Published on the Website of the South African Military History Society in the interest of research into military history

Copyright Suzanne van den Bergh. April 2006.


OUMA SE STORIES
HOOFSTUK 3
OUPA WILHELM VAN DEN BERGH - OP KOMMANDO

-28-

OUPA WILHELM - OP KOMMANDO

Vandag, 11 Oktober 1999, is dit presies eenhonderd jaar gelede sedert die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Oupa Wilhelm Johannes van den Bergh was toe 'n jong man van twintig jaar en agt maande. Hy was op 13 Februarie 1879 gebore op die plaas Du Toitskuil, distrik Boshoff, Oranje-Vrystaat. Toe die oorlog uitbreek was hy en sy familie woonagtig op die plaas 'Welgeleë' in die distrik Edenville, Oranje-Vrystaat. Hy was een van twaalf kinders, waarvan twee oorlede is as klein babas, dus met vyf seuns en vyf dogters oorlewend.

Wilhelm was die vyfde kind (twee ouer broers, twee babas oorlede, en daarna kom Wilhelm).

Met die uitbreek van oorlog was hy, sy twee ouer broers Nicholaas en Christiaan, en 'n vriend, Fanie Malan, dadelik opgeroep in dieselfde Kroonstad-kommando as Ouma Catharina van den Berg se pa Flip, haar swaers en ander familie (Gert Britz, Dolf Britz, Hendrik van Rensburg, Jack Ecksteen, Roelf Britz, Hans Britz en Rudolf Pretorius, Catharina se ma se broer.) Hulle was onder bevel van Kommandant Coen Nel, en Veldkornet Petrus Haefle, 'n familielid van Wilhelm se ma. Die kommando waarvan hulle deel was het aangesluit by Waarnemende Kommandant C.R. de Wet, later benoem tot Veggeneraal na sy oorwinning by Nicholsonsnek, en het hierdie groepie familie en vriende dwarsdeur tot die einde van die oorlog onder Generaal de Wet geveg.

Dit sal miskien vir julle interessant wees om te hoor hoe hierdie groepie mense moes voorberei vir oorlog.

In September 1899 is die burgers van die Oranje-Vrystaat aangesê om hulle volgens die Kommandowet van Mei 1899 gereed te hou om op die kortste moontlike kennisgewing opgeroep te word. Die Kommandowet het bepaal dat elke burger van 16 tot 60 jaar oud elke oomblik gereed en bereid moet wees om vir sy land te veg. Die wet bepaal ook dat landdroste tydens kommandodiens wapens en ammunisie kon uitreik aan persone wie dit nie self kon bekostig nie. Die wet bepaal ook dat elkeen wat opgeroep word, met sy eie ryperd, saal en toom, geweer en tenminste dertig patrone - of 'n halwe pond kruit, dertig koeëls en doppies - sowel as kos vir agt dae gereed moet wees. Die wet het nie vasgestel hoeveel kos dit moes wees nie, of die aard daarvan - die burger moes sorg vir kos vir agt dae en hy moet self weet hoeveel en wat hy vir die agt dae sou nodig he. Dit was 'n vaste reël onder die burgers dat die rantsoene gedeeltelik sou bestaan uit biltong of wors, 'n soutribbetjie waar beskikbaar, brood, beskuit en ander noodsaaklikhede.

Dit was nie lank nie voordat die burgers op 2 Oktober 1899 tot aktiewe diens opgeroep is.

-29-

OUPA WILHELM VAN DEN BERGH - OP KOMMANDO

Oupa Wilhelm vertel: Die afdeling perderuiters vanaf Edenville is vroeg-vroeg alreeds by die huis van die Veldkornet. Die jonges onder die klomp is vol heldemoed, pronk met hulle perde, en die een probeer beter lyk as die ander met hulle wyerand hoede, bandoliers vol patrone en geweerlope wat skitter in die son. Hier en daar is een wat spog met 'n volstruisveer in die hoed se rand, maar hulle makkers maak soveel grappe dat hierdie windmakerigheid gou op 'n end is.

Daar was gemaan dat vroue verkieslik nie na die bymekaarkamplek moet kom nie, maar die Veldkornet se vrou is daar en word gou bygestaan deur 'n hele aantal ander, en voor lank bedien hulle koffie en beskuit.

Die Veldkornet roep almal gou tot orde, hy vra vir een van die ouderlinge om hom by te staan met skriflesing en gebed, en almal kniel eerbiedig met ontblote hoof, geweer aan die sy, tot dit klaar gelees en gebid is, en almal 'n psalm saamsing.

