noordwaartse ekspansie van die Kaapkolonie het Sir Harry Smith in 1847 by wyse van proklamasie die grense van die Kaapkolonie uitgebrei tot aan die Oranjerivier.(1) Dit het die gebied besuide die rivier, die noordelike gedeelte van Namakwaland en Boesmanland (destyds ook bekend as die Achterveld of Trekveld) minstens teoreties onder koloniale beheer gebring. Gevolglik het al hoe meer blanke-en Baster-veeboere dié gebied binnegetrek en legplekke (plase) daar aangelê.(2) Op hierdie wyse het hulle inbreuk gemaak op die gebied waarop die inheemse bevolkingsgroepe van die gebied, die San (Boesmans) en Koranas, aanspraak gemaak het as woonplek en jagveld. Sodoende is hulle tradisionele lewenswyse omvergewerp. Teen hierdie ingryping het hulle gereageer deur die pagters wat dun verspreid in die gebied woonagtig was aan te val en van hul vee te beroof.(3)

Die situasie aan die noordgrens is vererger deurdat die owerheid ten spyte van die anneksasie daarvan in gebreke gebly het om effektiewe beheer oor die gebied uit te oefen en dat daar 'n totale gebrek aan wet en orde in die gebied was.(4) Hierbenewens was daar ook 'n gebrek aan stabiliteit onder die nomadiese inwoners van die gebied, wat slegs gedurende sekere tye van die jaar op hul legplekke woonagtig was en ver van mekaar af gewoon het. Dit het dit vir die San- en Koranabendes maklik gemaak om die kolonie in te dring, vee te roof en dikwels ongesiens en ongehinderd na hul skuilplekke uit te wyk.(5)

Die resultaat was dat onrus in die noordgrensgebied toegeneem het en teen die middel van die sestigerjare van die negentiende eeu was lewe en eiendom in die gebied vanweë die bedreiging van die San en Korana nie meer veilig nie. Veerowery het grootliks toegeneem en die pagters kon dit nie waag om hul eiendom te probeer terugvind nie uit vrees vir hul lewens. Burgerkommando's wat teen die stropers uitgestuur is, het min sukses behaal. Teen 1868 was die San en Koranas vir alle praktiese doeleindes in beheer van die grootste gedeelte van die noordelike grensgebied. Die oorgrote meerderheid van die pagters is gedwing om suidwaarts uit te wyk en groot lappe goeie weiding het ongebruik gelê omdat min pagters bereid was om dit in die gevaargebiede te waag. Klagtes uit bykans alle noordgrensdistrikte het by die owerheid ingestroom en iets drasties sou gedoen moes word.(6)

Totstandkoming

Teen die helfte van 1868 het die situasie in die noordgrensgebied sodanig versleg dat daar in die gebied 'n situasie geheers het wat aan anargie gegrens het. Die Kaapse regering kon die toestand nie langer ignoreer nie. Sonder uitsondering het die resident-magistrate van alle noordgrensdistrikte hulp in die vorm van gewapende mag aangevra, terwyl verskeie petisies met dieselfde strekking die regering bereik het. Oorval met klagtes oor 'n wye front in verband met toestande in die noordgrensgebied, het goewerneur Wodehouse daarvan oortuig geword dat daar onverwyld aandag gegee moes word aan '... the utterly lawless state of the country on the south of the Orange River from Victoria West to the sea' en op 5 Junie 1868 het die uitvoerende gesag besluit om hierdie aangeleentheid aan die Wetgewende Vergadering voor te lê.(7)

Die liggaam het verskeie moontlikhede om die situasie te besweer ondersoek. Uiteindelik het hy besluit dat dit noodsaaklik geword het dat die owerheid sy gesag, beliggaam in die vorm van 'n permanente amptenaar met regsprekende gesag as simbool van wet en orde, in die gebied openbaar. Om aan hierdie amptenaar die nodige magsmiddele te verleen om sy taak uit te voer, sou 'n permanent gewapende mag hom moes vergesel. Aangesien die Frontier Armed and Mounted police nie as geskik vir hierdie taak geag is nie, sou 'n spesiale mag vir die doel geskep moes word.(8)

Die parlement het 'n bedrag van £ 5 000 vir die doel bewillig(9) en twee nuwe wette aangeneem. Die eerste was Wet nommer 27 van 1868, getitel Act for the better protection of her Majesty's Subjects on the Northern Frontier of this Colony, maar algemeen bekend as die Border Protection Act. Dit het 'n nuwe magistraatsdistrik, die Northern Border, uit dele van die afdelings van Namakwaland, Calvinia, Fraserburg, Victoria-Wes en Hopetown geskep. Die grense van hierdie nuwe distrik sou periodiek by wyse van proklamasie vasgestel word. Die wet het ook die amp van 'n rondreisende magistraat, bekend as die Border Magistrate of grensmagistraat, geskep. (10)

By wyse van proklamasie nommer 67 van 1868, het goewerneur Wodehouse die grense van die noordgrensdistrik vasgestel as die hele distrikte Namakwaland, Calvinia, Fraserburg, Victoria-Wes en Hopetown uitgesonderd die vyf dorpe en 'n gebied van 40 km rondom elke dorp.(11) Die gebied wat die grensmagistraat moes bedien was 8 900 vk myl (22 800 vk km) groot en het gestrek vanaf Prieska in die ooste tot by Pella in die weste ('n afstand van ongeveer 400 km) en tot ongeveer 160 km besuide die Oranjerivier.(12)

Wet nommer 29 van 1868, Act for the Organization and Regulation of a Police Force for the Northern Border of the Colony, wat Wet nommer 27 aangevul het, het 'n spesiale polisiemag, die Northern Border Police, in die lewe geroep.(13) Dit sou 'n berede mag wees wat die grensmagistraat moes bystaan in die handhawing van wet en orde in die omvangryke noordgrensgebied.

