The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 6 No 6 - Desember 1985

POSTMASBURG EN DIE TWEEDE VRYHEIDSOORLOG

deur P H R Snyman, MA

In teenstelling met die res van die land, het die aandeel wat Noord-Kaapland aan die Tweede Vryheidsoorlog gehad het nog min aandag van historici geniet. Dit geld in die besonder vir die plattelandse distrikte, want die beleg van Kimberley en Mafeking en die gevegte rondom Kimberley is wel deeglik nagevors. Tog was die Boere-rebelle in hierdie dele in hoë mate suksesvol in hulle verset teen Brittanje. Die rebelle van Postmasburg en die distrik Hay kan trouens onder die mees suksesvolle Boerekrygers in die hele oorlog gereken word - met die oorgawe van die twee Boererepublieke in Mei 1902 was hierdie dele steeds in Boerehande. Postmasburg en die distrik Hay was weliswaar nie in die teater van die oorlog nie, maar die betekenis van hulle verset is daarin geleë dat hulle 'n belangrike skakel tussen die Boeremagte in Transvaal en Kaapland suid van die Oranje gevorm het, hulle baie kommando's in die twee republieke van broodnodige slagvee en perde kon voorsien, en bowenal verhinder het dat die Britse magte 'n stewige vastrapplek in Noord-Kaapland kon kry. Postmasburg dien voorts as 'n voorbeeld van die impak wat die oorlog op klein, afgeleë dorpies gehad het.

Na die uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899 is Griekwaland-Wes en Brits-Betsjoeanaland deur die twee Boererepublieke geannekseer. Toe Boerekommando's die gebied begin inval, het luitenant-kolonel R G Kekewich, militêre bevelvoerder van dié twee gebiede, 'n proklamasie uitgevaardig waarvolgens almal Britse onderdane sou bly en hulp van die vyand moes weerhou. Dit is op 16 November 1899 opgevolg met 'n proklamasie wat die distrik Hay onder krygswet geplaas het.

Die Postmasburgers het hulle egter nie daaraan gesteur nie omdat hulle simpatie by die strydende Boere gelê het. Toe die Vrystaatse kommando onder kommandant Jan Jordaan en regter J B M Hertzog twee dae later, op 18 November 1899, die Vrystaatse vlag op Postmasburg gehys het, het baie inwoners die wapen opgeneem.(2) Die Vrystaatse kommando het deur die gebied getrek om manskappe te werf en een sjieling en ses pennies per dag belowe aan diegene wat sou aansluit. Vir die volgende agt maande (Oktober 1899 tot Junie 1900) sou Postmasburg in Boerehande bly.

Van die redes waarom baie gerebelleer het, was omdat hulle verbitter was as gevolg van die streng landboureëls van die regering wat talle boere verarm het, bande van bloedverwantskap met die Republikeinse burgers, ontevredenheid oor die Kaapse administratiewe stelsel, die feit dat hulle maklik deur die Republikeine beïnvloed is en laasgenoemde wapens en ammunisie vrylik beskikbaar gestel het. Verder het A J Viljoen (vrederegter), wat groot invloed in die gemeenskap gehad het, kort voor die oorlog 'n besoek aan Paul Kruger in Pretoria gebring waardeur hy tot die republikeinse ideale oorgehaal is. Hy het die Postmasburgers openlik tot rebellie aangemoedig(3), en die feit dat die oorgrote meerderheid van die gemeenskap lidmate van die Gereformeerde kerk (soos Paul Kruger) was, kon ook 'n rol gespeel het.

Na die vertrek van die Vrystaters het die rebelle van die distrik Hay hulleself militêr georganiseer deur 'n krygsraad asook offisiere (kommandante en veldkornette) vir elke wyk aan te stel. Vir Postmasburg is Kommandant Jan Vorster en veldkornet Piet Venter aangestel. Die rebelle onder opperbevel van generaal P J de Villiers het hulle daarna deeglik in die gebied ingegrawe en teen Maart 1900 die hele Griekwaland-Wes beheer.(4)