Ons ry almal in 'n baie meer ernstige gemoed, twee-twee in die stowwerige pad af, op pad na Generaal de Wet by Kroonstad, en ons besef skielik dat die oorlog nou begin het.

Die Krygskommissie het bepaal dat die kommandos van Heilbron,(de Wet se wyk), Vrede, Harrismith, gedeeltes van Bethlehem, Winburg en Kroonstad saam na die Natalse grens moet opruk. Toe begin die kommandolewe. Die agt dae van burgers se self-onderhoud met kos is gou verstreke en dit word die plig van die regering om kos te voorsien. Meel, mieliemeel, koffie en suiker word uitgedeel, en daar word beeste en skape geslag wat in porsies uitgedeel word deur 'n "vleiskorporaal". Om onpartydig en regverdig uit te deel staan hierdie man met sy rug na die toustaners en gee hy oor sy skouers vir elkeen 'n deel sonder om uit te soek - met baie klagtes en rusiessamegaande tot tyd en wyl almal meer of min aan die stelsel gewoond geraak het. Die burger maak sy eie vleis gaar (braai of kook) en hulle maak roosterkoek en vetkoek en 'n soort kluitjie (dumpling) wat hulle saam met die vleis kook of in warm vet braai - dan noem hulle dit "stormjaers" of "maagbomme".

Alles van die geslagde karkasse word opgebruik, teenoor die Engelse soldaat wat sy daaglikse "rations" kry: sout, suiker, tee, "biscuits", blikkiesvleis ens. Later in die oorlog toe die vyand begin om die plase uit te roei, konfiskeer hulle alle pluimvee, skape, beeste, maar sny net af wat hulle dadelik wil gebruik en laat die oorblywende gedeeltes netso vrot word op die grond.

-30-

Oupa vertel verder: taamlik vroeg in die oorlog, nog in die Vrystaat, ry ons op kommando en word skielik aangeval deur 'n aansienlike troep Engelse. Ons was totaal oortref in getalle, en binnekort was ons groep in twee dele uitmekaar geskei, die kleiner groep op die linkerhand van die skermutseling, dan 'n lang uitgerekte enkel lyn van Boere, en met 'n groter groep 'n end daarvandaan aan die regterhand. Ons het geen verbindingsmiddele nie, maar ons kry wel 'n boodskap dat die linkerhandse groep hulle posisie sou verlaat, en nadat die regterhandse groep vegtende gebly het so lank hulle kon, het hulle die bevel gekry om te ry na 'n voorafbepaalde bymekaarkomplek. Ek, my twee broers Nicholaas en Christiaan en Fanie Malan was deel van 'n groep wat saam weggejaag het, maar ons het skaars ons perde die spore gegee toe die een man gekwes was, dodelik verwond, sodat ons weer moes stilhou. Die verwonde man het besef dat hy binne oomblikke sou dood wees, toe dring hy daarop aan dat ons ander dadelik moet wegjaag. Ek het skaars weer my perd bestyg (en volgens ander se onpartydige getuienis was *Wilhelm 'n uitstekende perderutter) toe 'n fratsskoot my tref, maar net deur die metaalgespe van my ammunisie bandolier+, wat agter die perd afval. Binne oomblikke het ek my perd ingetoom en teruggegaan vir my bandolier, sodat ek met net 'n paar treë voorsprong kon wegkom by die Engelse. Ons paar burgers het veilig by die aangewese plek teruggekom, maar daar word ek voor die kommandant gebring om verslag te doen oor my optrede.

Die kommandant gee my 'n verskriklike skrobbering, tesame met 'n lesing oor my verpligtinge teenoor die kommando en my mede-burgers, en hy vererg hom nog verder oor ek vra "maar hoe wil julle nou hê moet ek sonder ammunisie oorlog maak?".

'n Ander gebeurtenis waarvan Oupa Wilhelm vertel het was toe hy en sy swaer Hans Britz, op verkenningspatrollie was en het skaars daarmee begin toe hulle binne-in 'n Engelse kamp beland. Hans - van wie dit gese was dat hy die dapperste en mees onverskrokke man was - het dadelik uitgeroep "Willem, ek sal hulle weglok - jaag jy en gaan waarsku die vroue- en kinderlaer".

Teen die tyd dat alle hoop al verlore was dat Hans ontsnap of oorleef het, daag hy op by die laer met 'n groot ophef en lawaai. Hy skreeu aanhoudend "moenie skiet nie, moenie skiet nie, dis Hans Britz" teryl hy aangejaag kom op 'n Engelsman se perd. Die burgers was klaar oorgehaal om op die Khaki te skiet, want Hans is aangetrek in 'n Engelse soldaat se uniform.