Maximilian James Jackson, klerk van die resident-magistraat van Murraysburg en in daardie stadium waarnemende magistraat van die afdeling, is as eerste grensmagistraat aangestel. Op 1 Oktober 1868 het hy diens aanvaar.(14) 'n Offisier in die FAMP, subinspekteur William Wright, is deur die regering gesekondeer om die nuwe mag aan te voer. Hy sou bygestaan word deur vyftig manskappe en onderoffisiere.(15)

Jackson en Wright het onmiddelik na hul aanstelling begin om hul ekspedisie na die noordgrens te organiseer. Terwyl toestande in die noordgrensgebied al hoe hagliker geword het, is die vertrek van die Northern Border Police (NBP) egter vertraag deur faktore soos Jackson se verlof, administratiewe rompslomp en probleme om die nodige voorrade, waens, perde en rekrute in Victoria-Wes, Murraysburg en Graaff-Reinet te bekom.(16) Veral die tekort van perde en manskappe van die regte tipe het hulle gekortwiek. Wright was gedwing om manne te aanvaar met gewoontes en karaktertrekke wat hul ongeskik gemaak het vir die pligte en verantwoordelikhede van 'n konstabel;(17) soos Jackson dit gestel het '... men of a poor stamp and mere recruits.'(18) Slegs ses of sewe ervare manne kon gewerf word en die res van die mag het bestaan uit rou rekrute. Wright kon ook nie genoeg perde vir sy mag bekom nie. Dit het uiteindelik tog nie baie saak gemaak nie, want sommige van die manne wat hy gedwing was om te aanvaar kon nie eers perd ry nie en het as infanteriste aangesluit.(19)

Intussen, soos die situasie in die grensgebied versleg het, het die kritiek in die Kaapse pers oor die vertraging van die NBP se sending al hoe feller geword.(20) Daar is selfs beweer dat Jackson en Wright hul tyd 'verknoeyen'.(21) Uiteindelik was alles egter gereed en op 27 November 1868 het Jackson, Wright en die NBP Murraysburg verlaat op pad na die grensgebied.(22)

Die NBP tydens die Eerste Noordgrensoorlog

Jackson het die roete via Victoria-Wes, Schietfontein en Vanwyksvlei na Kenhardt gekies om sodoende sy mag agter die Koranas, wat volgens gerugte in die Fraserburgdistrik bedrywig was, te plaas en te probeer om hulle op hulle terugtog af te sny. Dit was al tydens hierdie reis na die grensgebied dat die NBP se eerste probleme al begin het. Sommige van Wright se ongedissiplineerde manskappe, wat duidelik nie geweet het waarvoor hulle hul ingelaat het toe hulle aangesluit het nie, het die toer so moeilik gevind dat hulle geweier het om verder te gaan. Wright moes hulle dwing om verder te gaan op grond daarvan dat hulle vir drie jaar aangesluit het.(23)

'n Groter probleem was die meningsverskil wat tussen Wright en Jackson ontstaan het oor die kwessie van wie nou eintlik die finale beheer oor die NBP gehad het. Volgens Jackson se interpretasie het hy, as spesiale magistraat, die hoogste gesag gehad met die reg om volgens sy oordeel te besluit waar, wanneer en hoe die polisie moes optree. Sonder beheer oor die polisie sou hy nie sy taak kon verrig nie.(24) Volgens Wright se interpretasie is daar nooit vir hom gesê dat die magistraat in die doen en late van die NBP sou kon inmeng deur instruksies aan hulle te gee nie. Hy het verstaan dat hy 'n onafhanklike bevelvoerder sou wees. Onder die heersende omstandighede het hy versoek om van sy bevel onthef te word en na die FAMP terug te keer.(22) In afwagting van die regering se uitspraak het die twee amptenare intussen oënskynlik rusting met hul taak voortgegaan. Tog het hierdie konflik min goeds ingehou vir die toekomstige samewerking tussen twee amptenare wat absoluut van mekaar afhanklik was.

Jackson and Wright het reeds in daardie vroeë stadium besef dat hulle nie met slegs 50 ongeoefende manne die Koranas sou kon aandurf nie en het besluit om terwyl die perde en trekvee rus nodig gehad het, vir 'n week lank by Vanwyksvlei te vertoef om vrywilligers te werf. Vrees vir die rampspoedige gevolge van 'n nederlaag in die NBP se eerste geveg teen die Koranas, het Jackson tot hierdie besluit gemotiveer. Omdat hy nie die gesag gehad het om burgers op te kommandeer nie, het hy 'n beroep op die inwoners van die gebied gedoen om in hul eie belang as vrywilligers by sy mag aan te sluit om die Koranas te verdryf.(26)

Jackson se oproep het min reaksie uitgelok en uiteindelik het slegs 32 vrywilligers, ongeveer die helfte daarvan Basters, op 21 Desember 1868 aangemeld. Jackson het hulle volledig bewapen en toegerus met voorrade vir tien dae en onder Wright se bevel geplaas. Daarna het die gekombineerde mag al met die hooftak van die Hartbeestrivier langs getrek en Kenhardt op 27 Desember 1868 bereik. Jackson het die waens onder beskerming van 14 man daar agtergelaat en met die res van die mag te perd met die Hartbeestrivier langs noordwaarts getrek en die Oranjerivier op 30 Desember 1868 bereik. Daar aangekom het hulle gevind dat die Koranabendes wat in die kolonie bedrywig was intussen na die digbeboste eilande in die Oranjerivier teruggeval het en hul aldaar ingegrawe het. Die NBP het op die suidelike oewer van die rivier kamp opgeslaan.(27)