Gen P J de Villiers, bevelvoerder van die rebelle van Griekwaland-Wes

Verdeeldheid onder rebelle en lojaliste het op Postmasburg geheers na die uitvaardiging van die Vrystaatse proklamasie wat die distrik Hay tot die Vrystaat geannekseer het. So het N.J van Druten (winkelier) wat tydens die aanvanklike rebellie lojaal aan die Kroon gebly het, op 28 Maart 1900 die Vrystaatse vlag gestryk en ten aanskoue van drie ander persone (onder wie Adam Gossa, 'n speurder van die Kaapse Polisie) die Britse vlag gehys. Daarop het die Boerekrygsraad op 30 Maart besluit om E M Warden ('n Vrystater) as landdros op Postmasburg aan te stel om wet en orde te handhaaf. Hy is bygestaan deur veldkornet G H J van der Walt wat ook in Warden se afwesigheid as landdros opgetree het. Baie lojaliste het daarna die dorp verlaat, maar manne soos Adam Gossa is deur Van der Walt in hegtenis geneem en summier deur landdros Warden tot tien houe lyfstraf gevonnis.(5)

Intussen het die rebelle hulle veral in die Kaapse plato naby Campbell ingegrawe om die gebied teen 'n Engelse aanval uit die ooste te beskerm. Sir Alfred Milner, Britse Hoë Kommissaris aan die Kaap, het die gevaar ingesien wat die rebelle ingehou het en in April 1900 aan sir Charles Warren opdrag gegee om Griekwaland-Wes en Brits-Betsjoeanaland weer onder Britse gesag te bring. Die Griekwaland-Wes-rebelle is as gehard en van die beste soldate in Suid-Afrika beskou. Warren het vanaf Belmont opgeruk en teen Mei 1900 na 'n aantal skermutselings met min moeite tot by die plaas Fabersput (naby Campbell) gevorder. Op die oggend van 30 Mei 1900 het De Villiers met 600 man (verdeel in drie groepe) 'n verrassingsaanval op die kamp by Fabersput gedoen. Dit het egter misluk omdat hy gereken het dat die burgermageenhede (waaruit Warren se mag grotendeels bestaan het) nie waffers teenstand sou bied nie. Die Postmasburgers het dapper onder Venter geveg en daarin geslaag om sowat 60 perde te buit, maar moes die aftog voor 'n bajonetstormloop blaas. Na 'n kort maar hewige geveg waarin vyftien Britse soldate en dertien Boere gesneuwel het, het die Boere op die vlug geslaan.(6)

Na die geveg het Warren en kolonel S Hughes met 'n opmars teen al die dorpe in Griekwaland-Wes begin en almal, insluitende Postmasburg, in Junie 1900 herower.(7) Reeds kort na die geveg by Fabersput, toe dit duidelik was dat die Boere-weerstand begin verbrokkel en baie die wapen neergelê het, het G H J van der Walt op 4 Junie die sleutels van die regeringskantoor op Postmasburg aan veldkornet J D Aucamp (wat lojaal gebly het) oorhandig en homself oorgegee. Binne 'n paar dae het 90 Postmasburgers die wapen voor Aucamp neergelê. Daarna het 41 Boere van veldkornetskap Blinkklip (waarin Postmasburg geval het), in 'n poging om vervolging vry te spring 'n petisie opgestel waarin voorgegee is dat hulle deur die Vrystaatse krygswet gedwing is om die wapen op te neem, en beskerming van die Kroon begeer.(8) Die Britse militêre opperbevel het egter hierdie slenter raakgesien en gevolglik het die meeste daarna op aanklag van hoogverraad tereggestaan. Almal wat 'n rang beklee het, is op Griekwastad in die tronk gestop.

Die Britse magte se opruimingsoperasies in die gebied het geëindig met die besetting van Kuruman op 24 Junie 1900. Ongeveer 200 boere het vier dae vantevore op Koning en Blikfontein aan Hughes oorgegee. Generaal De Villiers en sowat 50 man het na Wes-Transvaal uitgewyk en hulle by generaal J H de la Rey gaan aansluit, terwyl kommandant Jan Vorster na Transvaal en later na Holland gevlug het. Warren het krygswet in die hele gebied herstel en toestande so gou genormaliseer dat sy taakmag in Julie 1900 aan die gebied onttrek is. Slegs 600 man is in Griekwaland-Wes agtergelaat - 300 om die gebied te patrolleer en 300 as garnisoene op strategiese plekke soos Griekwastad, Campbell, Danielskuil en Schmidtsdrif.(9) Op Postmasburg is nie 'n garnisoen gestasioneer nie, maar die militêre opperbevel het vir Thomas Green ('n lojalis wat in die Warren Scouts, 'n vrywilligermag, gedien het) as bevelvoerende offisier en vrederegter van die dorp aangestel. Die reeks terugslae het die Boere se moreel geknou en die einde van die eerste rebellie beteken.(10)