Nadat hy gerus en geëet het, vertel hy sy kant van die storie. Toe hy Willem sien wegjaag laer-toe, gee hy sy perd die teuels en hy jaag dwarsdeur die Engelse kamp tot by die waterstroom waar hulle staan. Hy ry sonder dat 'n koeël hom tref en digby die rivier spring hy van sy perd af, saal af soos blits, en gee die perd 'n paar klappe sodat die getroue dier in die stroom afloop.

-31-

Die gebied waar die Engelse gekamp het was digbegroei, met baie bome en digte waterriet. Hy gebruik sy saal en saalsakke om hom dryfkrag te gee, want hy gaan na die heel diepste deel van die rivier.

Hy breek waterriete af om deur asem te haal wanneer die Engelse naby soek, maar hulle kry hom nie. So bly hy in die water vir 'n nag en nog 'n dag totdat die vyand oppak en wegry. Soos hy verwag het, kry hy nie sy eie perd nie, en gaan versigtig in die rigting van die Engelse agterna totdat hy'n paar van die stadige agtergeblewenes kan dophou vir die geleentheid om perd, kos en ammunisie te bekom. Dit is ook nie lank nie voordat hy hierdie plan uitvoer. Hy bespied en bekruip die een soldaat, en kry dit reg om sy vuurwapen te bekom. Hy skiet die soldaat op die plek dood, trek sy klere aan, en jaag dan terug tot by die laer waar hy met 'n groot lawaai op 'n nippertjie na sy eie dood ontkom.

* Op Oupa Wilhelm se negentigste verjaarsdag voer 'n koerantverslaggewer met hom 'n onderhoud om eerstehands te verneem van "die ou dae van 'n Oudstryder" en onder andere vertel Wilhelm self "My groot liefde in die lewe was en bly steeds perde. Ek was vyf jaar oud toe ek die eerste keer perd gery het, en op sewe het ek van die vurigste hingse ingebreek. Selfs vandag sal 'n perd my nie sommer afgooi nie. As ek eers in die saal is, kan ta maar spring soos hy wil, hy kry my nie af nie".

+ Hierdie bandolier is in besit van Willie van den Bergh Jnr

-32-

OUPA WILHELM VAN DEN BERGH - OP KOMMANDO
SAAM MET GENERAAL C R DE WET - RIETFONTEIN

Oupa Wilhelm van den Bergh - tesame met sy broers Nicholaas en Christiaan, en hulle vriend Fanie Malan - het vanaf die begin van die oorlog in Oktober 1899 geveg onder bevel van Kommandant Coen Nel en Veldkornet Petrus Haefele ('n broer van Oupa Wilhelm se ma), almal van die Kroonstad-kommando. Hulle het aangesluit by die kommandos van Heilbron (de Wet se wyk), Vrede, Harrismith, gedeeltes van Bethlehem en Winburg, en hulle is dadelik beveel am na die Natalse grens op te ruk. Die namiddag van 11 Oktober 1899 om vyfuur was die tyd verstreke wat deur die Zuid-Afrikaanse Republiek gestel is om van Engeland te eis dat sy troepe van die grense teruggetrek moes word. Engeland het dit nie gedoen nie, en die Republieke het dus in 'n staat van oorlog verkeer.

Die Kroonstad-kommando het deelgeneem - gedurende Oktober, November en Desember 1899 - aan die gevegte by Rietfontein, Nicholsonsnek, Harrismith, Ladysmith, Tugela, Colenso en Spioenkop.

Die eerste groot geveg waaraan die Vrystaters, insluitende die Kroonstad-kommando, deelgeneem het, was by Rietfontein op 24 Oktober 1899. Volgens wat Generaal de Wet vertel van die geveg in sy boek "Die Stryd tussen Boer en Brit", het slegs 1,000 Vrystaters met een groot kanon aan die slag deelgeneem, waarvan Kommandant Nel van die Kroonstad-kommando aan die westelike vleuel dit die drukste gehad het. Waar de Wet was - meer aan die oostekant van die koppies wat 'n half-sirkel gevorm het - het die burgers minder gehad om te verduur. Maar al die burgers, waar hulle ook was, het dapper geveg. Elke stelling is behou, en alhoewel daar voortdurend diegene was wat gesneuwel of gewond neergeval het, was daar gedurende die hele slag geen teken van vlug nie.