Gedurende die eerste paar dae van die nuwe jaar 1869 het die NBP die suideroewer in die Oranje gefynkam en vasgestel dat daar geen rowerbendes in die gebied was nie. Volgens inligting wat hulle ingewin het, het die twee rowerkapteins, Piet Rooy en Jan Kievido, met al hul volgelinge hul normale woonplekke verlaat en op die eilande saamgetrek. Op die digbegroeide eilande, goed voorsien van buitgemaakte vee en ander voorrade en beskerm deur sewe diep- en snelvloeiende strome tussen die eilande en die koloniale oewer, sou hulle veiling wees. Wright het wel daarin geslaag om in die skermutseling met van die Koranas se San- en Bastermeelopers 'n man te dood, een te wond en aantal vroue gevange te neem. Sy poging om die eilande te bereik, het misluk. Die strome was te sterk en die NBP het nie soos die Komanas die geheime deurkomplekke geken nie. Bowendien was die mag te swak om die Koranas in hul eie vesting aan te durf.(28)

Aangesien hulle eintlik niks meer daar kon verrig nie, het Jackson, Wright en die NBP na Kenhardt wat Jackson as hoofkwartier gekies het, teruggekeer. Drie bestaande maar vervalle geboue is leefbaar gemaak en die polisie het 'n polisiestasie, ekstra barakke en hutte opgerig. So het Kenhardt, die mees afgeleë nedersetting in die Kaapkolonie, tot stand gekom.(29)

Dit was in daardie stadium reeds vir Jackson en Wright duidelik dat die NBP, soos dit toe saamgestel was, nie die Koranas sou kon onderwerp en vrede in die grensgebied sou kon herstel nie. Die bedenkinge oor die effektiwiteit van die mag wat sedert sy samestelling vanuit verskeie kringe geopper is, het geldig geblyk te wees. Vrae is gestel oor die grootte van die mag, wat eenvoudig te swak was om 'n grenslyn van meer as 600 km lank te beskerm; om die omvangryke noordgrensgebied te patrolleer, vrede daarin te handhaaf en die Korana - en Sanrowers op te spoor en te arresteer. Hierbenewens het die mag te staan gekom teen ernstige hindernisse te wyte aan die natuur en omgewing. Vanweë die omvang van die gebied en die gebrek aan voldoende water en weiding het die konstabels se perde gou ingegee. Na die eerste skermutselinge met die vyand was omtrent helfte van die NBP se perde reeds dood of nutteloos. Sonder goeie perde sou hulle nie hul taak kon uitvoer nie. In sy besparingsveldtog het die regering die konstabels te min betaal om hulself en hul perde te onderhou: geen voorsiening is gemaak vir voer vir die perde en trekvee nie; hulle is nie voorsien van tente of komberse nie; geen kommissariaatreëlings is getref nie en dit terwyl Kenhardt ver van die naaste dorpe afgeleë was, wat voorrade deur smouse verskaf baie duur gemaak het.(30)

Onder die omstandighede het Jackson eintlik geen ander keuse gehad nie as om verlof van die regering te vra om 'n burgerkommando van minstens 400 man op te roep vir 'n offensief teen die Koranas nie. As alternatief kon Mfengu of Xhosas aan die oosgrens gewerf word om die NBP te versterk.(31)

Die Kaapse regering het nie verwag dat die NBP in staat sou wees om alle strooptogte deur die Koranas stop te sit nie. Waarop die besluitnemers gehoop het, was dat die teenwoordigheid van die mag daartoe sou lei dat veerowery sou verminder en die opstandige kapteins uiteindelik gevang sou word. Verder, so is daar aanvaar, sou die teenwoordigheid van die NBP 'n gevoel van sekuriteit in die grensgebied skep wat die pagters sou aanmoedig om daarheen terug te keer. In die lig van hierdie verwagtinge was die regering heeltemal tevrede met die NBP se eerste optrede en nie bereid om in daardie stadium die kommandering van 'n burgermag te sanksioneer nie. Die NBP moes eers meer geleentheid kry om hul staal te wys.(32)

Hierdie besluit openbaar die totale onkunde by die besluitnemers oor die werklike situasie aan die noordgrens. Daadwerklike en onmiddellike optrede was nodig om wet en orde te herstel. Halfhartige pogings sou nutteloos wees. Intussen, terwyl daar geen moontlikheid van 'n ekspedisie teen die Koranas bestaan het totdat 'n sterk mag versamel is en die rivier tydens die wintermaande gesak het nie, moes Wright en die NBP maar die grensgebied na die beste van hul vermoë beskerm. Hoewel veediefstalle nog voorgekom het, wou dit tog voorkom asof die teenwoordigheid van die polisie die Koranas gedwing het om versigtiger te wees - of dalk was dit maar net die vol rivier wat hulle op die eilande of benoorde die rivier vasgepen het.(33)

Intussen het die onnodige en onverkwiklike getwis tussen Jackson en Wright oor wie nou eintlik in bevel van die NBP was, voortgeduur. In Januarie 1869 het die regering beslis dat daar terreinafbakening tussen die twee amptename se pligte moes wees. Jackson, as magistraat, was verantwoordelik vir alle juridiese aangeleenthede aan die noordgrens, terwyl Wright in totale bevel van die NBP was.(34) Met die verhoudinge tussen die twee beamptes het veel gehaper. In 'n persoonlike skrywe aan koloniale sekretaris Richard Southey, kla Jackson oom die '... petty annoyances which must and do arise daily from the extraordinary and unenviable position in which I find myself' en vra hy om heroorweging van die saak.(35) Southey het hierdie geskil probeer besleg met 'n beroep op die twee beamptes om saam te werk en konsensus te bereik oor hoe en waar die NBP aangewend sou word.(36) Hiermee was die saak voorlopig afgehandel. Tog het die gebrek aan samewerking en Wright se tydelike maar ontydige afwesigheid vanaf die noordgrens toe hy die goewerneur in Grahamstad gaan spreek het,(31) die effektiwiteit van die NBP gekortwiek. In die uitvoering van hul taak om die grensgebied te beskerm, het die NBP in verskeie skermutselinge met Koranastropers betrokke geraak maar weinig sukses behaal. Na 'n vermoeiende mars van twee dae en twee nagte, waartydens sommige van die konstabels byna van dors gesterf het, het Wright en vyf-en-twintig konstabels vroeg die oggend van 11 Februarie 1869 'n groep Koranas in 'n klipkoppie by Koegrabie, sowat 100 km noordoos van Kenhardt, aangeval. Onbewus hiervan het 'n kommando Basters vanuit 'n ander rigting ook teen die Koranas opgetrek. In die verwarring van die geveg het die Koranas, konstabels en Basters oor en weer op mekaar begin skiet. Voordat hulle die fout agtergekom het, het die Basters een van die konstabels doodgeskiet, terwyl die konstabels op hulle beurt 'n Baster doodgeskiet het. In die geveg wat daarop gevolg het, is elf Koranas doodgeskiet en twee-en-derting gevange geneem, maar vier konstabels is eweneens gewond waarvan twee later gesterf het vanwee die gebrek aan mediese hulp.(38)

