The South African
Military History Society

Die Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Vereniging



Military History Journal
Vol 6 No 2 - Desember 1983

Die Beersheba-voorval, 23 Maart 1858

deur J.J. Bruwer, MA

Met die aanbreek van die jaar 1858, het die inwoners van die Republiek van die Oranje-Vrystaat ‘n jaar van struwelinge met die Basoetos onder die opperhoofskap van Mosjesj betree. In die oostelike streke van die nuwe Boer-republiek, is die burgers toenemend blootgestel aan vyandige optredes deur die Basoetos. Verskeie waarskuwings vanuit Bloemfontein aan Mosjesj om sy onderdane te weerhou van grootskaalse roof en plundering van vee en eiendom in die O.V.S.-gebied, het sedert die begin van 1858 geen verandering in die stand van sake gebring nie. Etlike Basoeto-kapteins, spesifiek Poshuli en Lebenya, het voortgegaan om die territoriale-soewereiniteit van die Oranje-Vrystaat te skend. Op advies en goedkeuring van die Uitvoerende Raad, en met die gesag aan hom opgedra deur die O.V.S.-Volksraad, het President Boshof op 19 Maart 1858 teen Mosjesj en sy Basoeto-kapteins oorlog verklaar.(1)

Vier dae na die O.V.S.-oorlogsverklaring, is die eerste skote in die O.V.S.-Basoeto-oorlog van 1858 afgevuur. By ‘n sendingstasie van die Franse Sendinggenootskap te Beersheba of Zevenfontein, wes van die Caledon-rivier, het ‘n O.V.S.-kommando op 23 Maart 1858, in ‘n gewapende geveg betrokke geraak met ‘n aantal Basoetos(2), wat by Beersheba, onder die beskerming van die Franse Sendinggenootskap gewoon het. Hierdie gebeurtenis sou sedertdien as die Beersheba-voorval bekend staan, ‘n voorval wat daartoe gelei het dat omvangryke kritiek teen die krygsoptrede van die O.V.S. in die oorlog van 1858 uitgespreek is.

Teen die agtergrond van die aanwesigheid van wyd uiteenlopende en selfs botsende verklarings en beskrywings i v m wat werklik op 23 Maart 1858 by Beersheba plaasgevind het, sal gepoog word om die Beersheba-voorval te rekonstrueer.

Die gebeure by Beersheba op 23 Maart 1858 was die resultaat van die verloop van direk voorafgaande gebeure. Daarom sal aandag geskenk moet word aan dit wat die gebeure van 23 Maart 1858 vooraf gegaan en ook byna onvermydelik gemaak het. In die verband moet na etlike korrespondensie gekyk word wat voor 23 Maart 1858 verskyn het en wat betrekking het op die posisie en rol van die inwoners van die Beershebasendingstasie teen die agtergrond van die toename van vyandelikhede sedert Februarie 1858 tussen die Oranje-Vrystaat en Mosjesj se Basoeto-nasie.

Nadat ‘n wapenstilstand op 1 Junie 1858 tussen die Oranje-Vrystaat en Mosjesj gesluit is(3), het die Britse Goewerneur van die Kaapkolonie Sir George Grey, onderneem om as bemiddelaar tussen die Republiek van die Oranje-Vrystaat en die Basoeto-opperhoof Mosjesj op te tree. Tydens ‘n konferensie op 16 September 1858 by Beersheba self, tussen ‘n Basoeto-afvaardiging, ‘n O.V.S.-Kommissie, en Sir George Grey, is ‘n dokument wat opgestel was deur Eerw. S. Rolland van die Beersbeba sendingstasie, getiteld ‘The Beersheba Affair’, aan Grey voorgelê op versoek van Mosjesj.(4) In hierdie dokument het Eerw. Rolland sy indrukke van die gebeure van 23 Maart 1858 by Beersheba weergegee en die breë verloop van gebeure geskets wat die Beersheba-voorval voorafgegaan en tot die voorval self gelei het. Rolland het die O.V.S.-optrede in hierdie voorval veroordeel.

In antwoord op die voorlegging van ‘The Beersheba Affair’-dokument aan Grey, het die O.V.S.-Kommissie wat deur die O.V.S.-Volksraad aangestel was om die Oranje-Vrystaat tydens Grey se bemiddeling te verteenwoordig, ‘n nota aan Grey self voorgelê (onderteken op 27 September 1858 deur H.A. Hamelberg, die Voorsitter van die O.V.S.-Kommissie) waarin kommentaar gelewer is op die inhoud van die dokument wat deur Rolland opgestel was.(5) In wat genoem mag word die O.V.S.-nota van aanmerkings van 27 September 1858, is gepoog om die ‘onwaarhede’ in die dokument ‘The Beersheba Affair’, bloot te lê. Vir die regering van pres. Boshof was die dokument van Rolland meer as slegs ongevraagd. Was die gebeure van 23 Maart 1858 dan nie reeds iets van die verlede nie? ‘Were it not for the positive decision by His Excellency (Grey) that the ... Document (‘The Beersheba Affair’) must be regarded as proceeding from Moshesh, the Commission would probably not have answered it at all’.(6)

Ten einde die Beersbeba-voorval te rekonstrueer, blyk die dokument ‘The Beersheba Affair’ en die O.V.S.-nota van aanmerkings van 27 September 1858, van onskatbare waarde te wees. In die laaste instansie dien die geringe korrespondensie wat na afloop van die Beersheba-voorval tussen verskeie persone plaasgevind het, i v m die voorval self as waardevolle hulpmiddele by die rekonstruksie van die Beersheba-voorval.

Die omvangryke mate waartoe verskeie Basoetobendes voor die O.V.S.-oorlogsverklaring van 19 Maart 1958, blanke-inwoners wes van die Caledon-rivier gemolesteer, eiendom op plase vernietig en vee geroof het, sou nie vir ‘n onbepaalde tyd lank deur die O.V.S.-regering geduld kon word nie. Die voortsetting van roof en verwoesting in die oostelike-distrikte van die Oranje-Vrystaat deur die Basoeto-kapteins Poshuli en Lebenya, was snel besig om die geduld van die O.V.S.-regering tot breekpunt te dryf.

In ‘n brief op 22 Februarie 1858 het mnr J. Sauer, die landdros van Smithfield, dit noodsaaklik geag om Moeletsi, een van die Basoeto-kapteins wat by Beersheba gewoon het, te versoek om nie met ‘n jagtog, soos deur hom beplan, in die O.V.S.-gebied voort te gaan nie, en sy onderdane by die sendingstasie te hou ‘until peace and tranquillity can be restored on the frontier’.(7) Aan hierdie versoek, wat deur die Eerwaarde S. Rolland, die stigter en hoof van die Beersheba-sending stasie, sedertdien beskryf is as ‘the beginning of the unhappy affair of Beersheba ...’(8), het Moeletsi gehoor gegee.

In 'n verdere brief op 24 Februarie 1858 het Sauer 'n kortbondige waarskuwing aan Rolland gerig: 'By order of the President, I have to request you to give orders to the people on your Station to remain still and quiet, whatever may happen, for if they are found armed, the Station will pay for it most dearly and be broken up ('opgebroken worden’). Be so good as to translate the above to the Chief Moeletsi’.(9) Hierdie waarskuwing aan Rolland kan as baie betekenisvol geag word. In die eerste plek was die brief van 24 Februarie 'n duidelike waarskuwing aan die Basoetos van Beersheba om nie wapens met hulle rond te dra nie. In die lig van wat op 23 Maart 1858 by Beersheba plaasgevind het, is dit noodsaaklik om in die tweede plek daarop te let dat Sauer in geen onduidelike terme nie, die O.V.S.-regering se vasberadenheid te kenne gegee het om strafmaatreëls van stapel te stuur, indien die Beersheba-bewoners nie aan die eis i v m ontwapening gehoor sou gee nie. Dit is in die derde plek interessant om daarop te let dat, soos in die geval met die Sauer-brief van 22 Februarie, in die besondere tot Moeletsi in die brief van 24 Februarie gespreek is.