Die Boere se posisies was so gelee' dat die vyand in klein klofies kon nader kom sonder om onder skoot te kom voordat hulle baie naby aan die Boere-stellings was. Waar hulle te voorskyn gekom het, het die Boere so 'n ontsettende en onafgebroke vuur op hulle gerig dat hulle nerens nader as tweehonderd tree kon kom nie.

Die Boere se kleingeweer vuur op die Engelse het tot ongeveer drieuur in die middag voortgeduur. Toe die vyand sien dat hulle nie die Boere-stellings kon verdryf nie, het hulle teruggetrek na Ladysmith. Kort daarna het de Wet en sy staf oor die slagveld gegaan maar daar was nie baie dooies en gewondes nie, want hulle is tydens die slag weggedra. Die Burgers het vanaf 'n hoe kop gesien hoe die Engelse dit doen. Van de Wet se manskappe was elf dood en een-en-twintig gewond.

-33-

OUPA WILHELM VAN DEN BERGH OP KOMMANDO
SAAM MET GENERAAL DE WET - NICHOLSONSNEK

Kort na die geveg by Rietfontein is die Vrystaters in nog 'n geskiedkundige geveg - Nicholsonsnek. Die kop met 'n effense plat kruin moes deur 'n gedeelte van Kommandant Coen Nel van Kroonstad se burgers bewaak word, maar deur die een of ander nalatigheid van hierdie groep is die kop deur die Engelse beset. De Wet besluit om die kop met driehonderd man te bestorm - twintig van Kmdt. Nel se burgers was ook hierby, ook Oupa Wilhelm, sy broers Nicholaas en Christiaan en Fanie Malan, en het hulle almal aan hierdie bestorming deelgeneem. Daar was haas geen skuiling vir die Boere nie, en het hulle alvegtende van posisie tot pasisie beweeg, en het mettertyd die ou klipkraal murasies waaragter die vyand geskuil het, ingeneem, 'n posisie vanwaar die vyand binnekort gewyk het. Na 'n verskriklike en onophaudende kruisvuur van agter die kraalmuurverskansings en groot rotsblokke het die vyand sy posisies begin verlaat en na 'n kort rukkie was daar oral vlae gesien opgaan. Die vyandige vuur het vir 'n tyd gestaak maar kort nadat ons vuur gestaak was - terwyl ons voorwaarts beweeg - begin die skietery weer, maar die Boere het met dubbele erns teruggeskiet, en nie lank daarna gaan oral wit vlaggies op en die slag is gelewer.

Boereverliese word aangegee deur Generaal de Wet as vier dood en vyf gewond, met 'n geskatte oormag van vyfmaal soveel Engelse as Boere. Volgens Generaal George White was die Boereverliese 16 dood en tussen 50 en 75 gewond. Sy amptelike verslag van Engelse verliese is 70 offisiere en ander manskappe dood, terwyl 249 offisiere en manskappe gewond is, met 'n verdere 10 offisiere en 917 ander manskappe vermis of krygsgevange geneem.

Dit was 'n besondere warm dag, 30 Oktober 1899, en almal het vreeslik doars gely, want daar was geen water nader as 'n myl van die berg nie. Die lyding van die gewondes het de Wet verskriklik gepla en hy het sy burgers beveel om die gewondes na skadubome te dra; die manskappe het ook vir die gewondes water aangedra in die waterkannetjies van krygsgevangenis. De Wet en sy burgers het tot sonop op die berg gebly. Behalwe 'n aantal kanonne het hulle meer as duisend Lee-Metford gewere, twintig kiste patrone en 'n klomp pakmuile en perde bekom.

Na sonop het hulle na die laer afgedaal, wat hulle teen agtuur bereik het. Aangesien die manskappe die vorige dag geen kos gehad het nie, was dit 'n groot genoeë om vleis op die spit te braai, tesame met 'n paar stormjaers en heerlike bekers koffie. Hulle is daardie nag van brandwag en gewone nagdiens verskoon, en het na die vermoeienis van die vorige dag hulle slaaprus uitermate geniet.

Op 9 Desember 1899 ontvang Generaal de Wet vanaf Staatspresident M.T. Steyn 'n telegram met die versoek om in die hoedanigheid van Veggeneraal na die westelike grens te gaan, welke aanstelling gevolg het op sy briljante taktiek en sukses by Nicholsonsnek.