Hierdie skermutseling het bepaalde leemtes uitgewys. Benewens die katastrofale gevolge van gebrekkige kommunikasie en eensytige optrede, het die gebrek aan mediese beampte daartoe gelei dat twee konstables gesterf het. 'n Dokter is onmiddellik aangevra(39) en dr William Snell van die 99ste regiment het ingewillig om hierdie leemte te vul. Op 20 Maart 1869 het hy Kenhardt bereik. Sy teenwoordigheid aan die grens was belangrik, want dit het die NBP meer vertroue gegee om dit in gevaarsituasies te waag.(40) Die gebeure by Koegrabie het ook groot verontwaardiging in die Kaapse pers ontlok. Die NBP se moeilike lewensomstandighede, hul swak soldy, die hoe pryse van noodsaaklike lewensmiddele, die gebrek aan goeie perde en die feit dat hulle na twee dae en nagte se mars sonder genoegsame kos en water die slagveld moes betree, het die owerheid in 'n swak lig gestel. Voeg daarby nog aantygings van swak organisasie en swak oordeel deur bevelvoerders, onvoldoende kommissariaatreëlings en bevelvoerders wat afsydig gestaan het van die wel en weë van die konstabels.(41) Duidelik was daar 'n groot skroef aan die noordgrens los. Vir die regering het die hele aangeleentheid 'n groot verleentheid geword.

Miskien was die belangrikste invloed van hierdie gebeure dat dit op 'n dramatiese wyse die swakhede van die NBP geopenbaar het en die noodsaaklikheid van sterker mag aan die grens geaksentueer het. Jackson het heel tereg aangevoer dat '... as long as the Corana-hordes remain undisturbed on the islands of the Orange River, the N.B. Police will be unable to fulfil the service required on account of the danger which will attend any sub-division of that body' en gevolglik het hy die owerheid weereens versoek om dié mag met 100 man uit die FAMP te versterk.(42)

Tot tyd en wyl versterkings sou opdaag, het Jackson en Wright dit onmoontlik gevind om alle strooptogte in so 'n omvangryke gebied te voorkom. Die NBP was só swak dat dit nie onderverdeel kon word nie. Die mag kon slegs defensief optree en ook net indien rooftogte in die nabyheid van Kenhardt plaasgevind het. Wanneer strooptogte verder weg plaasgevind het, kon hulle niks daaraan doen nie. Sommige strooptogte het egter so ver weg van Kenhardt af plaasgevind dat die rowers met hul buit al oor die grens terug was nog voordat die NBP van die diefstal in kennis gestel is. So het daar gedurende Maart 1869 binne enkele weke vier strooptogte plaasgevind vanaf punte verspreid oor 'n gebied van bykans 300 km.(43) In enkele gevalle het die NBP tog daarin geslaag om die rowers te fnuik, 'n aantal te dood of gevange te neem. In een van die skermutselinge is nog 'n konstabel gedood.(44)

Die verslegtende situasie aan die noordgrens het die regering uiteindelik oortuig dat meer drastiese maatreëls nodig sou wees om die greep wat die Koranas oor die grensgebied gehad het te verbreek. Gevolglik het die uitvoerende gesag op 13 April 1869 besluit om 100 man van die FAMP na die noordgrens te stuur.(45)

Voordat die versterkings egter die grensgebied bereik het, het die NBP op 28 en 29 Mei 1869 by die verlate sendingstasie De Tuin, sowat 50 km noordwes van Kenhardt, in 'n geveg met bykans 150 Koranas betrokke geraak. Wright se mag van vier-en-dertig konstabels en vyftien Basters kon nie veel teen die Koranas, verskans in die geboue en klipkrale van die sendingstasie uitrig nie. In 'n stormloop is een konstabel doodgeskiet en een gewond. Die NBP moes inderhaas terugval en die weerlose gewonde is koelbloedig deur die Koranas doodgeskiet.(46)

Die gebeure by De Tuin het, soos begryp kan word, groot onsteltenis veroorsaak en die sluimerende ontevredenheid oor die situasie aan die noordgrens opnuut gemonster. Die weiering van die regering oor lang tydperk om die gebeure aan die grens met die nodige erns te bejeën, die gebrek aan optrede teen en wat beskou is as die oormatige beskerming van die inboorlinge, is wyd gekritiseer.(47) Dit het gelei tot bloedvergieting en die materiële ruïnering van die grensbewoners. Indien hulle toegelaat is, sou hulle hulself kon beskerm en sou die koste van die grenspolisie en van die ekspedisie na die grens deur die FAMP (na bewering £15 000) vir die belastingbetaler gespaar gebly het.(48)

Intussen het twee afdelings (110 mans) van die FAMP onder bevel van kommandant Sir Walter Currie aan die begin van Junie 1869 op Kenhardt aangekom. Currie se totale mag vir die ekspedisie teen die Koranas het uit meer as 300 mans bestaan. Tog kon hy nie peil trek op veel meer as sy eie manne nie, aangesien die debakel by De Tuin finaal die NBP se moed gebreek het en die res van sy mag (boere, Basters en Xhosas) ongeoefend en onervare was.(49) In die komende ekspedisie teen die Koranas sou die FAMP dan ook die leiding neem.