Die aard van die reaksie by Beersheba op Sauer se brief van 24 Februarie 1858, was vir die regering van pres. Boshof, genoegsame bewys dat die Beersheba-sendingstasie besig was om tot 'n ‘kopseer’ te ontwikkel. In die woorde van Rolland het die bevel vervat in die Sauer-brief van 24 Februarie, gelei tot die ontstaan van "a great sensation amongst the chiefs and people (van Beersheba). Moeletsi said, "We can receive orders only from Moshesh, and the President has no right to rule over us. Nehemia (seun van Mosjesj) also disapproved of this way of acting ... I (Rolland) stated to the people that in my opinion the President had no right to give orders to Moshesh's people""(10) Alhoewel Moeletsi, Mareka en Mooi, die Barolong-kaptein te Beersheba, direk hierna aan Rolland beloof het om neutraal te staan in 'n moontlike gewapende botsing tussen die Oranje-Vrystaat en Poshuli (11), is dit tog nodig om vir 'n verder wyle by die reaksie vanaf die kant van die Beersheba-kapteins, tot die O.V.S. bevel van 24 Februarie stil te staan.

Die sendingstasie Beersheba het sedert die vasstelling van die grenslyn van 1849, deel gevorm van die gebied wat sedert 1854, as die Republiek van die Oranje-Vrystaat bekend sou staan - 'n feit wat aan pres. Boshof die onbetwiste reg gegee het om teen so laat as Februarie 1858 ‘door den Landdrost (Sauer) aan de bevolking der Statie (Beersheba) zoodanige orders te doen geven, als welke tot het bewaren der rust in dat gedeelte van het land noodig geacht werden’(12). Die "teensinnige" wyse waarop die naturelle-kapteins van Beersheba tot die handhawing van 'n posisie van neutraliteit toegestem het, is 'n faktor wat daarna 'n vername en ook bepalende rol in die verhouding tussen die O.V.S.-regering en die Beersheba-sendingstasie gespeel het.

In die lig van 'n toenemende verslegting in die verhoudinge tussen die O.V.S.-regering en Mosjesj, weens laasgenoemde se ‘onvermoë’ om sy kapteins in toom te hou, het mnr J. Sauer en Nehemia Mosjesj mekaar ontmoet in 'n poging om tot 'n verstandhouding te kom, en die moontlike uitbreek van 'n O.V.S.-Basoetoe-oorlog te verhoed. Op versoek van Nehemia Mosjesj het 'n aantal Basoetos van Beersheba, hierdie ontmoeting op 3 Maart 1858 bygewoon(13). Terwyl Rolland meld dat slegs enkele van die Beersheba-Basoetos gewapend na hierdie ontmoeting gegaan het, word die standpunt gehuldig dat ‘Al die naturellen, welke de bijeenkomst hebben bijgewoond, van wapenen voorzien’ (14) was. Hoe dit ookal sy, die blote feit dat sommige Beersheba-Basoetos hierdie ontmoeting op 3 Maart 1858 wel gewapend bygewoon het, was 'n verontagsaming van die waarskuwing wat Sauer op 24 Februarie aan hulle gerig het.

Die mate waartoe Sauer in sy ontmoeting met Nehemia Mosjesj op 3 Maart 1858, ongetwyfeld nie tevrede was met die aanwesigheid van ‘gewapende’ Beersheba-Basoetos by die ontmoeting self nie, blyk duidelik uit die mededeling wat Nehemia in die verband tot Rolland gerig het, tydens 'n ontmoeting op 10 Maart 1858 tussen pres. Boshof en Nehemia self: ‘Mr Sauer was not pleased at your people coming to the last meeting. I have not invited them this time ... It is ... better that they remain on your side of the river, lest they should again be found fault with’.(15)

Teen die agtergrond van die O.V.S.-oorlogsverklaring van 19 Maart 1858, is 'n besluit tydens 'n sitting van die Uitvoerende Raad op 19 Maart 1858 in Bloemfontein geneem, wat vêrreikende gevolge vir die Beersheba-sendingstasie self tot gevolg sou hê, ‘the population of Beersheba or Zevenfontein must be brought into subjection to this State; in case of resistance, should need be, the force of arms must be employed against it. All subjected persons shall be compelled to quit the Station ... until war be at an end, the Chiefs residing at such station, or principal persons, shall be detained as hostages’.(16)

Die regering van pres. Boshof het die Beersheba-sendingstasie as 'n potensiële ‘struikelblok’ in die bewerkstelling van 'n Basoeto-nederlaag beskou. Hierdie realisasie aan die kant van die O.V.S.-regering word duidelik weerspieël in 'n brief wat J.W. Spruit, die O.V.S.-Goewerments-Sekretaris, aan Landdros Sauer op 19 Maart 1858, waarin die bevel aan Sauer opgedra is om 'n kommando na Beersheba te lei; alle onderdane van Mosjesj by Beersheba weg te dryf en te onderwerp; beskerming te verleen aan die Beersheba Basoetos wat nie die gesag van Mosjesj aanvaar nie; en as 'n verdere veiligheidsmaatreël, die kapteins van hierdie mense, of sommige van die kapteins se seuns, as gyselaars te neem, ‘or should need be, that you also disarm them; in the event of their non-compliance, or of their violent resistance, you (Sauer) can drive them away by force, carefully bearing in mind that the missionaries and their families continue wholly unmolested ... you can take measures that the missionaries ... remain at Zevenfontein, and that all communications thence with the Basutos be prevented, on pain of being dealt with according to law’.(17)

Die regering van die Oranje-Vrystaat was vasbeslote om die moontlikheid van vyandige optrede deur die Beersheba-Basoetos in die komende militêre konfrontasie tussen die O.V.S. en Mosjesj, in die kiem to smoor. Tegelykertyd is ‘n duidelike onderskeid getref tussen die onderdane van Mosjesj en die naturelle en sendelinge van Beersheba wat nie die gesag van Mosjesj aanvaar het nie, ‘I shall march tomorrow morning against Beersheba’, het Sauer in ‘n brief op 22 Maart 1858 gemeld, waarin hy Spruit meegedeel het dat Kommandant Weber en Van der Walt 100 man gesamentlik na Beersheba sou lei, ‘n verdere 100 man in ‘n posisie geplaas sou word om Nehemia ‘in check’ te hou, terwyl deur Kommandant Ackerman ‘n verdere 100 man, en deur Veldkornet Taljaard 60 man voorsien sou word, ‘so that a favourable result may be calculated on’.’(18)

Terwyl Sauer voorbereidings getref het om na Beersheba te gaan ooreenkomstig die instruksies soos aan hom opgedra in die Spruit-brief van 19 Maart 1858, het hy dit terselfdertyd nodig geag om by wyse van Regerings-kennisgewing — uitgevaardig vanaf Smithfield op 22 Maart 1858 — die sendelinge van Beersheba, Rolland en Schuh, Kaptein Mooi van die Barolong, Moelotsi, Kaptein van die Bamonageng, en die res van die Beersheba-bewoners, in te lig i v m sy voorgenome besoek aan Beersheba self op 23 Maart 1858: ‘The Landdrost ... makes known to the Captains of Beersheba that it is the wish of His Honour the President that they give a suitable guarantee for their quiet behaviour, to obtain which the Landdrost will come tomorrow to Beersheba to make arrangements on the subject. Since war has been proclaimed, it cannot be expected that the Landdrost can come unarmed, and the Landdrost therefore desires that the said Missionaries will make this known to the people of Beersheba, in order that no uncalled for excitement or fear may be produced, for the coming of the Landdrost is of an altogether friendly nature’.(19)