-34-

OUPA WILHELM VAN DEN BERGH OP KOMMANDO
SAAM MET GENERAAL C.R. DE WET IN NATAL

Oupa Wilhelm het my self net 'n paar gebeurtenisse vertel van hierdie oorlog in Natal, behalwe dat hy dit onthou as een van verskriklike ontbering. Hulle was by Ladysmith en weer by Colenso vir dae verskans, en by die Tugela was hy en sy groep vir agt dae vasgekeer in die verskroeiende son, in sig van die rivier maar geen manier om daar uit te kom nie. Hy was veral vie somdat hy en sy makkers nie betyds 'n loopgraaf kon maak nie - die terrein was in elk geval nie geskik vir loopgrawe nie - en hulle het vir 'n hele agt dae in slote in die rante gele" met net die allernodigste van kos en water wat snags aangedra was, om aan die lewe te bly.

In die slote en loopgrawe aan die voet van die rante agter die Tugela le" Generaal Louis Botha met 7,000 man, en vyf kanonne onder Kaptein Lood Pretorius. Twee dae lank laat Buller daardie rante woes bombardeer; toe dink hy die vyand is uitgedelg. Hy het met sy verkyker gekyk, en waar hy nie Boere sien nie, kan daar ook nie Boere wees nie. So het hy gedink, sê Generaal Kemp. Noord van die rivier het sowat 2,000 Vrystaters gewaak dat die Britse oormag nie vir Generaal Botha in die weste omvleuel nie; hulle kon dus nie regstreeks aan die slag deelneem nie, alhoewel sovele Vrystaatse wrywilligers wel deelgeneem het. Botha se plan was om die Engelse voorhoede eers oor die rivier te lok en die Britse strydmag dan met een klap verpletter. Daarom verbied hy die burgers ten strengste om die Britte se vuur te in die minste te beantwoord, terwyl liddietstof van barstende kartetse twee dae lank in die loopgrawe en slote walm.

Sir Redvers Buller was in Desember 1899 nog steeds die Engelse se opperbevelhebber, en Oupa Wilhelm, net 20 jaar oud, het vir Buller met 'n paar sinne afgekap, wat hy meer as 50 jaar later aan my vertel het. "Uit die totale Engelse Opperbevel was Redvers Buller, of soos ons hom almal genoem het ou Rooivers Bul, die heel onnoselste en het hy vir sy soldate die meeste verliese en swaarkry veroorsaak. Hy was vir ons burgers 'n groot grap, en ons het kringe om hom en sy troepe gemaak."

Buller het so diep onder die indruk gekom dat daar nie Boere onmiddellik agter die rivier was nie, dat hy agter hulle laat spioeneer het ten einde hulle aftog te kan afsny, en besluit het on 'n frontlinie aanval te doen. Teen middernag berig Botha se spioene dat die Engelse klaarmaak om aan te val, en om 5-uur die oggend kom die blom van die Britse lee"r - 20,000 man - sewe myl breed oor die vlaktes gemarsjeer. Die Boere begin te gou skiet, nog voordat die voorpunt die wa-brug bereik; Botha het vroe"r die treinbrug in die lug geblaas, maar nie die wa-brug nie. Maar die spanning was te geweldig, veral na die twee dae se bombardering, en die versoeking vir Kaptein Pretorius is te groot om met sy kanonne los te brand net voordat die vyand vir die stormloop ontplooi.

-35-

Terwyl die Britse artillerie bulder en 'n geweldige oormag teen die Boere se stellings aanruk, laat Botha geen enkele skoot skiet nie. Hy was vererg omdat sy bevel verontagsaam was, want sy plan was om die vyandelike mag deur die rivier in twee te sny.

Kort na aanvang van die geveg kom Kolonel Long met twaalf Armstrong-kanonne aangejaag en stel hulle reg voor die posisie ten ooste van die spoorlyn waar Oosthuizen en Kemp se manne die bediening en bespanning in 'n kits wegskiet. Botha het die vuur laat staak om die kanonne onder die Mauser-vuur in te lok. Toe hulle eenmaal tot stilstand kom gee hy hulle geen kans om 'n skoot te skiet of om weg te kom nie.

Nou is die probleem van die Engelse hoe om daardie kanonne weer weg te kry, en hoe die soldate wat reeds vroeg die mo"re platgeval het, uit die gevaarstreek kan kom. Hulle le" daar in die skroeiende son en bak en vergaan van die dors terwyl die Tugela se water by hulle verbyruis. Maar as een durf roer sif die koee"ls deur sy lyf. Kapteins Schofield, Congreve and E.F. Roberts wend heldhaftige pogings aan om die kanonne te red en laasgenoemde, Lord Roberts se enigste seun, word dodelik verwond. Twee kanonne word uitgebring maar die ander met die twaalf ammunisiewaens bly net so staan en weldra laat Buller langs die hele linie die aftog blaas. Teen vyfuur die agtermiddag haal die Boere die kanonne in, en hulle hensop nog 'n 80 Engelse in die dongas daar. Boere-verliese in die slag was 6 gesneuwel en 23 verwond; volgens die "Times History of the War" is 145 Engelse gedood, 762 gewond en 220 gevange geneem, behalwe die tien kanonne en twaalf ammunisiewaens vol kanon ammunisie.