Vanaf 23 Junie tot 11 Julie 1869 het die NBP as deel van Currie se mag die ekspedisie teen die Koranas op die eilande meegemaak en gehelp om die Koranas uit die eilande te jaag en na die Kalahariwoestyn te verdryf.(50) Daarmee was die Eerste Noordgrensoorlog eintlik iets van die verlede, hoewel die FAMP tot aan die begin van September nog aan die noordgrens gebly het voordat hulle na die oosgrens teruggekeer het.(51) Hoewel die NBP nie die leidende rol in die stryd gespeel het nie, was hulle as deel van Currie se magte in die belangrikste gevegte betrokke. Hulle het veral 'n groot rol gespeel in die deurslaggewende geveg op 7 Julie 1869 toe die Korana uit Piet Rooy se eiland verdryf is.(52)

Verdere take

Na die beëindiging van die oorlog en die vertrek van die FAMP het die taak van die beskerming van die omvangryke grensgebied weer teruggeval op die skouers van die NBP. Hoewel bevredigende grensreëlings met die kapteins van die oorblewende Koranagroep en Willem Christiaan (die Bondelswartskaptein) getref is,(51) was dit noodsaaklik dat hierdie diplomatieke insentiewe deur 'n militêre mag gerugsteun word.

Aangesien Wright saam met die FAMP na die oosgrens teruggekeer het, is Jackson vanaf 10 September 1869 in sy plek as inspektenr van die NBP aangestel en sou hy dus voortaan 'n dubbele amp beklee.(54) In die algemeen gesproke, was die noordgrensgebied vir die volgende aantal jare betreklik rusting. Hoewel probleme in twee gebiede voorgekom het, te wete by Pella in die weste en by Prieska in die ooste, was Jackson se grootste probleem om sy mag op volle sterkte te hou.(55)

Die NBP se grootste taak onmiddellik na die oorlog was om teen die bendes San veral in die omgewing van Pelle op te tree. Aangesien talle klagtes oor veerowery in die gebied ontvang is, het Jackson onderneem om die NBP so gou moontlik teen hulle aan te wend.(56) Vanweë 'n tekort aan goeie perde, water en genoegsame weiding, kon hy aanvanklik niks doen nie, maar vroeg in Junie 1870 het hy met die NBP na Pella (290 km ver) vertrek. Vanuit die ou sendingstasie as basis het die NBP, ondersteun deur 'n kommando van vyf-en-twintig boere, verskeie patrollies onderneem en verskeie berugte rowers gedood, gewond en agt-en-dertig volwassenes en 'n aantal kinders aangekeer. Die meeste rowerbendes is uit die gebied verdryf teen die tyd dat die NBP vroeg in September 1870 vanweë die verskriklike droogte en hitte na Kenhardt moes terugkeer na 'n ekspedisie van meer as drie maande.(57) Gedurende die res van 1870 het die NBP verdere patrollies teen Sanrowers wes van die Hartbeestrivier onderneem. Dit was in 'n groot mate suksesvol en 23 Sanmans en 36 vroue en kinders is gevange geneem, waarvan 21 aan verskillende misdade skuldig bevind is.(58)

Die volgende taak van die NBP sou egter op 'n heel ander terrein lê. Sekerlik die mees opspraakwekkende gebeurtenis in Suider-Afrika gedurende 1871 was die stryd om die besitreg van die diamantvelde van Griekwaland. Na aanleiding van hierdie stryd tussen die Britse owerheid en die twee Boererepublieke, het Jackson reeds in Oktober 1870 die beskikbaarheid van die NBP, die gewapende mag die naaste aan die Diamantvelde, onder die regering se aandag gebring.(59) Vroeg in 1871 het goewerneur Barkly opdrag gegee dat Jackson en die grenspolisie moes verskuif na die omgewing van Hopetown en dat die mag in gereedheid gehou moes word vir moontlike optrede op die Diamantvelde.(60) Na aanleiding van opdragte ontvang van goewerneur Barkly, via John Campbell, Britse verteenwoordiger op die Diamantvelde, het Jackson met 45 man van die NBP na Klipdrift (tans Barkly-Wes) aan die Vaalrivier vertrek en op 20 Maart 1871 daar aangekom.(61) Vir ongeveer drie maande lank het hulle magistraat Campbell ondersteun om die Britse gesag aldaar in stand te hou en wet en orde te handhaaf. Op 27 Junie 1871 is hulle deur die FAMP vervang en het hulle na Kenhardt teruggekeer.(62)

Die gebrek aan beskerming in die noordgrensgebied vanweë die verskuiwing van die NBP na die Diamantvelde - daar het net ses konstabels op Kenhardt agtergebly(63) - het die inwoners van die gebied ontstel en hulle het aangedring op optrede teen die stropers.(64) In die Kaapse parlement is daar beweer dat die verskywing van die NBP na buite die koloniale grense die lewe en eiendom van die inwoners van die gebied in gevaar gestel het.(65) Op sy beurt het Barkly druk op Jackson uitgeoefen om teen die stropers op te tree.(66)

Jackson, wat pas van die Diamantvelde af teruggekeer het, kon egter as gevolg van die swak toestand van die NBP se perde, die gebrek aan water in die winter en die groot afstand na Pella in daardie stadium niks doen nie.(67) Dit was eers teen die begin van Desember 1871 dat Jackson en die NBP na Pella kon vertrek. Vir ses maande lank, tot Junie 1872, het hulle die gebied rondom Pella gepatrolleer op soek na bendes Sanstropers. Vanweë die aard van die terrein en die beperkte getal konstabels, het die NBP min resultate vir hul harde werk behaal. Hulle het wel daarin geslaag om rowery in die gebied te voorkom.(68) Die ekspedisie sou inderdaad die NBP se laaste groot opdrag wees, want kort daarna is die mag ontbind.