Een van Green se belangrikste take was om getuienis teen die rebelle te versamel. Dit was 'n moeilike taak, aangesien die meeste rebelle verklaar het dat hulle alles onder dwang van die Vrystaat en Transvaal moes doen. Bekende Postmasburgers wat as rebelle tereggestaan het, was assistent-veldkornet PJ Snyman wat etlike burgers opgekommandeer het en betrokke was by 'n voorval waarin 'n lojale Griekwa gedood is, veldkornet P J Venter wat die Postmasburgers by Fabersput aangevoer het, assistent-veldkornet J J Viljoen, A J Viljoen wat as vrederegter die wapen teen die regering opgeneem het en die burgers aangemoedig het om te rebelleer, C J H Venter wat Green se winkel help plunder het, R J Reynecke wat die telegraafdrade tussen Postmasburg en Griekwastad afgeknip het, L L Kruger en S N Venter.(11)

Vir ongeveer 'n jaar was daar feitlik geen militêre bedrywighede in en om die dorp nie en 'n redelike mate van rus en orde is deur Thomas Green gehandhaaf. Die meeste rebelle - onder andere A J Viljoen, P J Venter G H J van der Walt en P J Snyman - is op parool vrygelaat en toegelaat om na die dorp of hulle plase terug te keer.(12)

Vanaf Junie 1901 het Boerekommando's weer in die omgewing bedrywig geraak en op lO Julie 1901 die poskar tussen Postmasburg en die plaas Floradale onderskep.(13) Enkele weke later het generaal De Villiers die gebied 'n tweede keer binnegeval om as skakel te dien tussen generaal De la Rey in Wes-Transvaal en generaal J C Smuts in Noordwes-Kaapland.(14) Postmasburg het 'n tweede keer in Boerehande geval toe kommandant Edwin Conroy die polisiestasie, regeringskantore en poskantoor op 10 Augustus 1901 beset het. Die poskar tussen Postmasburg en Griekwastad is net die vorige dag buitgemaak en vernietig. Lojaliste soos Thomas Green (kommandant van die dorp), Piet van Heerden (hoefsmid) en Doors Schernan het elkeen 'n deftige loesing met 'n sambok by Conroy gekry omdat hulle die Boere se bewegings verklap en die Engelse gehelp het. Veldkornet J D Aucamp moes inderhaas op sy plaas Wildealsput gaan wegkruip om Conroy te ontglip.(15) Vir die res van die oorlog (Augustus 1901 tot Mei 1902) sou Postmasburg weer in Boerehande wees.

Die Boere het daarna verbasende sukses behaal: op 10 Augustus 1901 het veldkornet Van Aswegen 110 perde by Kareepan gebuit; op 12 Augustus het kommandant Koot Kruger Griekwastad aangeval, 800 perde gebuit en tien Engelse gedood of gewond; op 24 Augustus het die slag by Rooikoppies plaasgevind waartydens 'n burger, A C Grové (hy is in Postmasburg begrawe) en twaalf Engelse gesneuwel het. Twee karre, 48 perde en baie wapens en ammunisie het in Boerehande geval. Op 7 September is vyf Engelse by Bonteheuwel gedood, terwyl die Boere sonder enige verliese en met 150 perde weggekom het.(16)

'n Grootskaalse (tweede) rebellie in die distrik Hay het op hierdie suksesse van die Boere gevolg. Postmasburg was geen uitsondering nie, want feitlik alle mans het die wapen opgeneem - ook die meeste wat tydens die eerste rebellie lojaal gebly bet, onder andere N J van Druten, Piet van Heerden en Doors Scherman. Selfs manne soos P J Snyman en J J Viljoen wat op parool vrygelaat is, het weer gerebelleer. Die meeste Postmasburgers het gedurende Augustus en September 1901 by kommandant Koot Kruger aangesluit. Baie Boere het ook slegs die wapen opgeneem om 'n boikot van die rebelle teen hulle vry te spring; sommiges is tewens afgedreig.(17) Sover bekend het slegs D J Kelly en H E Bailey (posmeesters), Thomas Green, J D Aucamp (veldkornet) en J A Louw (lokasie-inspekteur) deur die hele oorlog getrou aan die Kroon gebly.(18)