Hierdie gevegte het plaasgevind gedurende Desember 1899.

-36-

OUPA WILHELM VAN DEN BERGH OP KOMMANDO
SAAM MET GENERAAL C.R. DE WET - COLENSO

Ds. Kestell wie ook op kommando was het die slag van Colenso ook meegemaak en skryf daaroor "Dit was 'n verskriklike dag - 'n dag wat niemand wat dit deurleef het ooit kan vergeet nie. Dit was onuithoudelik warm en ons - maar veral die arme gewondes - het onbeskryflik gely weens die dors. Om vyfuur die middag het enkele groot druppels teen die rotse gespat. Dit blits en dit donder. Dit raas teen die gebulder van die kanonne. Dit reën naderhand so hard dat die bloed van die gewondes afgewas word. Nou juis verdubbel die vyand sy pogings en veg nog harder as ooit in die dag. Maar hulle kan ons nie verdryf nie. Toe die reën so hard val op ons, kan ons ons dors les. Ons het dammetjies in ons reënjasse gemaak, die water daarin opgevang, en dit dan uitgesuig. Ook het waterstrome van die swaar reën deur die klippe geskiet en ons kon tot versadiging drink".

Die groot geveg by Colenso, waar die burgers so 'n skitterende oorwinning behaal het, het op 15 Desember 1899 plaasgevind. Oupa Wilhelm het self nie baie vertel oor hulle deelname nie, maar wat hy baie duidelik onthou en van vertel het was die gebeurtenis dat hulle op 16 Desember 1899 'n plegtige viering van Dingaansdag gehou het op die slagveld van Colenso. Die naam Dingaansdag was altyd in algemene gebruik, tot enkele jare gelede voordat die naam verander was na Geloftedag, en nou het dit geheel en al verdwyn en het geen naam meer nie.

Die dag is plegtig in ere gehou op die slagveld van Colenso vanwaar Doringkop sigbaar was. Die Voortrekkers het byna 62 jaar vroeër op 17 Februarie 1838 gevlug uit die Moordspruit ramp na Piet Petief se laer op Doringkop.

Generaal Schalk Burger het op 'n kanonwa gestaan en die burgers roerend toegespreek. Aan die einde van die plegtigheid het hy die Voortrekker Gelofte herhaal:

-37-

OUPA WILHELM VAN DEN BERGH OP KOMMANDO
SAAM MET GENERAAL C.R. DE WET - ROOIWAL

In sy boek "Die Stryd Tussen Boer en Brit" sê Generaal de Wet "Teen groot oormagte het die burgers geen kans gehad nie. Hulle moes dus die vyand in oorlog oortref, en die beste wyse om dit te doen was om rats te wees: rats met die geveg, rats met verkenning en, indien nodig, rats met vlug".

Hy sê verder "Vir die voormalige hendsoppers wat weer hulle lot by ons ingewerp het, het ons grootliks aan Lord Roberts te danke. Hy het hom nie gehou aan sy proklamasies waarin hy die eiendom en persoonlike vryheid van die burgers gewaarborg het. Hulle het gesien dat hulle die woord van die Engelse nie kon glo nie, en besorgd oor hulle eie veiligheid, het hulle weer na die kommandos teruggekeer. Ek het aan President Steyn 'n telegram gestuur waarin ek hom meedeel dat die burgers weer aansluit, en het opgemerk dat Lord Roberts die beste 'kommandeer'-offisier is wat ek ooit gehad het".

Teen die einde Mei 1900 het Generaal de Wet sowat twaalf myl vanaf Heilbron op 'n staanplek aangesluit by Kommandant Steenberg en Kommandant Olivier. Hier verdeel hy die kommandos en neem seshonderd man wat die beste perde gehad het, saam met hom (Nicholaas, Christiaan en Wilhelm van den Bergh en Fanie Malan tel ook onder hulle), en trek die aand van 2 Junie 1900 in die rigting van Rooiwal-stasie. Op pad daarheen kry hy berig van 'n konvooi wat op pad is van Rhenosterfontein na Heilbron, en op 4 Junie lê hy die groot Engelse konvooi voor op die plaas Swawelkrans. Die volgende oggend vroeg, in ysige koue, het hy sonder om 'n skoot te skiet 200 Bergskotte (Highlanders) gevange geneem en 56 waens belaai met proviand buit gemaak, digby Rooiwal-stasie.