Ontbinding

Dit wil voorkom asof die koloniale owerheid niks geleer het uit die gebeure wat tot die Eerste Noordgrensoorlog gelei het nie, want kort na die beëindiging van die oorlog het hulle weer belangstelling in die grensgebied verloor. In 'n poging om koste te besnoei, het Jackson opdrag gekry om die NBP van 50 man na 25 te verklein.(69) Trouens, die koloniale sekretaris het die Wetgewende Vergadering meegedeel dat die veiligheidstoestand in die grensgebied sodanig verbeter het dat 'n gewapende mag in dié gebied eintlik nie meer nodig was nie en dat die regering dit oorweeg het om die NBP te ontbind.(70) Al Jackson se pleidooie dat so 'n klein mag in so groot gebied nutteloos sou wees weens die menigvuldige pligte van die mag, het niks gehelp nie en teen die einde van 1871 is die NBP dan ook verklein.(71)

Aangesien die grensgebied gedurende 1872 en 1873 in die algemeen rustig was, wou dit voorkom asof die regering se prognose korrek en die verkleining van die NBP geregverdig was. In 'n poging tot besparing het 'n verdere reorganisasie plaasgevind. Die regering het besluit om die NBP te ontbind en dit te amalgameer met die FAMP. 'n Beroepsoltaat, David Blair Hook, wat as inspekteur van die nommer 1-kompanjie van die FAMP aan die Eerste Noordgrensoorlog deelgeneem het, is as bevelvoerder van die nuwe mag aangestel.(72) Op 3 Junie 1873 het Hook op Kenhardt aangekom en onmiddellik die NBP, toe bestaande uit slegs 16 manskappe by die FAMP ingelyf.(73) Hierdie mag sou voortaan bekend wees as die nommer 8-kompanjie van die FAMP.(74)

Besluit

Hoewel die NBP amptelik as 'n polisiemag bekend gestaan het, was dit in werklikheid primêr 'n verdedigingsmag. Net soos die FAMP, het sy opdrag bestaan uit sowel polisieëring as verdediging.

Die eksperiment om 'n spesiale mag vir die beskerming van die noordgrens in die lewe te roep, was nie 'n sukses nie en daarom het die koloniale owerheid dit binne vyfjaar ontbind. Die mislukking daarvan kon hoofsaaklik toegeskryf word aan die beperkte grootte van die mag, die tipe manne wat gewerf is en die gebrekkige toerusting en bevoorrading daarvan.