Rebelle-offisiere van die distrik Hay, afgeneem by die tronk op Griekwastad na hulle inhegtenisname, 1900

In Augustus 1901 is die eerste bataljon van die Leinsterregiment na die distrik Hay gestuur om veral die Langeberge, wat deur generaal De Villiers as skuilplek gebruik is, van rebelle skoon te maak. Nadat die Britse mag met De Villiers naby die Langeberge slaags geraak het, het hulle na Postmasburg opgeruk en op 15 September 1901 op die plaas Kalkfontein (vier kilometer suid van Postmasburg) oornag. Vroeg die volgende dag het De Villiers hulle aangeval en volgens hom ses gedood,(19), hoewel slegs een soldaat, weerman G Dewing, in die kerkhof op Postmasburg begrawe is. Dit was die naaste geveg aan die dorp tydens die oorlog. Daarna het die Britse mag Postmasburg binnegetrek (die Boere het na die Langeberge teruggetrek), 'n rukkie vertoef en weer vir De Villiers na die Langeberge agtervolg waar hewige gevegte plaasgevind het. Op 19 September is byvoorbeeld 137 kanonskote by Wydpoort op die boere geskiet - sonder enige uitwerking.(20) Die Leinster-regiment het in al die skermutselings die slegste daarvan afgekom en is aan die einde van September 1901 aan Griekwaland-Wes onttrek.(21)

Vanaf Oktober 1901 het die Boeremagte hulle hoofsaaklik toegespits op die Britse garnisoene, patrollies en die konvooie wat voorrade tussen Griekwaland en Danielskuil vervoer het. Op 29 Oktober het veldkornet S P Oldewage Griekwastad aangeval, twee forte verower, die krygsgevangenes ontset en baie vee, kos en klere buitgemaak. Omdat daar nog baie vee in Griekwaland-Wes was, het De Villiers verskeie kommando's in die Boererepublieke van vee voorsien. Gedurende November en Desember 1901 het die Boere meer as 6 000 stuks kleinvee, 300 beeste en 1 200 perde by die vyand afgeneem.(22)

Vanaf Januarie 1902 het kommandant Koot Kruger sy basis op die plaas M64 (tans Mooidraai, dertien kilometer suid van Postmasburg) gehad, terwyl generaal De Villiers Postmasburg tussen Januarie en Maart as hoofkwartier gebruik het. Hy het selfs 'n landdros op Postmasburg aangestel omdat die administrasie vir hom alleen te veel geword het. Sy kommando het in daardie tyd uit 527 man bestaan van wie 200 ongewapen was! De Villiers het generaal De la Rey dan ook telkens versoek om wapens en troepeversterkings te stuur sodat hy die hele gebied kon verower. Aan die begin van 1902 was die Boere in hulle pogings om die sterk vyandelike konvooie (bestaande uit 800 man, kanonne en meksims) te buit, in talle kleiner skermutselings betrokke, byvoorbeeld by Doornfontein, Dirkspan, Danielskuil, Campbell en Griekwastad.(23)

Met die oorgawe van die twee Boererepublieke in Mei 1902 was Postmasburg, soos groot dele van Noord-Kaapland, onder beheer van die Boere. Baie was van mening dat die Republieke die rebelle in die steek gelaat het.(24) Die meeste Postmasburgers het op 21-22 Junie die wapen op Kimberley neergelê, en almal wat gerebelleer het, is van hoogverraad aangekla en voor 'n spesiale hof ingestel ingevolge The Indemnity and Special Tribunals Act van 1900, gedaag. Die meerderheid Boere se straf was die verlies van stemreg vir vyf jaar, maar aan sommiges (veral die wat offisiersrange beklee het, aan oorlogsmisdade skuldig was of met die uitbreek van die oorlog 'n vrederegter, veldkornet of ander amp onder die Kaapse regering beklee het) is tronkstraf en swaar boetes opgelê. In die distrik Hay is 932 (81,3%) rebelle van hoogverraad aangekla en 844 (73,7%) is veroordeel. Postmasburgers soos P J Snyman, J G Coetzee, J A Jooste, P J Venter, J J Viljoen, J C Maritz en J H van Staden is almal na Tokai (naby Kaapstad) verban, terwyl ene Van der Berg na Ceylon gestuur is.(25) Die Briste militêre opperbevel het nie die beleid van verskroeide aarde streng in Griekwaland-Wes toegepas nie (waarskynlik omdat dit deel was van die Kaapkolonie) en slegs vier kinders (tussen twee en elfjaar) van Postmasburg het in die Vryburgse konsentrasiekamp gesterf, terwyl W A Venter in Indie aan koors beswyk het.(26)