Indien die naturelle-kapteins van Beersheba bereid sou wees om ‘n belofte van neutraliteit aan Sauer to maak, was daar vir hulle niks om oor bang te wees nie. By Beersheba, soos dit later sou blyk, is die regerings-kennisgewing nie vriendelik ontvang nie. Rolland het nogtans positief op hierdie kennisgewing gereageer: ‘I have received your communication of to-day, in which you make known to us that His Honour the State’s President has declared war against Moshesh and his tribe, and the intention of your government to treat as friendly those Natives who shall keep a strict neutrality. That is my desire, and I dare say that of the people of this place, to do the same. I have read your communication to the chiefs, and they say they will hear you tomorrow’.(20)

Wat Rolland betref was al die Beersheba-kapteins en hulle onderdane bereid om ‘n neutrale-posisie te handhaaf met betrekking tot die O.V.S.-oorlogsverklaring van 19 Maart 1858. By hom het daar geen twyfel bestaan dat slegs ‘vredeliewende’ Basoetos teen so laat as 22 Maart 1858 by Beersheha woonagtig was. Indien daar op hierdie stadium enige opposisie deur een of meer van die Beersheba-kapteins tot die voorgenome besoek van Sauer uitgespreek was, het Rolland geen melding daarvan in sy brief van 22 Maart 1858 aan Sauer gemaak nie.

Slegs drie dae na die uitvaardiging van die Proklamasie vanuit Bloemfontein, op grond waarvan die wapen deur die regering van pros. Boshof teen die Basoeto-nasie opgeneem is, het ‘n O.V.S.-kommando op die oggend van 23 Maart 1858, om 04h00, vanuit Smithfield na Beersheba vertrek.(21)

Alvorens oorgegaan word tot die gebeure te Beersheba op 23 Maart 1858, is dit noodsaaklik om 'n aspek wat in meer as een opsig gepaard gaan met die gebeure wat op 23 Maart 1858 by Beersheba plaasgevind het, te ondersoek. Hiermee word verwys na die vraag — wat sedert die gebeure van 23 Maart 1858 as ‘n strydvraag na vore getree het, naamlik, in welke mate landdros Sauer ten tye van sy vertrek vanaf Smithfield, werklik geïnteresseerd was om ‘n ‘vriendelike besoek’ aan Beersheba to bring’.(22)

Ten tye van die ontvangs van die regerings-kennisgewing van 22 Maart 1858 to Beersheba, op grond waarvan Rolland vir die eerste maal te wete gekom het dat die Oranje-Vrystaat en Mosjesj in ‘n staat van oorlog verkeer het, was die O.V.S.-kommando, in die woorde van Rolland, reeds op pad na Beersheba, ‘or at least, the order to march had already been given, not to come as stated, and arrange matters in a friendly way, but, as I afterwards learned, with the intention of attacking the Station’.(23)

Volgens Rolland was dit die doel van die O.V.S.-regering om die Beersheba-sendingstasie met geweld aan te val. Ter ondersteuning van hierdie standpunt word o m verwys na die besluit van 19 Maart 1858 deur die O.V.S.-Uitvoerende Raad aangaande O.V.S.-optrede teen die Beersheba-sendingstasie: ‘The people as well as myself were unaware of what had been decided on by the Executive Council, and still trusting to the assurance given to us by the Landdrost, we expected to be treated in a friendly manner ...’(23) Die brief van Sauer aan Spruit op 22 Maart 1858, het vir Rolland as verdere getuienis gedien dat eerlikheid aan die kant van Sauer ontbreek het. In hierdie brief is verslag gedoen oor voorbereidings om met ‘n groot kommando na Beersheba to vertrek, terwyl Sauer in die regerings-kennisgewing aan die Beersheba-sendelinge en naturelle-kapteins op 22 Maart, terselfdertyd in terme van sy voorneme gepraat het om ‘n ‘vriendelike’ besoek aan Beersheba te bring.(24)

In teenstelling tot die betoog deur Rolland is die standpunt deur die regering van pres. Boshof gehuldig dat dit die voorneme van Sauer, op bevel van die O.V.S.-regering was, om wel op vriendskaplike wyse na Beersheba te gaan; .. ‘een aanval lag alleen in de bedoeling, in geval door het gedrag der inwoners van Beersheba eene vriendschappelijke regeling der zaken mogt blyken onmogelyk te wezen.’(25) Waar gelet word op artikel 4 van die besluit van 19 Maart 1858 deur die Uitvoerende Raad blyk dit duidelik dat die implementering van geweld teen die Basoetos van Beersheba slegs ‘n alternatiewe riglyn van O.V.S.-optrede was. Slegs ‘in geval van tegenstand’(26) vanaf die kant van die Beersheba-Basoeto-bevolking, sou Sauer geweld teen hulle gebruik. Die beoefening van diplomasie, nie geweld nie, is in artikel 4 van die 19 Maart-besluit, as prioriteit in enige O.V.S.-optrede teen die Beersheba-sendingstasie, beklemtoon. Dit sou foutief wees om die inhoud van Sauer se brief van 22 Maart 1858 aan Spruit in isolasie uit te rafel. Hierdie brief is in antwoord op die brief van Spruit van 19 Maart 1858 aan Sauer geskryf. Teen hierdie agtergrond van die instruksies vervat in die brief van Spruit van 19 Maart 1858, wil dit selfs voorkom dat Rolland verkeerdelik geglo het dat die woorde ‘Op morgen ochtend vroeg zal ik tegen Zevenfontein optrekken’ en ‘zoodat de uitslag zeker gunstig zal zijn’, ‘n vyandige bedoeling veronderstel het.(27)

In die periode tussen die ontvangs van Sauer se brief van 22 Maart 1858 en sy aankoms by Beersheba, het verwikkelinge by die sendingstasie plaasgevind wat drastiese gevolge vir die bewoners voorspel het en ‘n bepalende invloed op die gang van gebeure op 23 Maart 1858 sou uitoefen. In die woorde van Rolland is ‘n brief vanuit Smithfield aan die inwoners van Beersheba gestuur, ‘stating that a commando was on its way that evening to destroy Beersheba by next morning, Moeletsi had also received a verbal message to the same effect, and those reports spreading, the people became alarmed and began to flee from the Station during the night’.(28)

Terwyl landdros Sauer ‘n sterk vraagteken sou plaas agter die moontlikheid dat so ‘n brief en mondelinge boodskap enige waarheid omsluit het(29), was die effek daarvan nogtans van so ‘n aard dat ‘onsekerheid’ by die Beersheba-sendingstasie i v m die ware motief onderliggend aan die komende Sauer-besoek, vergroot is. In die atmosfeer van toenemende ‘onsekerheid en rusteloosheid’ by Beersheba, het Moeletsi die sending-stasie met sy familie ‘and the greater part of his men capable of bearing arms ...’ verlaat.’(30)

Gebeure was besig om mekaar snel op te volg. Op weg na Beersheba het landdros Sauer ‘n boodskap vanaf Rolland ontvang wat hom ongetwyfeld tot onrus gestem het. Rolland het vir Sauer ‘n donker prentjie i v m die stand van sake by Beersheba geskets. ‘Some of the people, (met verwysing na Moeletsi) are deceiving me ... They have alarmed the peaceful party, Mooi, Mareka, and others, Bastards and Fingos. All sorts of bad reports come to us from Smithfield ... In such an affray (fright) if you think proper to come, you must do it with the greatest prudence. I would have liked you to give them a day, and those who are for war let them go to the enemy’.(31)

Dit was in die lig van Rolland so boodskap dat Sauer heelwaarskynhik die besluit geneem het om ‘versigtigheid’ met sy aankoms by Beersheba aan die dag te lê. Dit is interessant om weer eens op die woorde, ‘those who are for war let them go to the enemy’, van Rolland te let. Hier het Rolland inderwaarheid erken dat ‘n vyandige element wel steeds by Beersheba aanwesig was.(32) Dus, terwyl Sauer van voorneme was om ‘n ‘vriendelike’ besoek aan Beersheba te bring, was hy terselfdertyd bewus van die moontlikheid, danksy die boodskap, dat meer as diplomasie nodig sou mag wees om die opdrag van die O.V.S.-Uitvoerende Raad van 19 Maart 1858, uit te voer.