Verwysings

1. (British Parliamentary Papers, hierna BPP) 969 - Julie 1848; no. 6, bylae 1, Proclamation by H G W Smith, 17 December 1847, p. 22.
2. P J van der Merwe, Trek. Studies oor die mobiliteit van die pioniers-bevolking van die Kaap (Kaapstad, ens., 1945), p. 197.
3. T Strauss, War Along the Orange: The Korana and Northern Border Wars of 1868-9 and 1878-9, (UCT, 1879), pp. 26-7.
4. (Kaapse Argiefbewaarplek, hierna KAB) G.H. 23/30: no. 92, P E Wodehouse - Buckingham and Chandos, 8 October 1868, pp. 391-3.
5. (Cape L\Parliamentary Papers, hierna CPP) G.20-1881; no. 13,J H Scott - Secretary for Native Affairs, 20 February 1881, pp. 84-5.
6. Vir meer besonderhede hieroor kyk M Broodryk, 'Die Kaapse Noordgrensoorloë, 1868-1879' (ongepubliseerde D. Phil.-proefskrif, US, 1987), pp. 73-92.
7. (KAB) E.C.8: no 11, Proceedings, 5 June 1868.
8. (CPP) A.25-1868 : Message from H E the Governor to the Honourable House of Assembly, 9 July 1868, pp. 1 en 4.
9. (KAB) C.C.P. 2/3/1/1 Debates in the Legislative Council, 1867-8, vol, II, pp.733-4 (K-NB) G.H.16/12 : no. 34, Address of the House of Assembly, 10 August 1868.
10. (K-NB) C.C.P. 6/2/11/2 Acts of Parliament, 1868.
11. The Cape of Good Hope Government Gazette, 13 October 1868 (Proclamation no. 67).
12. (KAB) 1/N. B.M.6: no. 45, D Hook - Secretary for Native Affairs, 23 January 1875, p. 224; (CPP) G.13-1880: Report on the State of Matters in the Magistracy of the Northern Border by J H Scott, 8 January 1880, p. 168.
13. (KAB) C.C.P. 6/2/1/11 Acts of Parliament, 1868.
14. The Cape of Good Hope Government Gazette, 20 October 1868 (Government Notice no. 327, 19 October 1868); (K-NB) A.611, vol. 57 : R Southey - M J Jackson, 15 September 1868, 9 November 1868.
15. (KAB) CO. 5206: no. 1065, R Southey - Special Magistrate, 24 October 1868; no. 1218, L Adamson - W Wright, 27 November 1868.
16. (KAB) I/N.B.M.S: no. 2, M J Jackson - Colonial Secretary, 21 October 1868, p.2; (K-NB) C.O.3140: W Wright - Colonial Secretary, 13 October 1868, 9 November 1868, 23 November 1868; (KAB) A.611, vol. 32: M J Jackson - R Southey, 21 September 1868; vol. 33, T Tinley - R Southey, 23 November 1868; vol. 57, R Southey - M J Jackson, 24 September 1868, pp. 234-5; vol. 58, R Southey - W Wright, 29 October 1868, p. 29.
17. The Cape Standard, 26 November 1868 (Redaksioneel).
18. (KAB) 1/N.B.M.5: no. 2, M J Jackson - Colonial Secretary, 21 November 1868, p. 2.
19. The Cape Argus, 26 December 1868 (Victoria West).
20. The Cape Standard, 26 November 1868 (Redaksioneel), 31 December 1868 (Redaksioneel); The Cape Argus, 26 November 1868 (XXX-Editor).
21. De Zuid-Afrikaan, 19 Desember 1868 (De Koranas).
22. (KAB) 1/N.B.M.5: no. 7, M J Jackson - Colonial Secretary, 1 December 1868, p. 7.
23. (KAB) 1/N.B.M.5: no. 7, M J Jackson - Colonial Secretary, 1 December 1868, p. 7; C J Strydom, 'Boesmans en Koranas. Hoe die Noordweste van hulle gesuiwer is', in Die Huisgenoot, XIV(400), 29 Desember 1929, p. 81.
24. (KAB) 1/N.B.M.S: no. 11 M J Jackson - Colonial Secretary, 12 December 1868, pp. 13-14.
25. (KAB) A.611, vol. 33: W Wright - R Southey, 16 November 1868 en 15 December 1868.
26. (K-NB) 1/N.B.M.5: M J Jackson - Farmers, Bastards and others, 14 December 1868, pp. 10-11; no. 10, M J Jackson - Colonial Secretary, 18 December 1868, pp. 11-12.
27. (K-NB) 1/N.B.M.r: no. 13 M Jackson - Colonial Secretary, a January 1869, pp. 18-20; (K-NB) CO. 3163: W Wright - Colonial Secretary, 5 January 1869; The Cape Argus, 14 January 1869 (The Northern Border Police); The Colesberg Advertiser, 2 January 1869 (Plaatselyk en Gemengd Nieuws).
28. (K-NB) 1/N.B.M.5: no. 13, M J Jackson - Colonial Secretary 16 August 1868; (K-NB) CO. 3163: W R Wright - M J Jackson, 1 January 1869; W Wright - Colonial Secretary, 5 January 1869.
29. (K-NB) CO. 3302: M J Jackson - Colonial Secretary, 6 September 1879; L G Green, To the River's End (Cape Town, no date), p. 141.
30. (K-NB) CO. 4154: J B Stewart - Colonial Secretary, 16 August 1868; (K-NB) 1/N.B.M.S: no. 15, M J Jackson - Colonial Secretary, 11 January 1869, pp. 22-6; (K-NB) CO. 3163: W Wright -Colonial Secretary, 11 January 1869 (K-NB) A.611, vol. 33: T Tinley - R Southey, 23 November 1868; The Cape Argus, 26 September 1868 (Work for the Border Magistrate) 26 December 1868 (Victoria West); De Zuid-Afrikaan, 14 September 1868 en 26 November 1868 (redaksioneel); The Cape Standard, 22 November 1868 (Redaksioneel).
31. (K-NB) 1/N.B.M.S: no. 2, M J Jackson - Colonial Secretary, 21 November 1868; (K-NB) CO. 3168: W Wright - Colonial Secretary, 11 January 1869.
32. (K-NB) CO. 5207: 008. 161 en 162, C. Mills - Inspector, Border Police, 10 February 1869, pp. 3-5; no. 175, C Mills - Special Magistrate, 11 February 1869, pp. 10-11.
33. R. Ross, 'The Korana Wars on the Orange River, 1830-1880, in Journal of African History, XVI(4), 1975, p. 572; De Zuid-Afrikaan, 25 Januarie 1869 (Een inteken op alle Nieuwsbladen - Editeur).
34. (K-NB) C.O. 5206: no. 45, R Southey - Special Magistrate, 12 January 1869, pp. 467-70; (K-NB) A.611, vol. 58: R Southey - W Wright, l4 January 1869.
35. (K-NB) A.611, vol. 34: M J Jackson - R Southey, 13 March 1869.
36. (K-NB) A.611, vol. 58: R Southey - MJJackson, 26 April 1869, pp. 19 1-3.
37. (K-NB) A.611, vol. 34: M J Jackson - R Southey, 13 March 1869; vol. 35, W Wright - R Southey, 10 April 1869.