Penkop-rebelle van Postmasburg

Die oorlog het die gemeenskap geheel en al ontwrig, want alles het eensklaps tot stilstand gekom: geen kerkdienste is gehou nie, die dorpsbestuursraad het tot niet gegaan, die posdiens en sittings van die periodieke hof is opgeskort en geen onderwys is gegee nie. Boonop het die inwoners baie besittings (veral vee) verloor en die reeds bestaande armoede (onder meer veroorsaak deur die runderpes van 1897) is vererger sodat sommiges selfs regeringshulp moes ontvang. Verder is Postmasburg met 'n vlugteling-armblankevraagstuk opgesaal, want ongeveer 50 Blanke families uit Brits-besette gebiede het gedurende die oorlog op Postmasburg gaan skuil en moes na die oorlog rantsoene ontvang om aan die lewe te bly. Die Boere het die dorp in 'n chaotiese toestand agtergelaat. Die poskantoor en hofsaal is as stalle gebruik, diere is sommer in die strate geslag sodat velle en afval oral rondgelê het, en klere is in die openbare fontein gewas.(27) Verder het verbitterdheid en onderlinge twis vir jare na die oorlog hoogty gevier. So het die mense Thomas Green, wat lojaal gebly het, uit vergelding geboikot en so getreiter dat hy die dorp moes verlaat en by die regering om hulp aangeklop het.(28)