Teen ongeveer 09h00 op die oggend van 23 Maart 1858 het die O.V.S.-kommando by Beersheba aangekom.(33) Terwyl Rolland sou meld dat die O.V.S.-burgers Beersheba vanuit ‘every direction’ genader, en ‘n posisie ‘in the village in the midst of the town without any opposition’ ingeneem het’(34), is die standpunt vanaf O.V.S.-kant gehuldig dat Beersheba vanuit twee verskillende rigtings genader is, en twee stellings ingeneem is; een onder kommandante Weber en Van der Walt, en die ander onder kommandant Ackerman.(35)

In wat ookal die spesifieke strategie deur die kommando gevolg met sy aankoms by Beersheba, blyk een feit duidelik, naamlik, die versigtigheid wat deur Sauer aan die dag gelê is om 'n moontlike hinderlaag by Beersheba te vermy. Wat Sauer betref sou dit dwaasheid wees om die waarskuwing in die Rolland-boodskap te ignoreer. ‘n Boodskapper vanaf O.V.S. kant is onmiddellik na Rolland gestuur om te verneem of vrede by die sendingstasie geheers het. ‘I (Rolland) answered “peace”, and added that Moeletsi and all who could have shown any opposition had left and crossed the Caledon’.(36)

In ‘n toestand van toenemende spanning is ‘n O.V.S.-burger, ene Janson, na Rolland gestuur met ‘n eis wat die hele Beersheba-sendingstasie ‘n ruk hierna, in ‘n toestand van chaos omskep het. Die eis was dat indien alle wapens nie binne vyf minute neergelê word nie, die O.V.S.-burgers genoodsaak sou wees om op die bewoners van Beersheba te vuur.’(37) As gevolg van hierdie eis het Rolland die Beersheba-kapteins, Mooi en Mareka versoek, om alle wapens in hulle en hulle onderdane se besit, bymekaar te maak, en na die huis van Rolland te neem vir oorhandiging aan die O.V.S.-burgers. Wat daadwerklik hierna gebeur het, blyk omstrede te wees, in die lig van die aanwesigheid van uiteenlopende en verskillende beskrywings in die verband.

Wat met sekerheid aanvaar mag word is dat Kaptein Mareka aan Rolland as volg gemeld het: ‘the Landdrost has already all my guns in Smithfield with my children who were taken prisoners’.(38) Wat Mareka betref, was daar geen gewere aan sy kant om uit te lewer nie. Was Mareka en sy volgelinge op hierdie stadium werklik in die besit van geen enkele geweer nie? Op 20 Maart 1858 is gewapende Basoetos, waarvan twee, kinders van Mareka was, op O.V.S.-grondgebied in hegtenis geneem, en is nege gewere van hulle afgeneem.(39)

In teenstelling tot Mareka, was Mooi wel bereid om sy wapens en die van sy volgelinge aan die O.V.S.-burgers uit te lewer. Hierdie bereidwilligheid aan die kant van Mooi, het die wyse waarop hy deur die O.V.S.-burgers later op 23 Maart 1858 behandel is, geregverdig. In die woorde van Rolland het dertien gewere reeds voor sy huis op ‘n hoop gelê, en was hy besig om verdere gewere bymekaar te maak, ‘when the cannon opened fire. This was the signal for a general fusilade, which lasted for 10 to 15 minutes. I (Rolland) was of course obliged to discontinue, and take refuge in my house, the people alarmed rushing in after me’.(40) Uit hierdie beskrywing van Rohland mag die indruk geskep word dat die O.V.S.-burgers geen rede gehad het om te begin vuur nie. Was Rolland dan nie steeds besig om wapens te versamel nie? Waarom die onverwagte en ongevraagde kanonskoot?

Vanaf O.V.S.-kant is verklaar dat die burgers geensins begin vuur het sonder grondige redes nie. In die eerste plek is die eis i v m die uitlewering van wapens binne die bestek van 2 uur, nie minder nie as drie maal herhaal; die kanon is afgevuur nadat dit duidelik geblyk het dat Kaptein Mareka, ‘n onderhorige van Mosjesj, tesame met ‘n aantal ander Basoetos, nie bereid was om hul wapens uit te lewer nie, en ‘n groepie Beersheba-Basoetos, op burgers onder die bevel van veldkornet Du Plessis, begin vuur het.(41)

Teen die agtergrond van verdere verwikkelinge by Beersheba op 23 Maart 1858, is dit nodig om te meld dat verskeie Beersheba-naturelle wel teensinnig was om hul wapens neer te lê. Nadat die bevel om staakvuur gegee is, was daar steeds genoegsame wapens binne die geledere van die Beersheba-Basoetos aanwesig, vir die plaasvind van die latere geveg op 23 Maart met die O.V.S-burgers. Intussen was landdros Sauer meer as ooit tevore vasbeslote om die Beersheba-sendingstasie van vyandige Basoetos te vrywaar. 'n Verdere vergieting van blood by Beersheba op die 23ste Maart was die onvermydelike resultaat.

Nadat die O.V.S.-burgers hul vuur gestaak het, is ‘n verdere eis, volgens Rolland, aan die Beersheba-bewoners gerig. Die stel van hierdie eis, en die gebeure wat direk hierop gevolg het, is as volg deur Rolland beskryf: ‘After the firing had ceased, came another order, of 5 minutes like the first, for the people to deliver all their cattle. It was instantly complied with by the chiefs (Mooi en Mareka) and the people, and the cattle were driven to the commando. Either from fear, or the summons not having reached it, one cattle kraal (in die Lichaba-stat) at a distance from my house remained unopened, and a second firing (van tien minute lank) followed like the first. The firing had caused some of my horses and cattle to spring out of the kraal, but it was also opened and everything in it driven out’.(42) Dit is teen die agtergrond van hierdie beskrywing van gebeure deur Rolland, dat ‘n mens te staan kom teen ‘n muur van algehele teenspraak tussen twee dokumente.