38. (K-NB) CO. 3163: W Wright - Colonial Secretary, 22 February 1869; The Cape Argus, 4 March 1869 (Important News from the Northern Border): 22 March 1869 (The Engagement with the Koranas); The Colesberg Advertiser, 16 March 1869 (De Koranas).
39. (K-NB) CO. 3158; W Wright - Resident Magistrate, Victoria West, 15 February 1869; (KAB) CO. 3163, W Wright - Colonial Secretary 22 February 1869; The Colesburg Advertiser, 6 April 1869 (Het Gevecht met de Koranas).
40. (K-NB) CO. 5207: no. 261, K Southey - Special Magistrate, 8 March 1869, pp. 53-4; no. 281, L Adamson - W Wright, 25 March 1869, pp. 83-4; (K-NB) A.611, vol. 34: M J Jackson - R Southey, 21 March 1869.
41. The Cape Standard, 16 March 1869 (Redaksioneel); 23 March 1869 (The Engagement with the Koranas); The Cape Argus, 2 March 1869 (G Anderson - Editor); 23 March 1869 (The Engagment with the Koranas); De Zuid-Afrikaan, 29 Maart 1869 (Redkasioneel).
42. (K-NB) 1/N.B.M.5: no. 19 M J Jackson - Colonial Secretary, 1 March 1968, pp. 42-3.
43. (K-NB) 1/N.B.M.5: nos. 21 en 25. M J Jackson - Colonial Secretary, 24 March 1869, pp. 48-9; 29 March 1869 pp. 50-1; 2 April 1869, p. 53; The Cape Argus, 19 April 1869 (Korana Raids Again).
44. (K-NB) 1/N.B.M.5: nos. 21 en 25, M J Jackson - Colonial Secretary, 29 March 1869, pp. 50-1 en 19 April 1869, pp 59-60; (K-NB) A.611, vol. 35, W Wright - R Southey, 8 April 1869 en 26 April 1869.
45. (K-NB) E.C. 8: no. 2, Proceedings, 13 April 1869; (K-NB) C 0 5207: no. 438, L Adamson - Special Magistrate, 17 April 1869, p. 116.
46. (K-NB) 1/N.B.M.5: no.37, MJJackson - Colonial Secretary, 2 June 1869, pp. 81-2; The Cape Argus, 26June 1869 (W Wright - Colonial Secretary, 2 June 1869).
47. De Zuid-Afrikaan, 21 Junie 1869 (Belangryk Nieuws van de Noordelyke Grenzen); The Cape Argus, 23 June 1869 (Fraserburg).
48. (RAE) C.O.4159; E A Nel - P E Wodehouse, 12 May 1869; The Cape Argus, June 1869 (Fraserburg) and 13 July 1869 (Koranas and Police).
49. (K-NB) A.611, vol. 35: W Currie - R Southey, 15 June 1869; D B Hook, With Sword and Statute. On The Cape of Good Hope Frontier (London, no date), p. 76.
50. ibid, pp. 76-9; Broodryk, pp. 133-40 (K-NB) A.611, vol. 36: W Currie - R Southey, 4 July 1869, 1 August 1869; vol. 39, M J Jackson - R Southey, 2 June 1870; P J Young, Boot and Saddle. A narrative record of the Cape Regiment, the British Cape Mounted Riflemen, the Frontier Armed Police and the Colonial Cape Mounted Riflemen (Cape Town, no date), p. 77.
51. (K-NB) A.611, vol. 36: L G Rawstorne - R Southey, 4 September 1869.
52. (K-NB) A.611, vol. 36: W Currie - R Southey, 4 July 1869.
53. Kyk Broodryk, pp. 162-70.
54. (K-NB) A.607: P E Wodehouse - M J Jackson, 26 August 1869; (K-NB) CO. 5414: no. 473, C Mills - M J Jackson, 5 October 1869.
55. (K-NB) 1/N.B.M.5: nos. 55 en 67, M J Jackson - Colonial Secretary, 27 December 1869, p. 174 en 4 May 1870, p. 223.
56. (K-NB) 1/N.B.M.5: no. 65, M J Jackson - Colonial Secretary, 30 April 1870, pp. 217-20. 57. (K-NB) 1/N.B.M.5: nos. 74, 76, 83 en 89, M J Jackson - Colonial Secretary, 20 August 1870, pp. 251-4; 12 September 1870, pp. 259-60; 4 October 1870, pp. 275-6; 12 December 1870, pp. 314-7.
58. (KAB) 1/N.B.M.5: no. 90, M J Jackson - Colonial Secretary, 13 December 1870, pp. 317-8.
59. (KAB) A.611, vol. 41: M J Jackson - R Southey, 29 October 1870.
60. (KAB) A.611, vol. 60: R Southey - M J Jackson, 9 February 1871, p. 214; R Southey - H Barkley, 16 February 1871, PP. 224-5; (KAB) CO. 5208: no. 171, R Southey - Special Magistrate, 11 February 1871, p. 397.
61. (KAB) A.611, vol. 44: M J Jackson - R Southey, 12 March 1871; vol. 60, R Southey - H Barkly, 18 March 1871; (KAB) C.O. 3193: no. 6, M J Jackson - Colonial Secretary, 23 March 1871.
62. (KAB) 1/N.B.M.5: no. 13, M J Jackson - Colonial Secretary, 12 March 1871.
63. (KAB) A.611, vol 44: M J Jackson - R Southey, 12 March 1871.
64. The Cape Argus, 27 April 1871 (Calvinia).
65. The Cape Argus, 13 May 1871 (Cape Parliament); The Standard and Mail, 13 May 1871 (The Northern Border Police) and 4 July 1871 (House of Assembly).
66. (RAE) CO. 5209: no. 775, C Mills - Special Magistrate, 19 July 1871, p. 72.
67. (KAB) 1/N.B.M.5: not. 19 en 22, MJJackson - Colonial Secretary, 31 July 1871, pp. 361-2, 3 August 1871, pp. 365-6; (KAB) A.611, vol. 46, M J Jackson - R Southey, 19 October 1871.
68. (KAB) 1/N.B.M.5: nos. 11 en 50, M J Jackson - Colonial Secretary, 19 December 1871, p. 429 en 27 June 1872, p. 462; Blue Book for the Colony of the Cape of Good Hope, 1871, p. JJ6.
69. (RAE) 1/N.B.M.5: no. 918, C Mills - M J Jackson, 24 August 1871 en no. 1145, R. Southey - Special Magistrate, 18 October 1871, p. 197.
70. The Cape Argus, 13 May 1871 (Cape Parliament); The Standard and Mail, 13 May 1871 (The Northern Border Police).
71. (RAE) 1/NB M 5: Nos. 20, 31 en 42, M J Jackson - Colonial Secretary 31 July 1871, pp. 362-3; 7 September 1871, pp. 384-6; 4 November 1971, p. 418; (KAB) A.611, vol. 46, M J Jackson - R Southey, 30 November 1871.
72. (KAB) CO. 5210: No. 476, C Mills - A M Meiring, 3 May 1873, pp. 401-2.
73. (KAB) 1.N.B.M.6: no. 1, D B Hook - Colonial Secretary, 4 June 1873, pp. 45-6; D B Hook - Commandant, FAMP, 4June 1873, pp. 44-5.
74. (KAB) C 0 973: no 204, bylae, Return and Distribution of the FAMP; G Tylden, The Armed Forces of South Africa with an appendix on the Commandos (Johannesburg 1954), p.l33.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org