Die aand van 6 Junie 1900 stuur Generaal de Wet driehonderd man en 'n Krupp-kanon ander Kommandant Steenkamp om Vredefort-weg die volgende oggend teen sonop aan te val, terwyl nog driehonderd man met twee Krupps en 'n snelvuurkanon onder Generaal Froneman en Kommandant Coen Nel (van Kroonstad-kommando) die Engelse kamp 'n myl ten noorde van die Rhenosterrivier op 'n rant moet aanpak.

Generaal de Wet self, saam met Generaal Piet Fourie en tagtig burgers van die Kroonstad-kommando (insluitende Wilhelm, Nicholaas en Christiaan van den Bergh en Fanie Malan) met een Krupp-kanon, gaan na Rooiwal-stasie, 'n myl ten suide van die Rhenosterrivier, waar ontsaglike krygsvoorrade van die Engelse opgestapel was. Toe dit lig word het hy die Engelse by Rooiwal onder die koeëls gesteek, terwyl sy artilleris, Kaptein Muller, hulle met groot bekwaamheid gebombardeer het.

Generaal Froneman het die Engelse by Rhenosterrivier tot oorgawe gedwing en teen half-agt die oggend was sy twee kanonne ook al by Rooiwal om Generaal de Wet te help. Nadat die drie kanonne en tagtig Mausers die Engelse nog 'n uur bestook het, het laasgenoemde die wit vlag gehys.

-38-

By Rooiwal het voorrade voedsel, klerasie, voer en ammunisie ter waarde van £800,000 (en dit in 1900 - hoeveel sou dit vandag wees?) in de Wet se hande geval, sowel as 200 krygsgevangenes, terwyl 27 Engelse daar dood en verwond is. Die Engelse daar was tydens die hele geveg stewig agter die opgestapelde voorrade verskans. Altesaam was die Engelse verliese by Rooiwal, Rhenosterrivierkoppie en Vredefort-weg behalwe die enorme voorrade, byna 200 dood en gewond en meer as 700 gevangenes. By Rooiwal is twee burgers gewond en twee dood.

Generaal de Wet het 600 kiste ammunisie, meestal Lee-Metfordpatrone, na veiligheid laat wegry en die burgers en gevange soldate die reg gegee om soveel van die voorrade te vat as wat hulle kon saamry of saamdra in die lyn van kos, klere, rookgoed, geskenkpakkies vanaf Engeland want die trein was vol possakke met geskenke veral vir wintergebruik, warm onderklere van eersteklas-gehalte, kouse, hemde, en voor lank is die perde so oorlaai dat die eienaar langsaan moet loop en lyk kompleet of hy 'n winkel gaan oopmaak. Die pad vanaf die stasie het streep-streep vol goed gele wat nie weggedra kon word nie.

Maar toe moet die vuur sy werk doen en alles wat oorbly moet aan die vlamme prysgegee word. Die aand na donker, toe hulle vyftienhonderd treë daarvandaan staan hoor hulle die ontploffing van die eerste bomme. Generaal de Wet het vyftien man gekies om die groot buit op verskillende plekke aan die brand te steek met die planke van kiste wat hulle oopgemaak het. Die vlamme slaan oral tegelyk uit, en hulle aanskou die mees skitterende vuurwerk wat jy kan voorstel. Tussen die donder van die grootbomme hoor hulle die dowwe ontploffing van kordiet en hoog in die lug skiet veelkleurige vuurtonge.

Dit was soos 'n nuwejaarspartytjie in die middel van die winter. Oupa Wilhelm vertel "Dit was 'n baie indrukwekkende spektakel, omtrent tagtig ontploffings, die hele spoorlyn is opgeblaas vanaf die spoorwegbrug oor die Rhenosterrivier, tot aan Rooiwal-stasie. Dit lyk soos slange wat hoog in die lug opkrul soos die treinspore in allerhande verwrange fatsoene die lug in staan, en wyd in die omtrek vind mens nog stukke yster lê as gevolg van die ontploffings".

-39-

ADDENDUM A

PIETER DANIEL DE WET (186l-1929) JONGER BROER VAN GENERAAL C.R. DE WET. MET UITBREEK VAN OORLOG WAS HY VELDKORNET VAN LINDLEY KOMMANDO. TUSSEN 3 JANUARIE EN 16 FEBRUARIE 1900 IS HY DEUR PRESIDENT STEYN AS WAARNEMENDE HOOFKOMMANDANT AANGEWYS.