Is ‘n eis om hul beeste uit te lewer, werklik vanaf die O.V.S.-kommando tot die Beersheba-bewoners gerig? In die O.V.S.-nota van aanmerkings op die dokument ‘The Beersheba Affair’, word die interessante verskynsel aangetref dat Sauer onomwonde sou ontken, dat so 'n eis of bevel ‘ooit gegeven’ was: ‘Het vee is niet door de bewoners der statie opgeleverd, maar door de burgers in het commando na het gevecht bij elkander gemaakt; Het tweede en laatste gevecht had niet plaats der zake van eene niet geopende veekraal ...; De kraal van den Hr. Rolland ... is niet opengemaakt. Al het vee, dat daarin geweest kan zijn, is gedurende het gevecht daaruit gebroken’.(43)

Die eis aangaande die uitlewering van vee, bly ‘n kwelpunt. Wat wel met sekerheid vasgestel kan word is dat 'n aansienlike mate van verwarring op hierdie stadium by die Beersheba-sendingstasie geheers het. ‘n Skriftelike berig is nou aan Rolland gestuur, waarin die vraag gestel is of die Beersheba-Basoetos, wat steeds in besit van wapons was, bereid sou wees om van hul wapons afstand te doen. Hierdie berig het as volg gelui: ‘23 Maart 1858. Aan de Wel Eerw. Heer Rolland, Zijn de kaffers genegen thans hunne wapenen afteleggen. J. Sauer, Landdrost’.(44) Landdros Sauer se geduld was stadig maar seker besig om op te raak. ‘n Verdere aantal gewere wat Rolland intussen met moeite versamel het, is aan die burgers oorhandig.(45)

Standpunte loop weer eens wyd uiteen i v m wat presies hierna gebeur het. Volgens Rolland is ‘n O.V.S.-burger na sy huis gestuur met die mededeling dat die slag verby was, waarna die burger op ‘n wa geklim en namens Sauer vrede aangekondig het: ‘He added that as the Landdrost was unable to come in person, the chiefs were requested to go to him and settle matters. I sent Mareka and Mooi immediately’.(46) Wat Rolland betref, het die burger die voorneme van Sauer dat geen enkele skoot sedertdien deur die O.V.S.-kommando afgevuur sou word nie, duidelik bekendgemaak.

Sauer het ontken dat hy ‘n burger na Rolland gestuur het met ‘n boodskap dat die slag verby was. Verder het Mareka, Mooi, en ses tot sewe ander kleurlinge na hom gegaan sonder enige bevel in die verband vanaf Rolland.(47) Die slag was dus nie verby nie. ‘n Aantal Beersheba-Basoetos het steeds hardnekkig geweier om hul wapens aan Sauer uit te lewer.

Volgens Rolland is Mareka met sy aankoms by Sauer se stelling, tot ‘n krygsgevangene van die Oranje-Vrystaat verklaar, en meegedeel dat al sy besittings gekonfiskeer sou word, ‘being charged with having sent nine of his young men a day or two before as spies on a lager of Boers, — though Mareka and others had declared to me that those young men had gone to look for horses ...’.(48) Dit kan wel met sekerheid aanvaar word dat die ontvangs wat Mareka te beurt geval het met sy aankoms by die O.V.S.-stelling, geensins ‘vriendelik’ was nie. Mareka was beskou as ‘n vyand van die Republiek van die O.V.S. en is dienooreenkomstig behandel. Meer spesifiek is Mareka, in teenstelling tot die rede aangevoer deur Rolland, tot ‘n krygsgevangene verklaar, omrede hy homself ‘te Beersheba op 23 Maart met zijn volk als vijand tegen onze burgers heeft gedragen’.(49)

In teenstelling tot Mareka was die behandeling wat Kaptein Mooi te beurt geval het, nie ‘vyandig’ van aard nie. Aan Mooi het landdros Sauer die versekering gegee dat sy besittings sowel as die van sy onderdane, nie gekonfiskeer sou word nie, dat sy stat deur die O.V.S.-burgers gerespekteer sou word, en dat hy hom na Smithfield sou moes vergesel as ‘n gyselaar van die Oranje-Vrystaat tot tyd en wyl die O.V.S.-Basoeto-oorlog verby was.(50) Die O.V.S.-optrede teenoor Mooi het inderwaarheid ooreengekom met die reeds vermeld besluit deur die Uitvoerende Raad van 19 Maart 1858 te Bloemfontein. Mooi het van meet af aan die eis gehoor gegee om sy wapens uit te lewer.

Die feit dat die Beersheba-bewoners nou sonder ‘n leier was, het die toestand van verwarring en onsekerheid, wat reeds vir ‘n geruime tyd onder hulle geheers het, ongetwyfeld groter afmetings laat aanneem. Buiten Rolland was daar op hierdie stadium geen persoon wat die bevoegdheid en meer nog, oor die gesag beskik het, om ‘n mate van orde te bewerkstellig in ‘n situasie van toenemende chaos onder die Beersheba-bewoners nie.

Dit was in hierdie situasie van besluitloosheid, dat ‘n boodskapper, in die woorde van Rolland, na hom gestuur was met ‘n geskrewe bevel vanaf Sauer, waarin gemeld is dat sommige Basoetos by die stat (Lichaba) op die koppie, met gewere gesien is: ‘Aan die bewoners van Zevenfontein. Indien niet alle in vijfminuten bij de woning van den heer Zendeling zijn, zullen zij met hunne leven moeten boeten’.(51)

Vanaf O.V.S.-kant is ten sterkste ontken dat ‘n boodskapper met ‘n verdere bevel na Rolland gestuur is nadat Mooi en Mareka hulself oorgegee het; die skriftelike bevel waarna Rolland sou verwys, is deur Sauer uitgestuur voordat ‘n enkele skoot afgevuur was, ‘en nadat het was gebleken, dat alle pogingen om de bevolking van Beersheba op eene minnelijke wyze tot onderwerping te brengen, vruchteloos waren’.(52) Tog sou Rolland volhou dat hy wel ‘n verdere bevel vanaf Sauer ontvang het. Hy sou selfs verder gaan deur te meld dat hy op hierdie sogenaamde bevel ‘n antwoord aan Sauer gestuur het waarin by gepleit het dat die lewens van die naturelle by die Lichaba-Stat gespaar word.(53) Het Rolland werklik so ‘n antwoord aan Sauer gestuur? Indien wel, wat presies het Rolland aan Sauer geskryf?

Die brief wat Rolland aan Sauer gestuur het, het blykbaar as volg gelui: ‘De wapenen is afgelegen en hier op een op (hoop) by my huis .. Wij geven ons over aan u Barmhartigheid, wees toch genadig aan die volk die vreed verklaard heeft. S. Rolland’.(54) Uit hierdie brief van Rolland blyk dit duidelik dat die stand van sake by Beersheba geensins rooskleurig vir die bewoners self daaruit gesien het nie. ‘n Einde sou tot verdere bloedvergieting en wanorde by die Beersheba-sendingstasie geroep moes word, het ‘al die wapens wat in die besit van die Beersheba-naturelle was, dan nie reeds hul weg na die huis van Rolland gevind nie? Wat duidelik blyk is dat die laasgenoemde Rolland-boodskap aan Sauer, soos dan ook duidelik blyk in die inhoud van die boodskap self, nie in antwoord op die sg bevel betreffende gewere by die Lichaba-stat, geskryf was nie. ‘De Landdrost heeft dit briefie ontvangen bij de terugkomst van den door hem afgezendenen man, die de vroeger vermelde schriftelijke order had overbragt, waarin gevraagd word, of de kaffers nu de wapenen wilden overgeven ...’.(55)

Dit mag debatteerbaar geag word, of Rolland werklik ‘n bevel ontvang het waarin verwys is na die aanwesigheid van gewere in die Lichaba-stat. Desnieteenstaande sou Rolland voortbou op sy betoog, deur te meld dat hy boodskappers onmiddellik na die inwoners van die Lichaba-stat gestuur het om hul mee te deel van die gevaar waarin hul verkeer het. ‘One of these messengers made the following statement concerning those unfortunate young men, whose only fault was hesitation in parting with their guns. He says they were holding their horses by the bridles ready to come to my house when a shot from the cannon shattered the head of one of them’.(56) Weer eens blyk ‘n algehele teenspraak voor te kom tussen die inhoud van twee verskillende dokumente t o v ‘n gemeenskaplike historiese-onderwerp.