VOETNOTE:
1. Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad (KAB), 1/GSD 6/31: Veldkornet, Koopmansfontein - Resident-magistraat en Siviele Kommissaris, Hay, 21.10.1899; Cape of Good Hope Government Gazette; 17.11.1899, p. 2408.
2. KAB, PWD 1/2/16 (lêer B14): W. Mason, Kimberley - J. Lawrens, 21.3.1902; kyk ook L.S. Amery (red.), The Times History of the war in South Africa 1899-1902, II (London, 1902), p. 297.
3. History of the war in South Africa 1899-1902, compiled by direction of His Majesty's Government III (Londen, 1908), pp.1-2; KAB, AG 3407: Kroon teen A.J. Eysele op aansklag van hoogverraad. Verklaring van T.H. Scherman, 12.7.1900.
4. KAB, AG 3407: Voorlopige ondersoek, Kroon teen P.J. Snyman op aanklag van hoogverraad. Verklaring van J.J. Broekhuizen, 15.9.1900.
5. KAB, AG 3408: Resolusie van die krygsraad, Griekwastad, 30.3.1900; voorlopige ondersoek, kroon teen G.H.J. van der Walt op aanklag van hoogverraad. Verklarings van F.W. Daniel en Adam Gossa.
6. Amery (red.), op cit, pp. 229-235; History of the war in South Africa ... III, pp 17-22.
7. W.W. Williams, The life of General Sir Charles Warren (Oxford, 1941), pp. 391-394.
8. KAB, AG 3408: Voorlopige ondersoek, Kroon teen G.H.J. van der Walt op aanklag van hoogverraad. Verklarings van J.J. Schoeman en J.D. Aucamp, en petisie van 41 Boere van wyk nr. 4 aan veldkornet J.D. Aucamp.
9. Amery (red.), op. cit., pp. 235-236; History of the war in South Africa... III, pp.25-26 en 589.
10. KAB, AG 1361 (lêer 63/04): Siviele kommissaris, Hay - Sekretaris van die Regsdepartement, 10.3.1903.
11. KAB, l/GSD 1/24: Hoogverraadsake (terugverwys), pp.1-16; 1/GSD 2/5: Kriminele rekordboek, November 1902-Januarie 1911: lêers 40, 45, 53, 71 en 76; Landdroskantoor, Griekwastad, Distrik rekordboek, pp. 1-2.
12. Ibid
13. G.40-1902 Cape of Good Hope, Report of the postmaster-general for the year 1901 (Kaapstad, 1902), p. 13.
14. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek III (Kaapstad, 1977), p.223.
15. G.40-1902, op. cit., pp.11, 13 en 72; KAB, AG 1361 (lêer 63/04): Siviele Kommissaris, Hay - Sekretaris van die Regsafdeling; Landdroskantoor, Griekwsstad, Distrik rekordboek, p.26.
16. Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria (TAB), A313 5 Generaal J.H. de la Rey-versameling: Verslag van Genl. P.J. de Villiers oor gevegte vanaf 25 Julie 1901 - Generaal J.H. de la Rey, ongedateerd, pp.1-2; J.J. Oosthuizen, Jacobus Hercules de la Rey en die Tweede Vryheidsoorlog (D.Phil., P.U. v. C.R.O., 1949), pp. 501-502.
17. Vergelyk KAB, AG 3407: Kroon teen P.J. Snyman op aanklag van hoogverraad. Verklaring van T.L. Graham, ongedateerd; 1/GSD 1/24: Hoogverraadsake (terugverwys), Julie 1900 - Augustus 1902.
18. Vergelyk KAB, 1/GSD 6/31: J.A. Louw, Clunie - Resident-magistraat en Siviele Kommissaris, Hay, 21.1.1902, en J.D. Aucamp, Postmasburg - Siviele Kommissaris, Hay, 16.6.1900.
19. TAB, A313 5: P.J. de Villiers - J.H. de la Rey, 1.10.1902. p.2.
20. Ibid, pp. 2-4; Oosthuizen, op. cit, p.506.
21. F.E. Whitton, The history of the Prince of Wales's Leinster Regiment ...(Aldershot, 1924), p. 146.
22. TAB, A 313 5: Verslag van P.J. de Villiers oor gevegte vanaf 25 Julie 1901 - J.H. de la Rey, 25.7.1901; A1 96 J.C. Smuts-versameling: P.J. de Villiers, Gazip - Kommandante Maritz en J.L. Theron, en kapt J.J. Smith, 18.12.1902.
23. TAB, A 313 5: P.J. de Villiers, Postmasburg - J.H. de la Rey, 1.2.1902 en 21.3.1902; Oosthuizen, op. cit, p.555. Kyk ook TAB, A1 102: Verslag oor gevegte deur P.J. de Villiers - J.C. Smuts, 17.2.1902.
24. C.J.S. Strydom, Kaapland en die Tweede Vryheidsoorlog (Kaapstad, 1937), pp. 107-108 en 113.
25. Vrystaatse Argiefbewaarplek, Bloemfontein (VAB, A.119.623 Renierversameling: Naamlys van Kaapse rebelle wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) gevange geneem en verhoor is; J.H. Snyman, Rebelle-verhoor in Kaapland gedurende die Tweede Vryheidsoorlog met spesiale verwysing na die militêre howe (1899-1902), Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis 25,1962, p.117; M.L. Lotter, Uit de oorlog Gedichten over gevechten in Griekwaland West, ens., en namen van gevangenen te Tokai ...(Paarl, 1913), pp.44-56; KAB, AG 3549: Volledige register van Klas 1 - rebelle aangekla van hoogverraad, pp.110-114; B. 425 Cape of Good Hope, List of persons convicted of high treason by military and Martial Law courts.
26. W.J. de Klerk, De gesneuwelden en gestorwenen van de Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika gedurende den oorlog 1899-1902 (Pretoria, 1906), pp.4, 13 en 52.
27. KAB, CO 7600 (leer 986): Resident-magistraat, Hay - Onder-koloniale Sekretaris, 7.7.1902; H.W. Masters, Postmasburg - Resident-magistraat en Siviele Kommissaris, Hay, 4.7.1902, en Onder-koloniale Sekretaris - Siviele Kommissaris, Hay, 18.7. 1902.
28. KAB, 1/GSD 6/31: T. Green, Kimberley - Resident-magistraat en Siviele Kommissaris, Hay, 17.10.1903.

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org