IN JULIE 1900 HET PIET DE WET BY SY BROER AANGEKOM OM TE VERNEEM OF HY NOG KANS SIEN OM AAN TE HOU VEG, WAAROP GENERAAL DE WET HOM VREESLIK VERERG EN Sê "IS JY GEK OM SOIETS TE VRA"? PIET HET DAAR WEGGERY OM SY EIE KOERS IN TE SLAAN.

PIET DE WET, MET SES LEDE VAN SY STAF, HET OP 26 JULIE OP KROONSTAD GAAN WAPEN NEERLê. AAN DIE EINDE VAN 1900 WORD HY VOORSITTER VAN DIE VRYSTAATSE "BURGHER PEACE COMMITTEE" EN IN MAART 1901 BRING HY DIE "ORANGE RIVER VOLUNTEERS" TOT STAND OM DIE BRITSE MAGTE MET VERKENNING BEHULPSAAM TE WEES.

DIE TWEE REPUBLIEKE HET IN DIE BEGIN VAN DIE OORLOG OMTRENT 60,000 MAN IN DIE VELD GEHAD (INSLUITENDE JONG SEUNS VANAF 12 JAAR OUD LATER IN DIE STRYD), WAARVAN ONG. 30,000 UIT TRANSVAAL WAS EN DIE RES UIT DIE VRYSTAAT. DIE BOERE WAS GOED BEWAPEN, NIE ALLEEN MET MAUSER EN MARTINI-HENRY GEWERE NIE, MAAR OOK MET MEER AS 100 KANONNE, WAARVAN AGT GROOT TRANSVAALSE KANONNE UIT VIER SESDUIM CREUSOTS (DIE LONG TOMS) EN VIER DUITSE 4.7 KRUPP-HOWITSERS BESTAAN HET. HOOF VAN DIE TRANSVAALSE STAATSARTILLERIE WAS LUIT.-KOL. S.P.E. TRICHARDT EN VAN DIE VRYSTAATSE ARTILLERIE, 'n DUITSE OFFISIER MAJ. R. ALBRECHT

DIE ENGELSE HET IN TOTAAL 400,000 TROEPE TEEN DIE REPUBLIEKE GEBRUIK (AFKOMSTIG VANAF ELKE UITHOEK VAN DIE BRITISH EMPIRE.).

GENERAAL DE LA REY (VAN DIE WES-TRANSVAAL) LAAT MAAK LOOPGRAWE, SOWAT VIER VOET DIEP, OOR DIE OOP VLAKTES, VAN HONDERD TOT TWEEHONDERD TREë VOOR DIE RANTE. DIE UITGEGRAAFDE GROND IS VOOR DIE LOOPGRAWE GEGOOI EN MET BOSSIES EN GRASPOLLE VERMOM SODAT DIE POSISIES VAN DIE BOERE OMTRENT ONSIGBAAR WAS. SNAGS HET DIE BURGERS IN DIE LOOPGRAWE GEWAAK EN SOGGENS VROEG AGTER DIE RANTE GAAN SLAAP WAAR DIE WAARNEMERS IN DIE ENGELSE BALLONNE HULLE GESIEN HET.

DIE BRITSE OPPERBEVEL HET BLOKHUISLINIES LANGS DIE SPOORWEë EN KRUIS EN DWARS DEUR DIE REPUBLIEKE LAAT BOU, EN DIE BOEREMAGTE.. DAARTEEN PROBEER INKRAAL, MAAR DIE BOERE HET MET SOVEEL SUKSES AAN DIE ENGELSE DRYFJAGTE ONTKOM, ONDANKS DIE FEIT DAT DUISENDE ONTROUE BURGERS DIE VYAND AS GIDSE GEDIEN EN HELP VEG HET, EN 00K SOVELE SWARTES EN GEKLEURDES DIE BRITSE STRYDMAG VERSTERK HET, DAT DAAR TEEN DIE EINDE VAN DIE OORLOG NOG RUIM 20,000 BOERESTRYDERS IN DIE VELD WAS, MET WAPENS, SKIETGOED, KLERASIE EN PERDE, MEESTAL VAN DIE VYAND GEBUIT, VAN WIE HULLE OOK DIKWELS DIE NODIGE KOS AFGENEEM HET.

Copyright Suzanne van den Bergh. April 2006.

South African Military History Society / scribe@samilitaryhistory.org