Is die kanon van die O.V.S.-kommando werklik by 'n tweede geleentheid op 23 Maart 1858 gebruik? Vanuit die O.V.S-kamp is verklaar dat ses snel-opeenvolgende kanonskote op 23 Maant by Beersheba afgevuur is; ‘Daarna is van het kanon geen gebruik meer gemaakt ...’.(57) Die vraag i v m die gebruikmaking van die kanon by ‘n tweede geleentheid moet dus debateerbaar bly.

Volgens Rolland het nege tot tien inwoners van die Lichaba-stat, nadat die kanon afgevuur is, in ‘n donga gaan skuil waar hulle deur die O.V.S.-burgers doodgeskiet is; drie ander het in ‘n huis gaan skuil en geweier om oor te gee; ‘but they were at last persuaded to come out by some of our people and were made prisoners, and the greater part of the village was set on fire. With this single exception the firing, as far as I (Rolland) know, was all on the side of the Boers. Orders were given that the people might come out of my house, but that they were not to return to their own houses till the search for guns was over. The whole town was given up to pillage, and the Boers loaded themselves with all kinds of booty, clothes, karosses, money ...’.(58)

Dat ‘n tweede geveg tussen die O.V.S.-burgers en verskeie Beersheba-Basoetos op 23 Maart 1858 plaasgevind het, blyk voor die hand liggend te wees. Sedert 23 Maart 1858 is die beskuldiging egter ten sterkste ontken dat die Lichaba-stat afgebrand is; slegs twee tot drie huise, ‘Waarin zich vyandige kaffers verschanst’ was wat geweier het om oor te gee, het in vlamme opgegaan; tweedens is op die burgers nie slegs vanuit hierdie huise gevuur nie, ‘maar ook van andere plaatzen ...’; en het Sauer ontken dat hy enige bevel gegee het soos deur Rolland beweer, of dat burgers hulle aan plundering en rowery skuldig gemaak het. (59)

Vir alle praktiese doeleindes was die moontlikheid van enige verdere gewapende verset deur die Beersheba-Basoetos, iets van die verlede. Terwyl alle uitstaande wapens aan die burgers oorhandig is, het Mooi en Mareka in die geselskap van landdros Sauer, terug na Smithfield vertrek. Vir landdros Sauer en die O.V.S.-regering was die Beersheba-probleem opgelos.

Sauer het ‘n aantal O.V.S.-burgers by die sendingstasie agtergelaat wat ‘n moeilike taak gehad het om orde en wet te bewerkstellig.

Teen die aand van 23 Maart 1858, het mnr Janson ‘n besoek aan die huis van Rolland gebring in die geselskap van ‘n aantal kommandante en veldkornette van die O.V.S.-kommando, waartydens ‘n nota van Sauer aan Rolland getoon is waarin die Beersheba-bewoners gewaarsku was om nie ‘van het eigendom van den Zendeling’ of die van Mooi ‘aan te tasten’ nie. Janson het ook belowe om Rolland se vee op die oggend van 24 Maart bymekaar te maak, en aan hom terug te besorg.(60) Hierdie optrede het Sauer se bereidwilligheid weerspieël om diegene by Beersheba, wat nie die wapen teen die O.V.S.-burgers opgeneem het nie by te staan, en die situasie te help normaliseer. Dit het Rolland vry gestaan om by Beersheba aan te bly, en sy sendingwerk voort te sit. Hierdie standpunt is nie deur Rolland self gehuldig nie. ‘My situation,’ het Rolland gemeld, ‘became unbearable, not merely on account of the distressing pillage going on around me, but on account of the very stringent order of the President, which was sent to me the day after the attack ...’.(61)

Dit is te betwyfel of grootskaalse diefstal en plundering werklik by Beersheba plaasgevind het. Dit is bowendien ook interessant om daarop te let dat die bevel wat deur Rolland ontvang is, deur landdros Sauer, en nie pres. Boshof nie, uitgereik was.(62) Waar na die inhoud van hierdie sg ‘strenge’ bevel gekyk word, blyk dit dat Rolland geen rede tot enige kommer gehad het nie. Die bevel vanaf Smithfield het as volg gelui: ‘All the Basutos belonging to the Chiefs Mareka and Moeletsi, who have been or now are at Beersheba, shall be treated as enemies of this State, and together with the subjects or followers of the abovementioned chief(s) shall enjoy no peace as long as they are found on this side of the Caledon River. The women of Mareka and Moeletsi shall be spared (verschoond), and must go over the Caledon with their children and corn. This however must be quickly done. If Mareka or Moeletsi’s people shall venture to come on the Station, a commando shall come to set all on fire’.(63)

Die ‘strenge’ bevel van Sauer was nie van toepassing op Rolland en die onderhoriges van Kaptein Mooi nie. Dit was allermins die voorneme van die O.V.S.-regering om Rolland as ‘n vyand van die Republiek van die Oranje-Vrystaat te behandel. Die klaarblyklike bevel aan kommandant Ackerman by Beersheba waarin Sauer riglyne i v m die toekomstige behandeling van Moeletsi en Mareka se stamlede aan Ackerman uiteengesit het(64), is deur Rolland geinterpreteer as ‘n O.V.S.-oorlogsverklaring teen homself as persoon. Was Rolland se posisie teen 24 Maart 1858 dan werklik so ‘onuithoudbaar’? Vir Rolland was die antwoord positief, en het hy Beersheba op 26 Maart 1858 verlaat.(65) Hiermee het, in die woorde van Rolland, die ‘ongelukkige’ gebeurtenis by Beersheba, tot ‘n einde gekom.

Die voorlegging van die dokument ‘The Beersheba Affair’ gedurende September 1858 aan Sir George Grey (‘n dokument wat Rolland self geskryf het), is genoegsame getuienis dat Rolland die Beersheba-sendingstasie op 26 Maart 1858 as ‘n ‘verbitterde’ man verlaat het.

In ‘n brief op 7 April 1858 aan Eerw. E. Casalis, die direkteur van die Sending-Genootskap van Parys, het Rolland die volgende gemeld: ‘I left Beersheba, the heart rending with sorrow. It would be impossible for me to describe my feelings. Beersheba exists no longer. Its only fault was being on the frontier. I know no other’.(66) Van sy oortuiging dat daar op die oggend van 23 Maart geen vyandige elemente by Beersheba gewoon het nie, was Rolland nie bereid om van af te sien nie.

In die dokument, ‘The Beersheba Affair’ het Rolland ‘n stap verder gegaan, deur te meld dat die Beersheba-bevolking geensins daarop gerig was om hulself te verset ten tye van die aankoms van die O.V.S.-Kommando by Beersheba nie. ‘The strongest proof’, sou Rolland verklaar, ‘that the people of Beersheba had no intention to fight is that Mr. Sauer found on his arrival (23rd) all their cattle on the place and at the outposts. It is well known that in time of war the cattle, women, and children are removed to a place of safety’.(67)

Ter afronding van sy breë betoog wat neergekom het op ‘n algehele veroordeling van die O.V.S.-optrede by die Beersheba-sendingstasie, het Rolland verskeie vrae te berde gebring i v m die wyse waarop Sauer op 23 Maart 1858 te werk gegaan het om sy opdrag van 19 Maart 1858, uit te voer. ‘If he (Sauer) intended to settle matters in a friendly way, why come with a whole commando and a cannon? Why place an ambush on the Caledon to prevent any from escaping? ... why upon his arrival, did not the Landdrost come to my house, call the chiefs together, and hear what they had to say? This would have been the right way of coming to an amicable understanding’.(68)

Hierdie vrae is deur Rolland as steunpilare in sy breë argument beskou. As aan hierdie vrae aandag geskenk word is dit interessant om daarop te let dat landdros Sauer na die gebeure van 23 Maart 1858 ontken het dat hy vee van die Beersheba-bevolking by die buiteposte aangetref het met sy aankoms daar.(69)

Sauer het op die oggend van 23 Maart 1858 met ‘n hele O.V.S.-kommando en ‘n kanon by Beersheba gearriveer teen die agtergrond van die gevaar van moontlike vyandigheid vanaf die kant van die Beersheba-Basoetos en veral vanaf die kant van Nehemia Mosjesj. Die tyd van ‘kwesbare’ vredes-deputasies na potensiële kruitvatte was iets van die verlede. Die Republiek van die Oranje-Vrystaat het in ‘n staat van oorlog met al die onderdane wat die gesag van Mosjesj aanvaar het, gestaan.

Reeds voor Sauer se aankoms by Beersheba, het die gevaar van moontlike vyandigheid vanaf die Basoeto-Kaptein, Nehemia Mosjesj, tot ‘n lewenswerklikheid ontdooi. Dit is die rede waarom Sauer ‘n hinderlaag by die Caledonrivier, tussen Beersheba en Basoetoland opgestel het. Gedurende die vroeë oggendure van 23 Maart 1858 is twintig Basoetos van gewapende Basoeto-bende van Nehemia, ‘who had come from the side of Elandsberg, with the intention of strengthening the Zevenfontein Kaffirs’, in die O.V.S.-hinderlaag by die Caledon-rivier gedood.(70) Die hinderlaag was nie opgestel met die doel om die vyandige Beersheba-Basoetos te verhoed om na Basoetoland te vlug nie ‘maar wel om Nehemiah te beletten hul te hulp te komen’.(71)

Dit was aan Landdros Sauer bekend dat Moeletsi hulp van Nehemia by Elandsberg gevra het. Rolland het die indruk geskep dat die hinderlaag opgestel was om ‘vyandige’ Beersheba-bewoners te verhoed om by die Basoeto-magte oor die grens aan te sluit. Belangrik is die feit dat Rolland hierdeur indirek te kenne gegee het dat daar wel vyandige elemente by Beersheba op 22 Maart 1858 aanwesig was.

Dit sou onverstandig van Sauer gewees het om met die Beersheba-kapteins in ‘n gesprek te tree in die lig van die reeds vermelde boodskap wat hy onderweg na Beersheba van Rolland ontvang het. ‘De Landdrost antwoordt, dat by, bewust zynde van de vyandelyke gezindheid van eenige der kapteins, zich niet nodeloos in gevaar wilde begeven. In het gezigt van Beersheba zynde ontving hij het ongedateerde briefie van den hr. Rolland ... waarin de schrijver hom de grootste voorzigtigheid aanbeveelt, als hij op de statie mogt komen’.(72)

Terwyl Rolland dit duidelik aan Sauer gestel het dat die moontlikheid ongetwyfeld bestaan het dat hy ‘n geensins ‘vriendelike’ ontvangs by Beersbeba self te beurt sou val nie, het hy dit in dieselfde asem van Sauer verwag om ‘n besoek van ‘vriendskaplike’ aard aan die sendingstasie te bring.

Die gebeure wat op 23 Maart 1858 by die Caledon-rivier en by die Beersheba-sendingstasie plaasgevind het, het die opstelling van ‘n hinderlaag, die stuur van ‘n hele kommando en die gebruik van ‘n kanon geregverdig. Sy onbereidwilligheid om na Rolland se woning te gaan en met die Beersheba-kapteins te praat, het ‘n opvatting van versigtigheid eerder as vyandigheid vanaf Sauer se kant in die implementering van die O.V.S.-Uitvoerende Raad besluit van 19 Maart 1858, weerspieël.

Na afloop van die gebeure op 23 Maart het die regering van pres. Boshof homself gerus gevoel om ‘n gewapende mag oor die Caledon-rivier te stuur. Die vrees van ‘n moontlike ondergrawing van die krygsoffensief teen Mosjesj, deur vyandige elemente binne die grense van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, het nie langer bestaan nie. Hiermee is die gebeure wat by Beersheba op 23 Maart 1858 plaasgevind het, egter nie op die agtergrond geskuif nie.

Die tydperk vanaf die einde Maart 1858 tot en met sir George Grey se bemiddelings-poging van September 1858, is gekenmerk deur ‘n verskeidenheid van korrespondensie i v m die Beersheba-voorval. Op 12 Mei 1858 het pres. Boshof ‘n voorstel i v m die hervatting van onderhandelinge, ter bewerkstelliging van 'n wapenstilstand tussen die Oranje-Vrystaat en die Basoetos aan Mosjesj gerig, waarin hy die volgende gemeld het: ‘as ... a Christian I would wish to see an end to ruin and the destruction of life’.(73) In antwoord hierop het Mosjesj in ‘n brief aan Boshof op 16 Mei 1858 o m die volgende verklaar: ‘when you attacked the innocent and harmless Zevenfonteiners, I was surprised and also grieved beyond all comprehension ... You style yourself a Christian in your last letter to me. I know long since that you were a Christian, but the captains of your warriors are not ... Have not your warriors destroyed the splendid station of Zevenfontein?’(74)

Nie slegs Rolland nie(75), maar ook Mosjesj was daarvan oortuig dat die Beersheba-sendingstasie vir geen grondige redes aangeval was. Ook wat Mosjesj betref, was daar geen vyandige Basoetos by Beersheba op die oggend van 23 Maart 1858 nie.

In Kaapstad het die Franse Konsul, De Castelnau, 'n versoek op 18 Mei 1858 aan Sir George Grey gerig, om sy ‘welwillende spesiale beskerming te verleen’ aan die Franse-sendelinge wat onder mishandeling vanaf die kant van die burgers van die Oranje-Vrystaat gebuk gegaan het.(76) Aan Sir George Grey is inderwaarheid ‘n buitensporige versoek gerig. Reeds gedurende 1854 het Brittanje enige aanspraak op gesagsuitoefening oor die inwoners tussen die Vaal- en Oranje-rivier afgesweer. Sir George Grey het geen wetlike bevoegdhede besit om beskerming aan die Franse sendelinge noord van die Oranje-rivier te verleen nie. Wat by, onder andere, Beersheba op 23 Maart 1858 plaasgevind het, was ‘n aangeleentheid waarby Grey nie betrokke wou raak nie. Dit het duidelik geblyk in die korrespondensie van Grey sedert die Castelnau-versoek.(77)

Terwyl die Beersheba voorval, wat die regering van pres. Boshof betref, reeds lank vergete was, het amptenare van die Franse Sendinggenootskap en persmanne aan die Kaap, steeds uit hul pad gegaan am op die ‘arbitrêre’ O.V.S.-optrede van 23 Maart 1858 te wys. In reaksie hierop, het mnr Burnet, die Burgerlike Kommissaris van Aliwal-Noord, in ‘n brief op 24 Mei 1858 aan sir George Grey se sekretaris, sy indrukke i v m die voorval uiteengesit: ‘I have had an opportunity of speaking during the past week with one or two really respectable men, Boers, who have been throughout the whole commando, present at Beersheba ... I am very much disposed to think and believe that the stories which have found their way into the newspapers, as to their wantonness in destruction of life and property are grossly exaggerated. Mr. Schreiner, the brother-in-law of Mr. Rolland’ het Beersheba kort na die voorval self besoek, ‘and assured me that the Burgher statement was substantially correct, and that the only wonder to him was, under the circumstances, that Rolland had suffered almost nothing, and that ten waggons had been placed at his disposal the next day to remove all his effects to Smithfield’.(78)

Terwyl Burnet dit nodig geag het om op die kritiek te reageer wat sedert 23 Maart 1858 teen die O.V.S.-optrede by Beersheba uitgespreek is, het die O.V.S.-regering homself daarvan weerhou om in die debat rondom die Beersheba-voorval betrokke te raak. Kritiek teen landdros Sauer se optrede van 23 Maart l858 by Beersheba, het tot niks gelei nie. Dit is teen hierdie agtergrond dat in die O.V.S.-Nota van Aanmerkings van 27 September 1858, soos reeds vermeld, pertinent verklaar is dat dit ‘n reaksie op die Rolland-dokument by name ‘The Beersheba Affair’ was, bloot omrede Grey die laasgenoemde dokument as amptelik en afkomstig vanaf Mosjesj beskou het.

Die Beersheba-voorval sou as ‘n uitstaande baken in die geskiedenis van die oorlog tussen die Oranje-Vrystaat en die Basoeto-nasie van Mosjesj beskou kan word. Dit versinnebeeld die eerste gewapende konfrontasie in hierdie oorlog tussen die Oranje-Vrystaat en die onderdane van Mosjesj en is ‘n baie interessante voorval vanwee die ‘omstrede’ gees waarin dit plaasgevind het.

Die verloop van die gebeure op 23 Maart 1858 is van begin tot einde deur misverstande en uiteenlopende vertolkings van houdings, bevele en optredes beïnvloed.

Ondanks die feit dat beskrywings en standpunte i v m die Beersheba-voorval wyd verskil en selfs in vele gevalle bots, sou tog, uit die voorafgaande rekonstruksie van die Beersheba-voorval verklaar kan word dat ‘n aantal ‘vyandige’ Basoetos steeds op die oggend van 23 Maart 1858 by die Beersheba-sendingstasie aanwesig was. In die sin was die verloop van gebeure ‘n byna ‘onvermydelikheid’.

Verwysings

  1. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag 71(b) van 1858: Proklamasie deur pres. Boshof, p. 224; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II, 1853—1861 (Proklamasie deur pres. Boshof, 19.3.58), p. 328.
  2. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Sauer aan Spruit, Smithfield, 23.3.58), p. 333; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II, (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 339.
  3. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Artikels van Ooreenkoms i v m Wapenstilstand), pp. 382-383.
  4. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXVII van 1858: Derde Konferensie te Beersheba op 16 September 1858, p. 359; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 453.
  5. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p.387; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), pp. 453 en 468.
  6. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), pp. 453-454.
  7. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 443; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, pp. 362-363.
  8. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 363; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 444.
  9. Ibid.
  10. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’ p. 444); S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 363.
  11. Ibid.
  12. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 387.
  13. Ibid., p. 388.
  14. Ibid.; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 444.
  15. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 363; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), pp. 444-445.
  16. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, pp. 365-366; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 448.
  17. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Spruit aan Sauer, Bloemfontein, 19.3.58), pp. 328-329; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 389.
  18. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Sauer aan Spruit, Smithfield, 22.3.58), p. 332.
  19. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, pp. 364-365; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), pp. 446-447.
  20. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 365; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 447.
  21. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Sauer aan Spruit, Smithfield, 23.3.58), p. 333.
  22. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 365; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 447.
  23. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 448; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, pp. 365-366.
  24. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 447; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 365.
  25. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 389.
  26. Ibid, p. 390.
  27. Ibid; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 458.
  28. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’, p. 448; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 366.
  29. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 390; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, pp. 359-360.
  30. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 366; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 448.
  31. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’, pp. 448-449; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 366.
  32. S.A. Argiefstukke, 0. V.5. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 391; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 460.
  33. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 449.
  34. Ibid.
  35. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 391; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 460.
  36. S.A. Argiefstukke. O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 366; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 449.
  37. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 339; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 449.
  38. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 449: S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 366.
  39. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 391; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 461.
  40. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 367; Dit is interessant om daarop te let dat Rolland kort na afloop van die gebeure van 23 Maart sou verklaar dat hy reeds 18 gewere op ‘n hoop versamel het, toe die O.V.S.-burgers begin vuur het — G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 339.
  41. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Sauer aan Spruit, Smithfield, 23.3.58), 333; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858, Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 391.
  42. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), pp. 339-340); G.M. Theal (red): Basutoland Records, II, (‘The Beersheba Affair’), pp. 449-450.
  43. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 391.
  44. Ibid., p. 392; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II, (‘The Beersheba Affair’), p. 450.
  45. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II ‘The Beersheba Affair’), p. 450.
  46. Ibid.; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 340.
  47. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 392.
  48. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II ‘The Beersheba Affair’), p. 450; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 367.
  49. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 392; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 462.
  50. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 340; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 450.
  51. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 367.
  52. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 392; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 462.
  53. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II ‘The Beersheba Affair’), p. 450.
  54. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 392.
  55. Ibid.; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 462.
  56. G.M. Theal (red): Basutoland Records, 11 (‘The Beersheba Affair’), p. 450: S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 367.
  57. S.A. Argiefstukke, 0.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 392; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie), p. 463.
  58. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 340; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheha Affair’), pp. 450-451.
  59. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, pp. 392—393.
  60. Ibid, p. 393; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 451.
  61. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), pp. 451-452.
  62. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 393.
  63. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 452; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 368.
  64. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings, p. 393.
  65. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 452; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 368.
  66. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 340.
  67. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), p. 445; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 364.
  68. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (‘The Beersheba Affair’), pp. 447-448; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XXX van 1858: ‘The Beersheba Affair’, p. 365.
  69. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p.389.
  70. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Sauer aan Spruit, Smithfield, 23.3.58), p. 333.
  71. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 390; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Nota van Aanmerkings dear O.V.S.-Kommissie), p. 458.
  72. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag XLV van 1858: Nota van Aanmerkings deur O.V.S.-Kommissie, p. 390.
  73. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Boshof aan Mosjesj, Bloemfontein, 12.5.58), p. 362; S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag 72(j) van 1858: Boshof aan Mosjesj, Bloemfontein 12.5.58, p. 234.
  74. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag 72(k) van 1858: Mosjesj aan Boshof, Thaba Bosigo, 16.5.58, pp. 234-235; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Mosjesj aan Boshof, Thaba Bosigo), pp. 362-363.
  75. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Rolland aan Casalis, Carmel, 7.4.58), p. 340.
  76. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag 37(a) van 1858: De Castelnau aan Grey, Kaapstad, 18.5.58, p. 241.
  77. S.A. Argiefstukke, O.V.S. III, Bylaag 73(b) van 1858: Grey aan De Castelnau, Kaapstad, 19.5.58, p. 442; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Grey aan Boshof, Kaapstad, 19.5.58), p. 368; G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Grey aan Britse Koloniale Sekretaris, Kaapstad, 20.5.58), p. 368.
  78. G.M. Theal (red): Basutoland Records, II (Burnet aan Sekretaris van Grey, Aliwal Noord, 24 Mei 1858), pp. 373-374.

Bronnelys

Joubert, D.C. (red.): Suid-Afrikaanse Argiefstukke, No. 3, Notule Van Die Volksraad Van Die Oranje-Vrystaat (Volledig Met Alle Bylae Daarby), Deel III (1858). (Nasionale Handelsdrukkery, Parow, 1960.)
Theal, G.M. (red.): Basutoland Records, II, 1853-1861. Faksimilee-herdruk, (C. Struik, Kaapstad, 1964.)

Return to Journal Index OR Society's Home page

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org